[VIDEO] Help jou gesin om digitale rommel te verminder [Reeks 1 Nommer 11]

41

Dit is belangrik om soms van al die onnodige goed wat ons opgaar – ook dié op ons selfone – ontslae te raak en reg te pak. Verbeter die werkverrigting en sekuriteit van jou gesin se digitale toerusting deur dit gereeld “skoon” te maak.

Elke huis het ’n plekkie waar allerlei “goeters” gebêre word: aandenkings, inskrywingsvorms wat nooit gepos is nie, knope wat nog aangewerk moet word, batterye wat vervang moet word …

Dieselfde gebeur met ons digitale platforms en selfone.

Leer hulle om van nuttelose foonnonsens ontslae te raak

Help jou gesin om so nou en dan te kyk na wat op hulle toestelle aangaan en saam ontslae te raak van al die onnodige apps en foto’s wat daar opgegaar is. Onthou ook van al julle ander elektroniese toestelle – rekenaars, tablette, slim-TV. Integreer hulle met mekaar om hulle optimaal te kan benut en ’n bietjie orde in julle digitale wêreld te skep.

’n Goeie gewoonte om by kinders aan te kweek, is om hulle selfone gereeld skoon te maak. Hierdie instrumente word daagliks aan kieme blootgestel. Dink net hoe dikwels die apparaat hanteer word, hoe baie oppervlakke dit aanraak en hoeveel ander mense daarmee in kontak kom.

’n Gewone wet wipe werk perfek om die buite-oppervlaktes mee af te vee.

Raak ontslae van alles wat uitgedien of skadelik is

Kyk goed na al die apps op elke toestel. Wat is elkeen veronderstel om te doen? Is dit werklik die koste en spasie werd? Doen dan ’n volledige declutter en wees doelgerig.

Daar is so baie apps wat ons aflaai met die verwagting dat dit ons lewe sal vergemaklik en tyd sal spaar, maar dikwels doen dit die teenoorgestelde. Verwyder eerder die onnodige apps, want dit gebruik onnodige spasie en data, trek ’n mens se aandag af en mag ook sekuriteitsrisiko’s inhou. Gooi dié wat julle nie werklik help nie in die virtuele asblik.

Op jou kinders se toestelle is daar waarskynlik speletjies wat hulle net ’n paar keer gespeel het en nou mee verveeld is. Dit gee jou die geleentheid om te sien waarmee hulle besig is en om ’n paar kuberveiligheidsriglyne te deel.

Organiseer dit wat bydra tot julle gerief en welstand

Plaas die apps wat julle elke dag moet gebruik – en sosiale media is nie deel hiervan nie – op die tuisblad of op die eerste skerm van die foon. Kyk dan watter van die ander so gegroepeer kan word om dit moeiliker te maak om by die sosialemediaplatforms en ander tydstelers uit te kom.

Sosiale media en apps kan maklik ons aandag aflei en daarom is dit belangrik om krities na die ‘notifications’ stellings te kyk.

Skakel soveel moontlik van die klank- en vibrasiestellings af. Belê in ’n paar outydse wekkers sodat kinders nie met hulle fone in die kamer hoef te slaap nie. Dan is daar nog die derduisende foto’s, oudiogrepe en video’s wat baie spasie opneem. Gaan deur almal en verwyder dan die duplikate en ander wat nie noodwendig op die foon nodig is nie. Verseker dat julle backups het, want dit is glad nie lekker om belangrike herinneringe te verloor nie.

–RIANETTE LEIBOWITZ, Digitale ouerskap, sosiale media-gebruik en aanlyn veiligheid