[PODSENDING] Die kalorieë in drankies kan gewigsverlies strem

94

Jy mag dalk voel dat jy die meeste van die tyd gesond eet. Jy volg immers ’n gebalanseerde dieet wat onverfynde koolhidrate soos volgraanbrood insluit. Jy eet ook genoeg vrugte en groente, en gee voorkeur aan maer vleissnitte, vis en goeie vette.

Jy let selfs op na jou porsiegroottes, maar steeds wil die gewig net nie afkom nie!

Pasop dat jy nie kalorieë drink nie

Baie mense vergeet om te kyk na die drankies wat hulle nuttig. Die meeste koeldranke is propvol suiker. Dit is daarom belangrik om die regte vloeistowwe te kies.

Mense wat gereeld drankies drink wat baie suiker bevat, voel nie noodwendig so vinnig versadig nie. As hulle egter dieselfde hoeveelheid kalorieë in die vorm van kos ingeneem het, sou hulle baie vinniger ’n versadigingspunt bereik het.

Drankies met ’n hoë suikerinhoud hou verskeie gesondheidsgevare vir ’n mens in. Dit kan onder meer lei tot vetsugtigheid, tipe 2-diabetes, hartsiektes asook metaboliese sindroom.

Ouers moet daarteen waak om vir hulle kinders gereeld koeldranke te gee wat suiker bevat. Dit sal voorkom dat hulle eendag siektes, eie aan dié soort leefstyl, ontwikkel. Buig daarom die boompie terwyl hy jonk is.

Lepels vol suiker skuil in koeldranke en cuppuccino

Die meeste gas- en aanmaakkoeldranke, vrugtesap, ystee, gegeurde water, energiedrankies en warmsjokolade is drankies met ’n baie hoë suikerinhoud. Koffie- of gegeurde cappuccino-sakkies en kina- (tonic) water moet eerder ook vermy word.

Baie mense dink dat 100%-vrugtesap geen suiker bevat nie en daarom nie gewigstoename sal veroorsaak nie. Daar mag nou wel geen bygevoegde suiker in hierdie soort vrugtesap wees nie, maar dit bevat steeds natuurlike suiker. Dit staan bekend as fruktose.

Daarom kan hierdie oënskynlik gesonde drankie steeds tot gewigstoename lei. Goeie raad as jy wel vrugtesap geniet, is om jou glas net tot in die helfte daarmee te vul. Gooi dit dan verder vol met water.

Dit is belangrik om te weet hoe om die inligting op etikette te interpreteer. Let op die hoeveelheid suiker wat op die etiket aangedui word. ’n Goeie idee is om uit te werk hoeveel lepels suiker in die koeldrank is wat jy oorweeg om te koop.

Een teelepel suiker is gelykstaande aan 5 gram.

Water bly die gesondste om te drink

Suiwer water bly steeds die beste bron om in jou vloeistofbehoeftes te voorsien. Nogtans verkies baie mense dit om eerder vloeistowwe in die vorm van koeldrank, koffie of tee in te neem.

As jy nie van suiwer water hou nie, kan jy suikervrye gegeurde water oorweeg. Geur sommer self jou water met skyfies suurlemoen, komkommer, aarbeie, lemoene of nartjies. Mintblare kan ook ’n vars geur en smaak verskaf.

Suikervrye gas- en aanmaakkoeldranke, suikervrye ystee, koffie en tee met min of geen suiker en suikervrye tonic-water is ook veiliger keuses. Wees ook maar versigtig vir alkohol. Suikervrye of laekalorie-alkoholiese drankies moet eerder voorkeur geniet.

Alkohol bevat baie kalorieë. Dit is daarom belangrik om mooi te let op drankies wat jy eerder in matigheid wil geniet. Dit is altyd beter om die light of alkoholvrye weergawe te koop. Meng sterk drank soos vodka of brandewyn, met suikervrye gaskoeldranke.

Neem elke dag slim besluite. Nie net oor wat jy eet nie, maar ook oor die vloeistowwe wat jy inneem. Dit mag jou dalk net help om daardie laaste paar hardnekkige kilogramme af te skud.

– CHARLOTTE VAN WYK, kliniese dieetkundige