[MENTORKLAS VIDEO] Wat doen ek met die leegheid binne my?

43

Elkeen van ons het ’n hunkering binne ons. Sommiges dink dat drank, dwelms, seks, roem, besittings of geld hierdie leemte kan vul. Maar net Een kan ware vrede en vervulling bring.

Dit maak nie saak hoeveel plaasvervangers jy probeer nie – net God kan op die ou einde daardie smagting na heelwording beantwoord.

Het jy geweet jy het ’n God-kol?

Kenners reken dat ons ’n area in ons brein het wat net aktief raak wanneer jy met geloofsdinge te doen het. Hulle noem dit die God-kol. Ek dink dit dui daarop dat ons geskep is met ’n verlange, ’n soeke na Hom. En net Hy kan ons heel laat voel en vir ons ware vrede gee.

Voor jy trou, dink jy dikwels dat jy “die een” soek wat jou sal vervul. Dié persoon wat jou heel gaan laat voel. Min besef jy dat daardie Een met ’n hoofletter geskryf word.

Of miskien dink jy dat jy dit in jouself kan vind. Ek het onlangs met ’n skok gehoor dat iemand beweer die nuwe Drie-eenheid is nie meer Vader, Seun en Heilige Gees nie. Dit is nou me, myself, and I.

Maar nie jou lewensmaat of jyself of enige rykdom of weelde kan dit doen nie. Ware vrede, heelheid en vervulling kom slegs uit een bron.

Al wat ware vervulling bring is God

Ek dink altyd aan die gedeelte in die Bybel wat vertel toe Jesus vir Petrus geroep het om Sy dissipel te word. Petrus, ’n visserman, het pas op die oewer van die See van Galilea aangekom. Jesus het gesien hy het niks gevang nie. Die nette was leeg.

Hy sê toe vir Petrus om weer in te gaan en die nette uit te gooi. Petrus het seker gewonder watse rabbi hierdie is wat dink hy weet iets van visvang. Maar hy was gehoorsaam en het dit gedoen.

En toe gebeur ’n wonderwerk! Hy vang soveel vis dat die nette wou skeur. Petrus het seker gedink: “Jesus stap in my lewe in en my besigheid bars uit sy nate. Jesus bring sukses!”

Soms woed die lewenstorms so hewig dat ons begin twyfel of ons teen die branders van vrees en bekommernis kan staande bly. Maar dan sê Jesus: “Los alles en volg My.”

Daar is meer aan die lewe as net sukses …

Sy vrede gaan alle verstand te bowe

Die wete dat jy ’n sterk bankrekening, goeie gesondheid, ’n mooi huis of ’n duur kar het, bring wêreldse vrede. Jesus se vrede is anders as wêreldse vrede.

Sy vrede gaan alle verstand te bowe. Jou lewe kan in chaos wees en uitmekaar val. Tog is dié vrede jou beskore, maar jy sal dit net by Sy voete vind.

Dawid sê dit so mooi in Psalm 51 wanneer hy bely en sy owerspel met Batseba erken. Hy sê: Here, dit het my vreugde weggeneem, dit het my vrede weggeneem. Ek soek weer vreugde. Gee my ’n rein hart, vergewe my, God.

En dan ontvang hy vergifnis en het hy weer die vrede en vreugde waarna hy gesmag het.

– LIESEL KRAUSE-WIID, Geloofsgroei, berading en gesinsterapie