[VIDEO] Speelareas waar jou kind kan ontwikkel

164

Jong kinders het verskillende speelareas en –aktiwiteite nodig om te kan ontwikkel. Areas waar hulle kalm en rustig kan raak, maar ook plekke waar hulle besige handjies en breintjies kans kan kry om te werk.

Kinders het ’n paar goed nodig om liggaamlik en verstandelik te kan groei. Hulle moet veilig en geborge voel. Hulle moet voel daar is ’n konneksie tussen ons en hulle en tussen hulle en hulle omgewings.

Hulle omgewing, interaksies en aktiwiteite moet ook hulle probleemoplossingsvaardighede en kreatiewe denke stimuleer.

’n Omgewing waar hulle kan oefen om te ontspan

Die dinge wat ons elke dag tot ons beskikking het, kan ons kinders help om daardie belangrike vaardighede te ontwikkel. Daar is heelwat wat ons in ons huise kan doen om hierdie ideale omgewing te skep.

Kinders kan nie kalm word as hulle dit nie in hulle lyfies ervaar nie. As hulle nie weet hoe kalm voel nie, is dit vir hulle baie moeilik om rustig te word.

Dit kan ’n tent wees wat jy in hulle kamer opslaan of ’n kombers wat jy oor die eetkamertafel gooi. Wat van ’n hoekie in die kombuis met lekker sagte kussings, kombersies en speelgoed? Of ’n paar boeke of lekker speletjies wat hulle kan speel. Iewers waar hulle net rustig kan ryg.

Enigiets waaraan hulle net kan vat en kan voel, wat ook al vir jou werk. Daardie area is waarheen die kinders kan gaan as jy hulle wil help om kalm en rustig te raak.

Jy hoef nie dié area net voor slaaptyd te gebruik nie. Dit kan ook werk in die middag voor etenstyd, wanneer hulle geneig is om ’n bietjie moeg en moeilik te raak en die behoefte het om ’n bietjie tot bedaring te kom.

’n Plekkie waar hulle na hartelus kan mors

’n Ander belangrike area is een waar die kleingoed kan speel en morsig kan wees. Dit is belangrik dat hulle heelwat sensoriese stimulasie kry.

Dit gee hulle nie net ’n gevoel van hulle eie liggame nie, maar ook van dit waarmee hulle in die wêreld moet omgaan.

As dit vir jou moeilik is om na die gemors te kyk, blok ’n area af. Sit ’n plastiektafeldoek op die grond neer waarop hulle kan speel. Kry van daardie plastiekskulpe en sit jou kleuter daarin. Gee vir hulle ’n afgebakende speelarea waarin hulle soveel gemors kan maak as wat hulle wil.

Sorg vir toegang tot verf, sand en sade waaraan hulle kan vat. Maak seker hulle het veilige toegang tot water. So sal hulle wonderlike kreatiewe maniere ontdek om met die sensoriese elemente om te gaan.

’n Ruimte waar hulle verbeelding vrye teuels kan kry

Onthou dat jonger kinders fantasiespel nodig het – iewers waar hulle snaakse klere kan aantrek en stories kan opmaak. Waar hulle avonture kan beleef en deel kan wees van ’n storie met ’n begin, middel en ’n einde. Dit help hulle om dit waaraan hulle deur die dag blootgestel word te prosesseer.

Dit is ook belangrik vir jong kinders om hulle lyfies te beweeg. Hulle het gereelde fisieke oefening nodig om behoorlik te ontwikkel en te groei. Aktiewe spel versterk bene, spiere en die brein. Om goeie gewoontes te vestig, moet kinders elke dag fisiek aktief wees.

Ons is bevoorreg in Suid-Afrika om wonderlike sonskyndae en heel gematigde temperature te hê wat toelaat dat hulle buite kan speel.

– LIZANNE DU PLESSIS, Kinderontwikkeling en ouerskapkwessies

Vorige artikelSpeelareas waar jou kind kan ontwikkel
Volgende artikel‘Berus jou in God se plan vir jou lewe’