[VIDEO] Waardes is wat saak maak!

1199

Sonder goeie geestelike waardes kan ons maklik van die “muur” afval en nie weer aanmekaargesit word nie. Net soos Hompie Kedompie, sê CATHERINE VAN HEERDEN.

Almal ken die rympie van Hompie Kedompie. Dit is ’n tragiese storie met ’n tragiese einde.

Hier is ’n beter einde: Hompie Kedompie sit op die wal. Hompie Kedompie het afgeval. Die koning se soldate kyk verbaas toe hoe Hompie homself weer afstof en regruk …

Jou “muur” kan baie dinge wees: selfvertroue, gesin, huwelik, beroep, vriendskappe, finansies of gesondheid.

Party van ons is besig om op die muur te klim. Of sit reeds daarop. Ander het dalk afgeval en lê aan skerwe. Miskien het jy jouself al bymekaar geskraap.

Jy kyk dalk om jou rond en is op soek na antwoorde. Maar het jy al daaraan gedink dat jy moontlik die verkeerde vrae vra?

Die regte vraag om te vra, is: “Hoe gaan ek dit regkry om myself weer heel te maak?

Die antwoord lê in geestelike waardes. Dinge soos liefde, begrip, deernis, vergifnis, respek, geduld, wysheid, integriteit, humor, vriendelikheid, diensbaarheid.

Galasiërs 5:22 praat van die vrug van die gees. Geestelike waardes is dus die vrug van dit wat in ons harte bewaar word.

Waardes help jou met besluite en baken die gedrag af wat binne-in jou raamwerk pas. Daarsonder kan ons maklik van die “muur” afval en nie weer aanmekaargesit word nie.

God is liefde. Omdat ek na Sy beeld geskape is, is ek ook mos liefde. Wanneer ek liefde vir my gesin wys, dien ek hulle met God se genade en teenwoordigheid.

Die lewe gaan jou soms van die muur afgooi, of dalk stamp iemand jou daarvan af. Die stukkies van jou lewe mag soms lyk asof dit nooit weer ’n eenheid sal kan vorm nie.

Dit is wanneer hoop opdaag en nuwe lewe in jou hartskamers kom inblaas. Hoop anker jou en gee vir jou ’n nuwe perspektief.

God gee ons die opdrag om vir mekaar te bid en vir mekaar in te tree. Dit is goed. Gebed kan egter nie die besluit vir jou neem om jouself weer “gesond” te maak nie. Jy is vir jouself verantwoordelik.

Ja, dit is moeilik. Dit is seer. Dit is nie wat jy verwag het, gaan gebeur nie.

Jy kan ’n gevangene bly van hoe jy van die muur afgeval het en niemand kan jou beter maak nie. Of jy kan besluit dat jy ’n verskil gaan maak waar jy leef en beweeg – in jou gesin, by die werk, tussen vriendinne.

Die waardes wat jy koester, kan slegs iets beteken indien jy dit uitleef. Nie wanneer jy net daarvan praat nie en ook nie wanneer jy net wens dinge kan verander nie.

Jy gaan dalk baiekeer van verskeie mure afval. Dit is maklik om die muur te kritiseer. Of jouself te bevraagteken. Of vir ander kwaad te raak omdat hulle jou nie wil help nie.

Vra eerder vir moed, krag, wysheid en die begeerte om deur jou geestelike waardes jouself weer aanmekaar te sit. Sodat jy vir jou gesin die hartklop kan wees.