[VIDEO] HOE OM … weer te vertrou

201

Wat doen jy as jy nie weet watter kant toe nie? Jy vra vir hulp! Eerste in gebed. Vervolgens plaas jy jou verlede agter jou deur te vergewe. Dan bou jy vir jou ’n ondersteuningsnetwerk.

Om weer sterk te staan kan jy nie onnodige bagasie saamsleep nie. Jy sal jou tasse vol van gister se pyn en verwyte moet agterlaat.

Die beste wat jy kan doen, is om die tasse oop te maak, die emosies daarin te bekyk en dan tot aksie oor te gaan.

’n Mens maak talle onaangename gebeurtenisse in jou lewe bymekaar. Dit kleef aan jou psige soos mossels aan ’n skip se bodem. Om daarvan ontslae te raak, moet jy elkeen wat jou leed aangedoen het, vryspreek, ongeag wat hulle gedoen het.

Begin deur die bron van die kwaad te vind en dit te herken en te erken. Doen dan alles moontlik om daarvan te herstel. As jy ’n ander vergewe, word jy self van die boeie van jou eie bitterheid losgemaak.

Vee elkeen se rekord skoon. Moenie vashou aan die pynlike herinneringe nie. Vergewe – nie omdat jy so voel nie, want jy sal nooit lus wees om iemand te vergewe nie. Vergewe sodat jou gedagtes vry kan word.

Moenie oornag wonderwerke verwag nie. Hou aan met die vasberadenheid waarmee ’n Olimpiese kampioen voorberei. Jy kan weet jy het iemand vergewe wanneer jy nie meer wil omdraai of wegkruip as jy hulle sien nie.

As jy duisend keer weer moet probeer, moenie moed opgee nie. Jy sal in die proses sterker en wyser word. God se genade sal enduit saam met jou werk.

Verwerping is van die pynlikste traumas wat ’n mens kan beleef. Jy ken mos daardie aanmerkings: “Jy is uselesss”; “Jy sal dit nie maak nie”; “Niemand sal jou tog wil hê nie”.

God wou ons elkeen hier op aarde hê. So, jy kan dus nie verwerp voel nie. Dawid skryf in Psalm 139:13-16 dat God self betrokke was terwyl ons in ons ma se skoot gevorm is. Verstaan jy dat God jou eerste wou hê?

As jy dit nie verstaan nie, kan jy moontlik ook aan ’n gevoel van verwerping ly. Dan begin jy al hierdie ander onnodige, onkundige dinge wat mense jou toesnou, glo. Gryp vandag daardie negatiewe uitlatings oor jou lewe vas. Verban sulke afbrekende gedagtes uit jou lewe.

Verklaar dat God jou wou hê. Jy weet Hy het ’n Goddelike plan met jou, soos met Jeremia, Petrus, Debora, Miriam, Elisabet, en vele ander. Verander jou gedagtes oor jou en hoe jy oor jouself dink.

Neem doelbewus nuwe foto’s vir jou onderbewussyn. Spreek dié gedagteprentjies oor en oor uit. Só kan jou brein ’n nuwe pad volg oor wie jy is. Want dis hoe God jou eintlik bedoel het.

Om jou volle potensiaal te bereik, het jy ondersteuners nodig wat jou aanmoedig, reghelp en ophelp as jy dit die nodigste het. Dis die mense na wie jy kan gaan vir onderskraging, raad en wysheid. Dié wat jy vertrou en na wie jy kan luister.

Maak seker dat jy ’n ondersteuningsnetwerk opbou wat positief op jou lewe inwerk. Dit gaan van jou vra om ontslae te raak van jou maskers. Wees die mens wie jy geskape is om te wees: ’n unieke individu met ’n eie temperament, karakter en persoonlikheid.

Ons het elkeen ’n doel op aarde. Leer jouself ken, vertrou en liefhê sodat jy jou doel kan verwesenlik. Kyk elke dag in die spieël en sê: “Ek is oukei – die mens wat ek veronderstel is om te wees. Ek het foute, maar werk daaraan om myself in Christus te ontdek en sal nooit moed opgee nie. Ek is ’n wenner.”

Vorige artikel[PODSENDING] Moenie uithonger of ooreet nie
Volgende artikelE-funksie terugvoer 2021