[PODSENDING] Verseker jou finansiële toekoms [Reeks 1 Nommer 9]

29
Wouter Snyman

Of jy van betaaldag tot betaaldag leef of ’n reserwe iewers het, die meeste van ons sou graag ons inkomste wou aanvul. Maar buiten om die baas vir ’n verhoging te vra, hoe doen ek dit?

Die meeste van ons is vertroud met aktiewe inkomste. Dit is geld wat jy, gewoonlik in die werkomgewing, kry in ruil vir jou tyd. Dit sluit onder meer lone, salarisse, fooitjies en kommissie in wat jy verdien deur die verrigting van arbeid of lewering van ’n diens. Dit is ook dié fondse wat jy elke dag spandeer.

Oorweeg verskillende opsies om inkomste te genereer

In sy boek Rich Dad, Poor Dad praat Robert Kiyosaki oor die kontantvloeikwadrant en die vier metodes waarop mense ’n inkomste kan bewerkstellig. Die eerste hiervan is werknemers wat in diens is van ’n werkgewer en ’n salaris ontvang.

Tweedens is mense wat vir hulleself werk. Die derde groep is besigheidseienaars met ander wat vir hulle werk en die vierde is beleggers wat in bates belê en sodoende ’n verdienste genereer.

Ons verdien en spandeer aktiewe inkomste in ons produktiefste jare tot en met aftrede. Ongeag van waar jy jou tans op hierdie reis bevind, is dit belangrik dat jy in die een of ander stadium begin opbou na ’n punt waar jy jou geld kan inspan om ’n passiewe inkomste te skep.

Passiewe inkomste laat jou geld vir jou werk

Passiewe inkomste is inkomste wat min of geen moeite verg om te verdien en in stand te hou nie. Dit beteken jou bates betaal vir jou uitgawes of dat jy jouself kan onderhou met jou dag-tot-dag finansies, hetsy uit huurinkomste of enige bedryfsaktiwiteite waaraan jy nie wesenlik deelneem nie.

Jy kan rente op jou spaargeld of ander beleggings verdien. Aandele en effekte kan vir jou wins genereer sonder dat jy enigiets hoef te doen. Soos jou belegging groei, sal jou geld ook meer word. Jy kan ook ’n besigheid begin of eiendom verhuur.

Die goeie nuus is dat 90% van die welvarendste mense in die wêreld ook hulle reis na rykdom begin het deur vir ’n baas te werk. Wat hulle uitsonderlik maak, is dat hulle die geld wat hulle verdien het, sorgvuldig belê het om ’n passiewe inkomste te genereer.

Hoe bewerkstellig ’n mens addisionele inkomste?

Eerstens moet jy jou uitgawes so laag moontlik hou. ’n Addisionele verdienste tot jou passiewe inkomste is nodig om dit wat jy tans inbring, te vervang. Onthou dat hierdie bedrag minstens 50% meer is as wat jy elke maand nodig het om al jou uitgawes te dek. Dit is om tred te hou met inflasie en nog ekstra kontant oor te hê om te kan belê.

Kyk ook na addisionele maniere om inkomste te genereer. Eerstens moet jy weet waaroor jy beskik wat van waarde vir ander mense kan wees. Waarvoor sal hulle bereid wees om te betaal.

Elkeen van ons het vaardighede of kundigheid.

Miskien is jy goed met blommerangskikking wat jy in jou vrye tyd kan doen. Iemand wat nie self dié behendigheid het nie, is bereid om daarvoor te betaal.

 – WOUTER SNYMAN, Persoonlike finansies en geldsake