[VIDEO] Hoe gemaak as my kind vloekwoorde gebruik? [Reeks 1 Nommer 8]

96

Daar is ’n verskil tussen ’n kind wat dink ’n vloekwoord is maar net nog ’n woord en ’n kind wat jou in die oë kyk en onwelvoeglike uitdrukkings uiter. Hoe hanteer ons dit?

Ons moet honderd maal ons kinders aan “asseblief” en “dankie” herinner. Maar laat daardie lelike woord net een maal uitglip en hulle tel dit onmiddellik op.

Waar kom ons kinders aan vloekwoorde?

Daar is net een verduideliking. Hulle hoor ons dit sê. Of nog erger, dit word vir hulle gesê.

Volwassenes swets en gebruik obseniteite wanneer hulle ontsteld, gefrustreerd, gestres of kwaad is. Dit is juis omdat die terme so met emosie belaai is dat kinders dit optel.

Vloekwoorde versprei soos ’n virus. Daarom gaan jou kind die een of ander tyd iemand ’n knoop hoor los – of dit nou by die huis, die skool of by sy maatjie is. Wat moet ons doen as ons kinders kru taal gebruik?

Moenie dadelik reageer nie. Let mooi op wanneer jou kind lelike taal gebruik en probeer uitvind hoekom hy dit doen. Is dit dalk omdat hy jou dit hoor doen wanneer jy omgekrap raak?

Dalk moet jy eerder ’n wag voor jou mond sit en byvoeglike naamwoorde versigtiger gebruik as jy volgende keer in ’n slegte bui is.

Hoe hanteer ’n ouer lelike taal?

Daar is ook tye wanneer kinders gekruide taal gebruik om te sien hoe die mense om hulle reageer. Of dit nou ’n maatjie is wat lag of een wat stories by die juffrou aandra of jy wat kwaad word en met hom daaroor raas. Hy sal waarskynlik nie daarmee aanhou as die sêding dieselfde reaksie as “bal” of “hond” of “pot” ontlok het nie.

Dit gaan nie help om dié soort gedrag te ignoreer nie. Die kind wil dan juis reaksie ontlok en jou aandag kry. As jy dit nie vir hom gee nie, gaan hy ander maniere soek om dit te kry. Doen daarom juis die teenoorgestelde.

Gee aandag, gee daardie reaksie. Gebruik die interaksie om die band met jou kind te versterk. Maak ’n punt daarvan om doelgerig konneksie-oomblikke in sy dag in te bou. Jy sal sommer gou agterkom dat hy dit nie meer sê nie.

Fokus op konneksie eerder as korreksie

Driejariges is geneig om “toilettaal” te gebruik. Veronderstel jou kind sê die “s”-woord. Duik hom, tel hom in jou arms op, swaai hom in die rondte. Maak ’n grappie daarvan. Sodoende fokus jy op die gedrag van aandag soek en spreek dit deur konneksie aan.

Sodra julle ’n bietjie saam gelag en gespeel het, kan jy ’n bietjie ernstiger raak en sê: “Weet jy wat, in hierdie huis praat ons nie so nie. Dit is nie mooi om sulke woorde te gebruik nie” of “Ek wil nie hoor dat jy dit weer sê nie”.

Nog ’n belangrike ding om te onthou, is om dit nie persoonlik op te neem nie. Onthou, jou kind is nog besig om te leer en te groei en te ontwikkel. Met jou hulp en leiding sal hy vinnig leer dat vloekwoorde en kru taal nie deel is van hoe julle gesin dinge doen nie.

– LIZANNE DU PLESSIS, Kinderontwikkeling, ouerskapkwessies en arbeidsterapie