[VIDEO] Probeer die ‘minder is meer’- oefenbeginsel

33

Soms kan die verantwoordelikheid vir ons gesondheid oorweldigend raak. Om jou ingesteldheid te verander en elke dag net ’n bietjie tyd aan oefening te bestee, kan ’n groot verskil aan jou liggaam en motivering maak.

Wanneer dit kom by ’n mens se fisieke, geestelike en emosionele welstand, geld die beginsel van ‘minder is meer’. Die dag wat jy jou gesondheid verloor, verander die fokus van jou hele bestaan. Jy sal al die geld waarvoor jy so hard gewerk het, spandeer om weer gesond te word.

Meer aktiwiteit is nie noodwendig beter nie

Goeie advies om jou gesondheid op te pas, is: Net ’n klein bietjie elke dag.

Ek het die voorreg om ’n pa te hê wat nog altyd vir my ’n voorbeeld gestel het oor ʼn absolute gedissiplineerde lewe rondom gesondheid. My pa is 84 en hy oefen steeds.

Hy het al vir 59 jaar ’n groep wat Maandag-, Woensdag- en Vrydagoggende dwarsdeur die jaar sesuur bymekaarkom. Dit is nie ’n lang sessie nie. Teen twintig voor sewe is hulle klaar. Die vreugde om so na sy gesondheid te kan omsien, is wonderlik om te aanskou.

Die meeste van ons vereenselwig fiksheid met pyn. Met oormaat. Met moeite. Dit beteken ek moet aansluit by ʼn gym en dit kos te veel. Ek het nie die regte klere nie. Ek lyk nie goed nie. Dis van die verskonings wat ons maak omdat ons bang is om met ander vergelyk te word.

Moenie dat oormatige oefening jou kniehalter nie

Maar wie het gesê dat jy gym toe moet gaan? Een van die belangrikste dinge wat jy vir jou kinders kan gee, is jou voorbeeld. Maar jy kan dit nie doen as jy nie by die huis is nie. Hulle moet jou sien deelneem aan fisieke aktiwiteite.

My kinders sien my elke dag oefen. Weliswaar nie elke dag vir ure nie. Ook nie noodwendig altyd in die oggend nie – omdat ek nie kans kry nie. Maar elke aand voordat ek in die stort klim, doen ek ten minste ’n paar push-ups.

Die meeste van ons dink ’n mens moet jouself tot die uiterste beproef, totdat jy gedaan is. Hoekom? Dit is hier waar die ‘minder is beter’-beginsel ter sprake kom. Herhaal die tegnieke tot net voordat jy moeg is. Jy is mos nie ’n superatleet wat jouself moet druk nie.

Kry ’n kwaliteitsessie in, maar stop terwyl jy baas daaroor is.

Kwaliteit eerder as kwantiteit is deurslaggewend

Wat bedoel ek as ek sê moenie toelaat dat die oefening jou baasraak nie? Sê nou ek dink ek kan 20 pushups doen, maar teen nommer 18 begin ek sukkel. Teen nommer 19 bewe my hele lyf en teen nommer 20 sak ek uitgeput neer.

Dan is dit mos simpel om 20 te doen. Deur myself te forseer om meer te doen as wat my liggaam kan hanteer, laat ek toe dat dit my breek. Besluit eerder om net sewe te doen. Daardie sewe doen ek stadig. Ek bly in beheer van die oefening. Ek kan altyd die aantal vermeerder soos wat ek sterker word.

Ek doen altyd minder as wat ek kan doen, want dan kan ek fokus op kwaliteit. Ek bly die meester van die oefening en ek geniet wat ek doen. In dié opsig is minder elke dag baie beter as te veel op een slag.

– JANNIE PUTTER, Leierskaps- en persoonlike ontwikkeling

Vorige artikelCaroline–Grace Brüssow: ‘Ek het ’n sagte kant van die Here ontdek’
Volgende artikel[VIDEO] Leef gebalanseerd vir ’n geseënde lewe