[VIDEO] Die sleutel tot ’n sterk karakter is respek

73

Mense se karakter is sigbaar in hulle oë. Leer jou kinders van kleins af om met respek ander in die oë te kyk. Respek is die grondslag van ’n sterk karakter. Dit maak deure oop.

In jou lewe ontmoet jy voortdurend mense. Jy hoef nie fisiek aan die persoon te vat nie, die oomblik as jy in iemand se teenwoordigheid kom, voel jy dit … Jy voel sy karakter. Daardie karakter word in ’n mens weerspieël – en waarskynlik die belangrikste plek, in iemand se oë.

Oogkontak is deel van ’n sterk karakter

Daar is ’n gesegde wat lui: Die oë is die vensters van die siel. Wanneer iemand met jou kommunikeer en sy oë sak, beteken dit hy maak die vensters van sy siel toe. Dan voel ʼn mens hierdie persoon is bang vir iets … Hy is onseker.

Maar as iemand jou reg in die oë kyk en jou met ’n glimlag groet, voel jy sommer tuis by die persoon.

Veral as ’n kind voor jou staan, en jy kyk hom reg in die oë.

As sy oë wegdwaal, voel jy dadelik sy onsekerheid aan. As jy daarom vir jou kind een ding oor ’n sterk karakter wil leer, is dit om van kleins af oogkontak te maak.

Jou oë is deel van die geselskap. Dit is iets wat baie mense ongelukkig nie verstaan nie. Jy kan iemand vasvang met daardie geselskap of jy kan iemand met daardie geselskap verloor.

Die sleutel tot ’n edel karakter is respek

Die ideaal is om ’n sterk karakter te hê. Baie ouers wens dat hulle kind se karakter edel moet wees. Maar hoe kweek jy so ’n edel karakter in jou kind?

Die sleutel tot ’n sterk en edel karakter, is die woordjie “respek”.

Ons wil graag weet wat die regte ding is om te doen. Maar reg en verkeerd is bloot ’n opinie. Daar bestaan nie iets soos ’n regte of ʼn verkeerde opinie nie.

Jy kan dalk iets in die Bybel lees en dan sê, dít staan in die Bybel.

Maar dan kan iemand anders sê, ek het ook daardie stuk gelees, en dit het vir my iets heeltemal anders gesê.

Elkeen van ons het verskillende interpretasies van wat reg en wat verkeerd is. Wees daarom baie versigtig met wat jý sê reg of verkeerd is. Dit gaan eintlik maar net oor wat die beste vir jóú is.

Wys vir jou kinders hoe om respek te hê

As jy vir jou kind van kleins af ’n sterk karakter wil aanleer, moet jy self respek in die huis uitoefen. Ouers kan nie net vir hulle kinders sê om respek vir ander te hê nie. Jy moet vir hulle wýs hoe om respek te hê.

Jy praat nooit met jou kind as jy nie sy toestemming het nie. Vra vir jou kind: Mag ek met jou praat? Dan antwoord jou kind: Ja. Só is daar pas respek toegepas.

Die meeste ouers praat sommer met hulle kinders sonder om toestemming te hê. Dan wonder hulle waar is die respek, maar húlle het dit nooit getoon nie!

Wanneer jy ’n kind met ’n sterk karakter sien, hou jy sommer van hom/haar. En dit is vir daardie mense wat die deure in die lewe oopgaan. Hulle het ouers met ’n sterk karakter.

Maak respek die fondasie van karakter. Die res sal volg.

– JANNIE PUTTER, Leierskaps- en persoonlike ontwikkeling

Vorige artikelStephan Joubert: “Wanneer jou lewe soos ’n gladde stroom verloop en alles mooi netjies in plek val, kan dinge gevaarlik raak.”
Volgende artikelGebed bring jou nader aan God