[PODSENDING] Wat die Bybel oor jou geldsake sê

277

Het jy geweet daar is 2174 verse in die Bybel wat handel oor geldsake? Meer as 30% van die gelykenisse waaroor Jesus gepraat het en wondere wat Hy gedoen het, het finansies as tema gehad.

Die Bybel sê heelwat oor die vernuftige bestuur van finansies. Ons moet geld spaar, maar nie opgaar nie. Ons moet dit spandeer, maar met oordeelkundigheid en beheer. Ons moet met vreugde teruggee aan die Here deur ons verdienste onder leiding van Sy Gees aan te wend om ander te help.

Bybelse advies oor die bestuur van finansies

Ek het altyd gedink finansies en die Bybel is ver van mekaar verwyderd totdat ek die Woord regtig begin lees het.

Al drie die goed wat ons moet doen om volgens Johannes die Doper gedoop te kan word, handel oor finansies. Toe Jesus met Sagaria, die tollenaar, gepraat het, het die gesprek oor finansies gehandel.

Ons weet dat Salomo, in Bybelse perspektief, baie ryk was. As dertienjarige, het die Here aan hom verskyn en hom gevra: Wat wil jy hê? Toe hy vra vir wysheid, sê die Here vir hom: Ek sal nie net vir jou wysheid gee nie, maar ook rykdom en ’n klomp ander goed.

Spreuke bevat verskeie wyshede van Salomo. In Spreuke 6 praat hy van die eerste uitdaging wat ek en jy het, en dit is skuld. Hy sê die een wat leen, is altyd die slaaf van die een wat aan hom leen. Hoe waar is dit nie?

Moenie die slaaf van die geldskieters word nie

As jy skuld het en die bank verhoog rentekoerse, vra die bankbestuurder nie of dit reg met jou is nie.

Einstein het gesê die impak van saamgestelde rente is die agtste wonder van die wêreld. Dié wat dit ken, verdien dit en dié wat dit nie ken nie, betaal dit. Die geldskieters gaan altyd in beheer wees.

Die enigste manier om dit te verhoed, is om nie skuld te hê nie. Is dit moontlik? Ja. Al wat dit verg is om ’n optimale skuldbestuursprogram te hê, en seker te maak dat jy jou skuld baie vinniger terugbetaal.

Die maklikste is om te weet hoeveel jy skuld. Begin eers om die kleinste skuld vinnig terug te betaal. As jy dit afgehandel het, kan jy die bedrag van daardie paaiement gebruik om die volgende skuld af te betaal, ensovoorts. Jy kan só al jou skuld in die volgende tien jaar terugbetaal.

Om jou finansies oordeelkundig te bestuur verg wysheid

Die tweede verwysing, “Wat jy saai sal jy maai”, is nie net ’n Bybelse perspektief nie, dis ’n natuurwet.

Die Bybel waarsku ons om nie al ons saad op te eet nie, maar daarvan in die grond te sit vir die toekoms. As jy minder uitgawes as inkomste het, is daar ’n surplus. Hierdie surplus is soos saad in die grond.

Hoeveel van jou surplus is jy besig om nou in die grond te sit om iewers in die toekoms die voordeel te kan pluk?

Die meeste van ons weet dat jy nie skuld moet aangaan nie en dat jy geld moet belê vir jou oudag. Maar hoeveel van ons doen dit? Ons het finansiële wysheid nodig.

Dalk dink jy jy weet nie hoe om geld te belê nie. Miskien het jy riglyne en raad daaroor nodig. Kry dan ’n mentor en leer om jou finansies met wysheid te bestuur.


– WOUTER SNYMAN, Persoonlike finansies en geldsake

Vorige artikel[VIDEO] Wat die Bybel oor jou geldsake sê
Volgende artikelLeef gebalanseerd vir ’n geseënde lewe