[VIDEO] Help ontwikkel jou kind se brein

57

Dit is ’n voorreg om te sien hoe jou kleinding se brein ontwikkel. Maar moenie net ’n toeskouer wees nie. Pas gesonde gewoontes toe om jou kind te help om ’n slim brein te ontwikkel.

Die brein is ’n wonderlike orgaan. Jou kind se brein beheer sy hele lewe, sy motoriese vaardighede, sy taalontwikkeling, emosies, verbeelding en sosiale vaardighede.

Bou ’n sterk fondasie vir jou kind se breinontwikkeling

Jou baba se brein is die enigste orgaan wat nog nie voltooi is wanneer hy of sy gebore word nie. Daar is meer as ’n miljard selle reeds gevorm, maar die paadjies tussen hierdie selle moet nog gevorm en versterk word.

Ons kan die ontwikkeling van ’n brein vergelyk met ’n huis wat gebou word. ’n Huis het ’n sterk fondasie nodig om die mure en die dak te dra. Net so het die brein ’n sterk fondasie nodig waarop leer en ontwikkeling kan plaasvind.

Jou ouerskapstyl, die omgewing en die aktiwiteite waaraan jy jou kind blootstel, veral in die eerste paar jare van sy lewe, het ’n massiewe invloed op hoe sy brein ontwikkel.

Jou kind se brein het van kleins af voortdurende interaksies nodig. In Engels noem ons dit “serve and return”, soos in tennis. Jy doen of sê iets en jou kind reageer. Dan reageer jy weer, en só gaan dit aan.

Slegte stres kan ’n kind se ontwikkeling strem

Jou kind se breinontwikkeling word negatief beïnvloed wanneer hy of sy aan toksiese of gevaarlike stres blootgestel word.

Goeie soort stres is nodig vir ontwikkeling. Dit is kortstondige stres wat kinders ervaar soos wanneer hulle na ’n nuwe kleuterskool toe gaan of wanneer hulle ’n toets moet skryf.

As daar ’n liefdevolle volwassene is, soos ’n ouma, ’n oupa of ’n onderwyser wat help om jou kind te ondersteun, is dit opbouend vir ’n kind. Maar wanneer ’n kind herhaaldelik aan verwaarlosing, mishandeling, konflik, of ’n tekort aan koestering en liefde blootgestel word, word gesonde breinontwikkeling beïnvloed.

Die wonderlike ding is, wanneer dit kom by die gevaar van toksiese stres op die brein, kan dit slegs een mens neem wat liefdevol, konsekwent en ondersteunend is om die effek van stres op die brein te versag.

Hou jou kind aktief vir ’n gesonder, slimmer brein

Die brein het beweging nodig om te ontwikkel. Gee jou kind hope geleenthede om te speel, aktief te wees, om daardie lyfies te beweeg en met hulle sintuie die wêreld te ontdek. Maak seker die omgewing is veilig sodat jy nie altyd hoef nee te sê of jou kinders dop te hou nie.

Gee geleentheid vir die kind om aktief te dink en probleme op te los. Moenie alles vir jou kind doen nie.

Gee vir hulle die kans om verveeld te wees. Moenie hulle die heeltyd besig hou of iemand betaal om hulle besig te hou nie.

As hulle baie speelgoed het, pak van dit weg en haal dan net een of twee goed op ’n slag uit. Kies speelgoed waarmee ’n mens meer as een ding kan doen, soos byvoorbeeld blokkies, karretjies of poppe.

Moenie vergeet dat ’n gesonde dieet en genoeg slaap ook belangrik is vir gesonde breinontwikkeling nie.

– LIZANNE DU PLESSIS, Kinderontwikkeling en ouerskapkwessies

Vorige artikelVergewe dié wat jou seer maak
Volgende artikelPak gesonde kosblikke met min moeite