[VIDEO] In stil–wees is antwoorde en lesse

70

Om te voel dat jou gebede met stilte en afsydigheid beantwoord word, maak jou eensaamheid ondraaglik. Tog, wanneer God stil is, is daar lesse en antwoorde waarna jy kan soek.

Gelowiges ervaar soms stilte wanneer hulle na hulp smag. Partykeer is die swye sodat ons skerper sal luister. Antwoorde wat só onthul word, wys God se unieke manier van kommunikeer.

Kyk na Elia se verhaal in 1 Konings 19. Ná sy triomf oor die Baälpriesters, kruip Elia onder ’n besembos in. Depressie slaan toe.

Elia het vir sy lewe gevlug tot by die berg Horeb waar hy in ’n grot wegkruip. Dan beveel God hom om op die berg te gaan staan, want die Here wil verbykom.

Só word Elia uitgedaag om sy ore te spits. Hy moes luister vir God se stem. Daar het ’n magtige wind opgesteek. Maar God was nie in die wind nie; ook nie in die aardbewing of vuur wat daarna gevolg het nie.

God verskyn aan Elia in die fluistering in die windstilte wat op die groot lawaai gevolg het. God kies om Hom in die stilte te laat ken.

So ook het Jesus toe Hy hoor dat sy goeie vriend Lasarus siek is, besluit om eers tot stilstand te kom. Hy kies om in stilte en weg van die susters op hulle nood te antwoord. Hy het geweet van die groter plan – dat Lasarus uit die dood opgewek sou word.

Stiltes is dikwels juis die antwoord op ons krisis. Ons kan gewoonlik nie die groter prent raaksien nie en dink dat ons nie gehoor word nie. ’n Mens is so gefokus op jou probleem.

Wanneer jy niks hoor nie, kan dit beteken dat jy na ’n volgende vlak van verstaan geneem gaan word. Om jou vir hierdie onthulling voor te berei, moet daar vir ’n tydjie lank geen afleidings wees nie.

Dis ’n soort woestynstilte. Hiermee kan jou hart en verstand gefokus word op die openbarings wat vir jou kom. Ons kyk soms in die oomblik van swaarkry of onsekerheid vas. Dan verstaan ons nie die groter plan vir ons nie.

Eers met die terugkyk kan ons duidelik sien dat ons nie alleen of eensaam of verlate of verwerp was nie. Dit was Goddelike krag wat ons laat aanhou en uithou het. Daar was hemelse leiding om anderkant uit te kom.

Dis die luister-gedeelte van gebed wat ons nie so lekker regkry nie. Die pratery, die lysies maak en die vra-gedeelte? Dié kom vir ons vanself. Maar om te luister beteken om stil te bly. Jy’s tjoepstil. Jy wag tot jy die antwoord in die stilte kan raak hoor.

Vorige artikel[VIDEO] Hoe om ’n zero–begroting te bestuur
Volgende artikelJy moet die groter prentjie sien