[VIDEO] Verander die dinge waaroor jy beheer het

208

Soms voel dit vir jou of jou omstandighede nooit gaan verander nie. Én daar ís baie dinge waaroor jy nie beheer het nie. Iets wat wel binne jou vermoë is om te verander, is jouself.

Miskien kan jy nie ’n oplossing vind om jou huwelik weer op dreef te kry nie. Dalk het jou kind die pad byster geraak. Óf jy het finansiële skuld wat jou wil oorweldig. Dit laat jou waarskynlik vasgevang voel. Asof jy jou teen ’n muur in ’n doodloopstraat vasgeloop het.

Die enigste mens wat jy kan verander, is jouself

Ons het nie beheer oor alles en almal om ons nie. Jy kan nie jou man of jou kind of jou werkgewer verander nie. Die enigste mens oor wie jy beheer het, is jouself. So, jy kan iets doen. Jy kan verander.

Wanneer ek vind dat verandering nodig is, is daar ’n paar dinge wat ek doen om weer beheer te neem en stabiliteit te kry. ’n Paar geloofsgewoontes wat my in my onseker tye help en ’n bietjie sekerheid gee.

Een van die eerste dinge wat ek doen, is om my lewe in oënskou te neem. Dis mos wat ’n krisis doen. Dit ruk jou tot stilstand en laat jou vorentoe en agtertoe kyk. Dit laat jou vra: “Is ek op die regte plek?” Want partykeer klim ’n mens ʼn lewensleer uit en eers as jy bo kom, besef jy die leer was teen die verkeerde muur.

’n Krisis verander jou ten goede of ten kwade

Ek besin oor my lewe en vra my af: “Oor 2 of 10 of 20 jaar, hoe gaan ek toelaat dat hierdie slegte omstandighede waarin ek nou is, my verander?

’n Krisis verander jou. Jy gaan óf bitter daaruit stap óf jy gaan beter daaruit stap. Hoe wil jy hê moet jou prentjie lyk? Dink byvoorbeeld aan jou verhouding met God. Die krisis laat jou dalk besef jou verhouding met God is nie wat dit moet wees nie.

Óf dit laat jou anders na jou verhouding met jou kinders of jou huweliksmaat kyk. Dalk sit jy nou in finansiële skuld en besef jy jy moenie altyd alles koop wat jou hart begeer nie. Hoe gaan jy toelaat dat dit wat jy nou beleef jou in die toekoms ten goede verander?

As jy slegte tye beleef, kyk vorentoe. Besef dat die pyn wat jy ervaar, jou sal laat ontwikkel en groei.

Verander jou uitkyk en fokus op jou seëninge

Navorsing toon dat dit wat ons eerste in die oggend en heel laaste in die aand doen, voordat ons gaan slaap, ’n reuse-impak op ons lewe het. Maak tyd om in die oggend en aand saam met God te spandeer – veral in ’n krisis.

Psalm 92:2 sê: “Dis goed om die Here te loof, om U naam te besing Allerhoogste, om elke môre van U liefde te getuig en elke aand van U trou”.

Begin deur vir die Here dankie te sê vir ’n dak oor jou kop, vir ’n lekker nagrus, vir kos op die tafel. Begin jou dag deur Hom te loof. Sluit jou dag af deur God se woord te lees of na mooi musiek te luister.

Leef dankbaar. Fokus op dít wat jy het. Beveg negatiewe gedagtes. Ryk uit na ander mense. Die oomblik wanneer jy die fokus van jouself afhaal, ontvang jy die geskenk van sy vreugde en vrede.

– LIESEL KRAUSE-WIID, Geloofsgroei en gesinsterapie

Vorige artikelSpan jou gedagtes in om die vetjies af te skud
Volgende artikel[PODSENDING] Verander die dinge waaroor jy beheer het