[VIDEO] Pak gesonde kosblikke met min moeite

81

Kosblikke is belangrik vir hope energie en om jou en jou hele gesin se brein vlymskerp hou. Raak opgewonde oor kosblikke pak. Met ʼn bietjie beplanning kan jy met min moeite die perfekte kosblik pak.

Om vyf dae van die week gesonde kosblikke vir die hele gesin te pak, is nie altyd ’n maklike taak nie. Ons hardloop uit idees en dit vat veels te lank om alles voor te berei.

Volg ’n gesonde formule wanneer jy kosblikke pak

Dit is belangrik om jou, jou man en jou kinders se behoeftes in ag te neem wanneer jy almal se kosblikke pak. Is jou kinders baie aktief? Het een van julle ʼn weerstandigheid vir sekere kosse?

Die formule is eenvoudig, en dit is nie net vir ’n kosblik nie, maar ook vir jou bord …

Pak die helfte van die kosblik vol kleurvolle groente en vrugte (wat in die seisoen beskikbaar is). Dan moet ’n kwart van jou kosblik komplekse koolhidrate bevat. Die ander kwart moet met proteïne gevul word. Dit kan plantproteïene of diereproteïene wees.

’n Gesonde vet is ook altyd ’n goeie idee. En moet natuurlik nie van water vergeet nie.

Onthou, jy kan vir jouself ook ’n kosblik pak, al werk jy van die huis af.

Hou jou kosblikke so eenvoudig as moontlik

Wanneer jy op groente moet besluit, kyk byvoorbeeld na klein worteltjies, komkommer, tamaties, ertjies, mielies, suikerertjies, soetrissies of avokadopeer. Dit is maklik en eenvoudig om in te pak.

Wanneer jy vrugte kies, is dit belangrik om te kyk wat in die seisoen beskikbaar is. Vrugte soos naartjies, appels, piesangs en druiwe is altyd ’n goeie keuse.

Saamgestelde koolhidrate is kossoorte soos hawermout, quinoa, saadkoekies, soetpatat, ’n gehalte-broodjie, ryskoekie of tuisgebakte piesangbrood.

Vir jou proteïne kan jy hoemoes, kekerertjies, droëwors, biltong, frikkadelle, of selfs neutbotter inpak.

Gesonde vette is iets soos avokadopeer, neutbotter, sade of neute. Jy kan ook kyk na jogurt, kaas of kokosneut.

Kies kleurvolle en prettige gesonde alternatiewe

Maak vir jou ’n lys met al jou opsies. Maak seker dat jy dit alles in jou huis vir die week het. Kies kos wat so min as moontlik voorbereiding nodig het. Kry sommer almal in die gesin om jou te help.

As dit by gesonde alternatiewe kom, kies dit só dat jou kind nie voel hy of sy loop iets lekkers mis nie.

Maak seker jy kies ’n gehalte-broodjie, springmielies, donker sjokolade en lekkers met goeie estanddele.

Pak soetpatatskyfies, hoemoes of lensieskyfies in. Daar is soveel lekker alternatiewe. Hou die kosblik kleurvol en pret!

Oorweeg die bento-styl wat die Japannese gebruik. Dit bestaan uit verskillende afdelings op die bord of in die kosblik. Gebruik dié formule daagliks om alles in die regte afdelings te pak. Jou proteïene kom byvoorbeeld in dieselfde afdeling, jou koolhidrate in dieselfde afdeling en so ook jou vrugte en groente. Só, bly dit lekker eenvoudig.

– MINETTE VISSER, holistiese gesondheids- en welstandsafrigter

Vorige artikelLaat jou kinders hulle eie probleme oplos
Volgende artikelWerk saam deur moeilike tye in julle huwelik