[VIDEO] Hoe om… ’n verhouding met God te hê

38

Dit is nie altyd die groot traumas wat ons onderkry nie, maar daardie daaglikse bekommernisse. Koester dus elke dag jou verhouding met God, sê LYNETTE BEER.

In die paradys was daar ’n volmaakte verhouding. Adam en Eva het saam met die Skepper in die koel aandwindjie gewandel.

Dit is hoe ons gemaak is – vir saamloop elke dag. Hy is nie geïnteresseerd in net ’n Sondagoggendverhouding nie, maar wil elke dag van die week met jou ’n verhouding hê.

Dis baie interessant dat mense graag naellopers by ’n atletiekbyeenkoms aanmoedig, maar dat stappers nie noodwendig baie aanhangers spog nie.

Dalk omdat hulle vertoning nie so opwindend en skouspelagtig is soos die naellopers s’n nie.

’n Tannie in die aftreeoord trek haar stapskoentjies aan. Sy stap elke dag getrou, maar niemand is opgewonde en moedig haar aan nie.

Tog stap die oumatjie, want sy het die een of ander tyd ’n afspraak met ’n man in ’n wit jas. Dis die dokter wat die toestand van haar hart gaan toets.

Sy doen wat sy moet. Wanneer sy by die dokter kom, gaan haar toetse wys of sy getrou gestap het. Dis daardie gereelde oefensessies wat haar hart en longe sterker maak.

Dit gaan dus nie bloot oor ’n afspraak elke Sondagoggend nie. Dit gaan oor vandag – elke dag. Praat ek met my Vader? Maak ek my hart oop? Is Hy ’n integrale deel van ons familie, die atmosfeer tuis?

Satan is nie bekommerd as ek hier en daar opflikkerings in my geestelike lewe het nie. Hy weet mos ek gaan weer in my ou gewoontes verval.

Hy is erg bekommerd wanneer ek doelbewus elke dag een voet voor die ander sit. Wanneer ek aanhou stap in geloof, bid en tyd in die Woord deurbring. Hy sal enigiets doen om my voetval te keer.

Peter Jenkins skryf in sy boek, A walk across America, van sy ongelooflike ervarings. Hy het in vyf jaar ongeveer 8 000 km met ’n rugsak van 70 kg gestap.

Soms het Peter temperature van tot 49˚C trotseer! Hy is deur diere aangeval, deur slange gepik en deur mense raakgery. Hy is drie keer beroof en met skerp voorwerpe gesteek. Sy hond is doodgery.

Wat was die één ding wat hom wou laat besgee? Sy antwoord: “Sand in my skoene.” Die sandkorreltjies het sy voete rou geskaaf.

Nie baie mense wat ’n slegte doktersverslag kry, sal ophou om ’n geloofspad te stap nie. Sommige stap gewoonlik ná sulke nuus ’n nouer pad met die Here.

Dit is die fyn sandkorreltjies wat in ons geestelike skoene beland wat ons onderkry. Die pyn en seer wat niemand kan sien nie. Elke dag se hartseer, teleurstellings, mislukkings, vrees en bekommernis.

Die hindernisse lyk klein, maar het ’n sterk breekkrag. Dit is belangrik om kennis te neem van enigiets wat jou stap met God beïnvloed.

Die Bybel praat van die klein jakkalsies wat die wingerd verniel – nie die beer, leeu of wolf nie.

Ons dink maklik: Dis in orde as ek nie elke dag Bybel lees nie. Óf: Ek hoef nie gereeld te bid nie, ek gaan mos Sondag kerk toe.

Wanneer ’n mens nalaat om hierdie klein dingetjies te doen, raak dit moeiliker om in geloof aan te hou. Vrees, angs en bekommernis oorweldig jou.

Wanneer ek dink ek kan nie meer nie, nooi Jesus: “Kom na My toe …”

Bring al die dinge wat die stres opjaag en jou slaap steel. Die bekommernisse wat jou moeg laat opstaan en bang vir die toekoms maak.

Jou daaglikse stiltetyd is die geleentheid om die sand uit jou skoene te skud voordat jy begin stap. Kom ek en jy stap die geestelike pad in skoon stewels en ons sal nie moeg word nie!