[VIDEO] Help jou kind om stres te hanteer

221

Volgens navorsing is die belangrikste faktor wat ʼn kind ná teëspoed en trauma help om te herstel, die ondersteuning van ’n emosioneel intelligente ouer of volwassene wat omgee en wat die kind se ontwikkeling aanmoedig.

Het jy geweet wat die eerste ding is wat jou kind doen as ’n ramp gebeur of wanneer hy onseker voel? Hy kyk na jou en die ander belangrike volwassenes in sy lewe – dalk ’n ouma of ’n juffrou. Hy kyk na ons om te bepaal hoe veilig hy voel.

Jou voorbeeld bou jou kind se streshanteringsvaardighede,/h3>

Ontwikkelingsielkundiges bestudeer al vir die afgelope 100 jaar die effek wat rampe soos die Groot Depressie, orkaan Katrina en die 9/11-aanvalle op families en kinders het. Die Covid-19-pandemie het vir navorsers nuwe studiemateriaal gegee.

Hulle het bevind dat sommige kinders wat tragedies, oorloë en ander sosiale krisisse oorleef het, in staat is om terug te bons ná teëspoed en trauma. Hulle ontwikkel streshanteringsvaardighede en weerbaarheid wat hulle emosionele welstand positief beïnvloed.

Ons kinders is nie blind vir wat in die wêreld rondom hulle aangaan nie. Hulle sien en hoor wat in die nuus aangaan. En hoe ons daarop reageer. Hulle sien die verandering buite die huis (soos mense wat maskers moet dra).

Hulle hoor wat ons sê. Daar waar jy in die winkel toustaan. Of vir jou vriendin. En ook wat hulle maats sê. Dit wat hulle sien en hoor, gaan lê in hulle harte.

Wees sensitief vir wat jou kind sien en hoor

Hoe nader kinders aan die gebeure is, byvoorbeeld wanneer hulle self siek word, iemand aan die dood afstaan of honger ly, hoe groter is die risiko vir emosionele probleme. Ons moet daarom sensitief wees oor wat ons kinders sien en hoor en dit tot ’n mate probeer beheer.

So behoort ons vir kleuters en laerskoolkinders ’n paar eenvoudige feite oor die pandemie te vertel. Gesels oor hoekom ons maskers moet dra, nie aan maatjies moet vat nie en gereeld ons hande moet was, sonder om te veel uit te wei.

Tieners sal waarskynlik meer wil weet oor die situasie waaraan hulle blootgestel word en wat die gevolge daarvan vir hulle gaan wees.
Wees egter nog steeds versigtig om hulle nie met onnodige detail op te saal nie.

Stel hulle gerus deur self kalm te bly

Sensitiewe en empatiese tieners kan oorweldig voel en selfs angs ervaar. Wees daarom gereed met inligting oor die voorsorgmaatreëls wat julle sal tref om julle as gesin veilig te hou. En ook voorstelle oor hoe julle ander kan help.

As die volwassenes wat rondom hulle is, kalm optree – veral in tye van stres en onsekerheid – word die kinders ook kalm. As die volwassenes ontsteld is, voel die kinders onseker en onveilig.

Dan ervaar hulle brein en liggaam ’n stresrespons. Indien die respons te lank aanhou, ly die kind se fisieke en emosionele welstand daaronder.

Die pandemie van 2020 het ons almal waardevolle lesse geleer. As ons ons kinders kan help om dit wat hulle voel en ervaar te oorkom, sal dit lesse wees wat hulle suksesvolle, weerbare volwassenes sal maak.

Wys elke dag vir jou kinders hoeveel daar is om voor dankbaar te wees. Maak seker hulle weet hulle is nie alleen nie.

– LIZANNE DU PLESSIS, Kinderontwikkeling en ouerskapkwessies

Vorige artikel[PODSENDING] Gelowiges moet as één funksioneer
Volgende artikelWat jou arms, hande, voete en bene verklap