[VIDEO] Jy mág maar huil, dis goed vir jou!

65

Vroue ontken hulle diepste behoeftes, want dis makliker om die pyn weg te steek en aan te gaan. MELISSA VAN BILJON sê jy mág maar huil, want trane maak die hart gesond.

Wat sou jy sê is jou grootste emosionele behoefte? Is dit ’n verlange na intimiteit? ’n Diep konneksie met iemand wat jou verstaan en jou wêreld deel? ’n Soeke na aanvaarding of vertroue? Na sukses?

Baie van ons kan nie hierdie vraag beantwoord nie, want ons is van ons diepste begeertes afgesny.

Dink baie mooi oor wat jou diepste behoeftes en begeertes is. Navorsers sê dat dit baie belangrik is om met jou diepste behoeftes kontak te maak. Dit word die motivering in jou lewe.

Ons is geneig om hierdie deel van ons menswees te vermy, omdat dit ook die plek is waar ons diepste seer en trane lê. Dit is die plek waar ons teleurstellings en pyn ook tuisgaan.

Ons kultuur kondisioneer ons om eerder dinge te kies wat lekker voel. Ons wil nie kwesbaar wees en voel asof ons nie beheer het nie.

As ek my oorgee aan hierdie emosies, waarheen gaan dit my vat? Wat as ek oorweldig word en nie daaruit kan kom nie? Hoe sal dit lyk? Wat sal mense van my dink?

Sekere dinge, soos trane, kan ons nie van weghardloop nie. Ons huil omdat ons verliese ly. Ons verloor sekere dinge in hierdie lewe: jeug, heelheid, ’n verhouding se wittebrood gaan verby.

Jesus het trane goed geken. Daar was die sweepslae, geseling en die spykers wat Sy hande deurboor het …

Maar daar was ook persoonlike verliese. Die verliese van verhoudings, vryheid, drome. Hy was reg, maar word misverstaan; Hy wou help, maar word verwerp. Hy wou Sy lewe met ander deel, maar word uiteindelik deur al Sy vriende verlaat. Hy word geïsoleer en sterf later soos ’n misdadiger.

Ons wil graag die seer verstaan, dit rasionaliseer en iemand daarvoor blameer. In Matteus 5 sê Jesus: “Salig is die wat treur …” Hy wys vir ons ’n ander manier om gesond te word. Toe Lasarus dood is, het Hy gehuil, die verlies gevoel en dit erken.

Ons moet dieselfde doen. In die eerste plek, erken die seer. Die dood. Die ongeluk. Die verhouding wat geëindig het. Die droom wat toe nie gerealiseer het nie. Die besigheid wat misluk.

Voel dan die pyn van daardie verlies. Huil. Ween.

Die trane wat jy stort, word die medisyne waarmee die Gees kan skoonmaak en genees. In daardie weerloosheid vind jy uit dat jy nie alleen is nie. Dat Hy daar is, in die diepste donker.

Ná die opstanding ontmoet Jesus die bedroefde Emmausgangers en vra vir hulle: “Vertel my.” Hy gee om en sê nie “Dis oukei, môre voel jy beter” nie. Nee. Hy huil saam met hulle.

Baiekeer is daar nie woorde om daardie diep seer te verwoord nie. Wat jy dan prakties kan doen, is om die Psalms te bid, nie net te lees nie. Dit gee vir jou woorde en lei jou na jou eie diep emosie.

Wanneer Paulus praat oor verliese en trane nooi hy ons om nie te huil soos iemand sonder hoop nie. Gelowiges huil anders!