[VIDEO] Moet ek oefen vir gewigsverlies? [REEKS 1 NOMMER 10]

1470

Sou ons nie almal graag net ’n towerstaffie wou swaai om van daardie ekstra gewig ontslae te raak nie?

Wie van ons wil nie iewers in ons lewe ’n paar kilo’s afskud en weer fiks en viets daarna uitsien nie? Die eerste stap is gewoonlik om ’n eetplan te gryp en van al die versoekings in die koskaste ontslae te raak. Oefening is vir baie mense laaste op die lysie en pas ook nie in almal se skedule nie.

Jy kan wel gewig verloor deur net reg te eet, maar ’n meer aktiewe leefstyl hou heelwat voordele in. Die mees ooglopende hiervan is dat dit jou totale daaglikse energieverbruik en metabolisme verhoog.

Oefening verlaag ook liggaamsvet se vasgestelde punt. Dit beteken dat selfs as jy weer gewig optel, dit waarskynlik minder sal wees as wat dit sou wees as jy nie geoefen het nie.

Daarbenewens wys navorsing ook dat gereelde inspanning hongerseine en voedselinname in die ná-dieetfase verminder. Dit dra by tot verbeterde insuliensensitiwiteit, bloedlipiede, bloeddruk, kardiovaskulêre gesondheid en nog vele meer.

Kragoefeninge vermeerder spiermassa wat jou algehele energieverbruik sal verhoog. Hoë-intensiteit oefening vermeerder kalorieverbranding lank ná jou oefensessie.

Om gewig te verloor, moet jou kalorie-inname minder wees as wat jy verbruik. Om te verhoed dat jy te honger raak, is dit beter om terselfdertyd ekstra oefening by te voeg.

Moenie oefening net met ’n gimnasiumlidmaatskap vereenselwig nie. Dit kan enige aktiwiteit wees wat volhoubaar is en wat jy geniet. Begin met net drie sessies van 30 minute per week en jy sal binnekort die gesonde vrugte pluk!

–Marijke Cilliers, persoonlike afrigter