[VIDEO] Wanneer jy nie goed genoeg voel nie

314

Jy het ’n wonderlike gesin, ’n goeie werk en ’n gerieflike huis. Tog voel jy steeds nie goed genoeg nie. Groot geloofshelde het egter nie sukses behaal deur in hulleself te glo nie, sê JACOBUS SILWER.

Niemand word gebore om minderwaardig te voel nie. Sekere ervarings en die emosies wat daarmee saamgaan, het hierdie gevoelens in jou wakker gemaak.

Verder skreeu die wêreld “identiteit”. Ons is die hele tyd onder druk om “goed genoeg”, “mooi genoeg” en “ryk genoeg” te wees.

As jy “goed genoeg” wil wees, sal jy mense se aanvaarding soek. As jy “mooi genoeg” wil wees, sal jy ure in salonne bestee. As jy “ryk genoeg” wil wees, sal jy besittings bymekaarmaak.

So dryf die “genoeg” ons om iets te wees en word. Identiteit is wel belangrik, nie om jou status in die samelewing te verbeter nie, maar om jou rigting te bepaal.

Die natuur se slagspreuk is: “Survival of the fittest.” ’n Spel waar die oues en die swakkes afgemaai word sodat net die sterkstes oorbly om aan te gaan.

Woorde soos bemoediging, barmhartigheid en liefde het in hierdie spel geen waarde nie. Hier moet jy in jouself glo en jouself sterker maak.

Die Woord leer egter anders. Jesus sê dat hy wat die grootste wil wees, die kleinste moet word.

Die uitgeworpe Josef word later ’n magtige heerser. Ondanks Moses se spraakprobleem word hy die leier van meer as ’n miljoen mense. Nie één van dié mans se sukses is bepaal deur in hulleself te glo nie.

Dit wys net, ons sal die wêreld oorwin met ’n dienende hart. Deur die swakkes te help om die sterkes te word. Van onsself te vergeet en mekaar se pyn te dra.

In jou eie swaarkry sal jou oë oopgaan vir die pyn van ander. Dit is hoe jy kan leer dien. Ware liefde is die afwesigheid van die ek.

As gelowige moet ons na God se Woord kyk om ons identiteit te bepaal. Efesiërs 3:14-19 vra dat ons ons ego sal kruisig en ons aan God onderwerp.

Jy besef dat Hy wat die sonde en die wêreld oorwin het, in jou woon. Sy liefde word jou vastrapplek en jou bron.

Jy ontwaak elke dag met die liefdesroepstem van God wat jou identiteit bevestig: geliefde van die Here!

Dus, hoe moeiliker die tye is waarin jy jouself bevind, hoe harder moet jy juis dan werk. Meer gee, meer doen, meer vir ander beteken. Die belangrikste is om altyd vir hulp en ondersteuning te vra.

Ons kultuur het die idee geskep dat ’n mens altyd in beheer moet wees. Dat jy altyd die antwoorde moet hê en sterk moet wees.

Tog werk dit anders: Jou sukses is ook gebou op mense wat jou help dra.

Moet nooit jou verlede as verskoning gebruik nie. Moenie wag vir geleenthede om na jou toe te kom nie. Jaag elke droom, passie of geleentheid na asof dit reeds ’n realiteit is.

Wees eerder die persoon wat probeer en dalk misluk as die persoon wat steeds wonder oor wat kon gebeur het.

Vorige artikelIs ’n mens se sterfdatum vooraf bepaal?
Volgende artikelDaleen Boshoff: “Ek kry my troos tussen dobbelmasjiene”