[VIDEO] Moet ek oefen met weerstand? [REEKS 1 NOMMER 11]

100

Weerstandsbande is veelsydig, gemaklik en veilig om te gebruik. Hulle bied soortgelyke spierkragontwikkeling as gewigsmasjiene en gewigte en is ideaal vir diegene wat tuis wil oefen of graag wil oefen wanneer hulle reis.

Dié elastiese toestelle (lateks- of plastiekrekke, bande of buise), ook genoem Thera-bande, word vir kragoefening gebruik. Hulle word ook soms in fisioterapie aangewend vir die geleidelike opbou en herstel ná byvoorbeeld spierbeserings, of hartkondisies.

Hoewel hulle nie ’n tradisionele gewigoptelprogram kan vervang vir optimale kragontwikkeling en om spiergrootte te verbeter nie, bied hulle ’n goeie alternatief.

Om die beste resultate te verkry, moet die bande reg hanteer word. Werk voor ’n spieël of met jou rug teen ’n muur om te verseker dat jou postuur korrek is. Hou jou rug regop, skouers en heupe in lyn en maagspiere geaktiveer om beserings te voorkom.

Oefensessies met ’n relatiewe lae intensiteit en stelle van 10-30+ herhalings word aanbeveel. Dit is belangrik om pouses van ’n paar sekondes in te bou tydens piekkontraksie met die konsentriese bewegings (wanneer die spier saamtrek) en dan stadig en gekontroleerd terug te keer tydens die eksentriese fase (wanneer die spier ontspan).

Vul jou sessie aan met ander tegnieke, soos tricep dips, verskillende opstote, maagoefeninge en variasies van hurke en gluteo-brûe.

Hierdie eenvoudige oefeninstrumente is volop en kan maklik en goedkoop bekom word. Kyk uit vir dié wat handvatsels het en goeie weerstand bied. ’n Band wat jy om jou bene kan sit, kan ook wonders vir jou onderlyf doen.

Pak die rekke in jou tas vir jou volgende wegbreek en oefen maklik enige plek of tyd – selfs voor die televisie!

–Marijke Cilliers, persoonlike afrigter