[VIDEO] Praat, al maak dit seer [Reeks 1 Nommer 4]

1319

Anél en Dewald Wasserfall weet dat goeie kommunikasie belangrik is vir hulle huwelik, en dat die geheim daarin lê om openhartig te praat, selfs oor moeilike onderwerpe.

Niemand sal stry dat om eerlik met jou huweliksmaat te praat ’n sleutel tot ’n suksesvolle huwelik is nie. Sommige gesprekke is egter moeilik om te voer. Dit is makliker om by ’n vriendin af te pak oor iets wat manlief verkeerd gedoen het. Die hele vriendekring weet later presies hoekom jy omgekrap is behalwe die een persoon wat eintlik moet weet.

Dewald is ’n baie gewilde sanger. Waar hy en Anél saam is, is die liefde en passie tussen hulle opvallend. Soos enige ander paartjie sit hulle egter ook soms vas. “Hy laat graag sy goed rondlê, iets wat my geduld redelik beproef. Ek hou van goed op hulle plek – as jy ’n ding gebruik het, moet dit weer op sy plek gebêre word. Dit het al telkemale ’n mini-oorlog tussen ons veroorsaak, totdat ek besef het dat ek eerlik met hom daaroor moet gesels.” Hulle stry ook gereeld oor waar om aandete te eet, maar oor die dinge wat pla, het hulle gou geleer dat uitpraat die beste strategie is. Niks anders help tog nie. Al is dit moeilik om met jou maat te praat oor die dinge wat seermaak, onderskat paartjies die waarde daarvan. Dit is ’n geleentheid vir julle albei om te groei en dalk iets nuuts omtrent jou maat te ontdek.

“Dit is belangrik om oop en eerlike gesprekke met jou man of vrou te kan voer. Anél is beslis die leier hier en sal aandring daarop dat moeilike dinge uitgepraat word, voor dit iets groters of ernstigers word,” sê Dewald. Anél se benadering tot hierdie tipe gesprek is om sensitief te wees vir jou maat se gevoelens. “Jy en jou man is ên span – julle speel daagliks ’n wedstryd teen die res van die wêreld. Om aanvallend of neerhalend te wees teenoor jou spanmaat is nie die antwoord nie. As jy hom geliefd laat voel, hom help en ondersteun, sal dit hom motiveer om die beste medespeler vir jou te wees.”

Niemand hou daarvan om te hoor wat hulle verkeerd doen nie. Dit vat mos maar aan die ego en dit is juis hoekom jou benadering in hierdie situasie belangrik is. “Respek speel ’n groot rol en as jy jouself daaraan herinner dat jy ook vol foute is, sal die gesprek heel waarskynlik baie goed verloop.”

Die Wasserfalls se raad vir paartjies wat sukkel om oor die moeilike dinge te praat. is eenvoudig: “As jy baie ontstig is oor iets wat hy of sy gedoen het, bedaar en word kalm. Moet onder geen omstandighede ooremosioneel optree en goed sê waaroor jy later kan spyt wees nie. Die heel belangrikste is om nie te probeer verwyt, vinger te wys of die ander persoon seer te maak met jou woorde nie,” verduidelik Anél.

“Ja, daar is eintlik nooit ’n wenner nie. As een van julle wen, dan het albei verloor. Soos ons gesê het, julle is mos ’n span, so, ondersteuning is belangrik,” voeg Dewald by.

Dit is duidelik dat Anél en Dewald se uitpraatstrategie vir hulle werk en keer op keer ’n skermutseling afweer. Natuurlik het hulle hierdie vaardigheid mettertyd aangeleer en verfyn. “Die geheim lêin die konneksie wat jy met jou maat moet behou. Al is dit nie altyd lekker en ligte gesprekke nie, moet net nooit ophou gesels nie,” is hulle slotsom.

Vorige artikel[PODSENDING] Skep die lewe wat jy graag wil hê [Reeks 1 Nommer 3]
Volgende artikelDie 7 grootste issues oor seks