Moet ek ’n fiksheidstoestel (fitness tracker) kry?

120

Van treë-telling en hartklop tot oefenvlak en herstel, fiksheidstoestelle vertel ons meer van onsself as wat ons gedink het moontlik was.

Ons is almal bewus dat gereelde oefensessies kroniese siektetoestande kan voorkom en algehele gesondheid kan verbeter. Ons motivering is egter gewoonlik die grootste struikelblok. Baie van ons is ook nie bewus van ons lae aktiwiteitsvlak nie.

’n Toestelletjie wat jy om die arm dra, kan hier baie voordelig wees. Navorsing het getoon dat treë-tellings- en aktiwiteitsaanmanings ’n beduidende invloed op ons motivering het om te oefen.

’n Aanduiding van die aktiwiteite wat jy reeds vir die dag voltooi het, spoor jou aan om meer aktief te wees. As jou mikpunt byvoorbeeld 10 000 treë is, dryf daardie regmerkie aan die einde van die dag jou om dit te bereik.

Die toestel kan selfs rekord hou van die aantal kalorieë wat jy deur die dag verbruik, wat onbewustelik voedselinname kan help beheer. Hoewel dit miskien nie 100% akkuraat is nie, sal dit mettertyd meer konsekwent raak.

Die kalorietelling kan jou help om meer aktief te wil wees. Dit kan veral nuttig wees tydens ’n dieetperiode wanneer ’n persoon se algehele aktiwiteitskalorieverbruik verlaag.

Of jy dus ’n beginner is wat aanmoediging nodig het om te beweeg of ’n fiksheidsveteraan wat meer gevorderde data verlang, so ’n toestel sal beslis voordelig wees.

– Marijke Cilliers, persoonlike afrigter

Vorige artikel[PODSENDING] Moenie bang wees om jouself te wees nie [Reeks 1 Nommer 7]
Volgende artikelHYKIE BERG: “Al doen ons wat, God laat ons nie gaan nie”