[VIDEO] Geestelike groei bring verantwoordelikheid mee

228

Met elke seisoen van jou lewe is daar geleentheid vir geestelike groei. Die vrug van die Gees ontwikkel in jou. God laat jou toe om te bloei en te blom. Maar dit bring ook verantwoordelikheid mee.

Jy moet elke groeitydperk voltooi. Jy moet alles beleef en leer wat vir jou bedoel is om ten volle te ontwikkel. Daarna kan jy die volgende jaargety binnegaan. Dan weet God ook dat jy die nuwe seisoen met nuwe uitdagings sal kan hanteer!

Dit is jou verantwoordelikheid om elke eienskap wat jy ontvang het, te ontwikkel en te gebruik. Dit gebeur wanneer jy toelaat dat die Heilige Gees karaktertrekke in jou vestig. Hierdie kenmerke gaan jou maak wie jy veronderstel is om te wees.

So gaan daar tye wees waar jy voor uitdagings te staan gaan kom. Situasies waar jy ’n besluit gaan moet neem en kies tussen die maklike of die eerbare opsie.

Dit is hier waar deugde soos onkreukbaarheid en opregtheid ter sprake kom. Dit is hier waar die karakter wat jy met soveel sorg opgebou het na vore gaan kom. Gaan jy gereed wees om in die hitte van die stryd, volgens Sy voorbeeld, nie tou op te gooi nie, maar te volhard en te doen wat van jou verwag word?

Hoe nader ons aan God beweeg, hoe meer sal Sy karakter op ons afgedruk word. Dan sal ons ons waardes en integriteit uitleef.

– Karien Basson, Redakteur Vroue wat Glo

Vorige artikelRedes waarom jy altyd moeg voel
Volgende artikelHoe gemaak met jou kind se ondankbaarheid