[VIDEO] Wees versigtig met vreesaanjaende woorde

41

Ons koppel voortdurend bepaalde emosies aan woorde, wat dan soms vreesaanjaende woorde maak. Dit is nodig dat ons soms terugstaan, herbesin, ons vrees ’n ander naam gee en die lewe weer met hernude ywer aanpak.

Ons lewe sedert 2020 in ’n tyd wat gekenmerk word deur woorde soos “pandemie” en “lockdown”. Woorde wat jou soos ’n gevangene in jou eie huis laat voel. Jy voel sommer onmiddellik bang by die blote aanhoor daarvan. Én hierdie vrees laat dan ’n krisis in jou gedagtes ontstaan.

Gee jou vrees ’n ander naam

Baie mense is teen hierdie tyd al skoon voos gedink. Nou sit ons maar half op die kantlyn en sê: Ek voel soos ’n toeskouer van die lewe … Ek kan nie meer die lewe léwe nie! Ons voel sommer amper wanhopig.

Hoe word ons weer geestelik sterk om op te staan teen hierdie vrese wat ons lewe so bedreig? Jy gee onmiddellik vir dit ’n ander naam, want die naam wat jy aan iets gee, het ’n bepaalde emosie tot gevolg.

As daar enigiets in jou lewe is wat trauma veroorsaak, is dit die eerste ding wat jy doen – jy verander die naam daarvan! Neem byvoorbeeld die woord “lockdown”. Hoekom dit nie eerder “time out” noem nie?

Sportmanne en -vroue weet dat wanneer daar geroep word: “Time-out”, dit beteken dat hulle eers ophou speel. Die wedstryd word vir ’n wyle gestop en die spelers stap van die veld af.

Staan terug, herbesin en pak weer die lewe

Gedurende time-out kom die spelers kantlyn toe vir ’n vinnige ruskans.

Dit is dan ook ’n geleentheid vir die afrigter om met die spelers te kom praat sodat hulle kan herbesin.

Dit is ’n tyd om die spel se verloop weer in oënskou te neem sodat die wedstryd met hernude energie en fokus hervat kan word.

’n Mens kan nie die heeltyd op die kantlyn sit nie, veral nie as jy onseker is oor hoe lank die time-out gaan duur nie. Jy moet die een of ander tyd terugkeer na die wedstryd toe … weer begin deelneem.

Én nou moet jy hiervoor weer ’n nuwe naam gee, want die naam wat jy aan iets gee, kan heelwat energie in jou losmaak.

Wat dan van iets soos: “We are in time”? Die horlosie loop nou weer. Ons is nou weer aktief besig om aan die wedstryd deel te neem.

Gee die seisoen in jou lewe ’n naam

Daar is soms seisoene in die lewe wat nie ’n tyd is vir oes nie. Dit is nie ’n seisoen waarin jy noodwendig geld gaan verdien nie, dit is ’n saai-seisoen. Noem dit dan ook só.

In hierdie tyd gaan jy dalk nuwe dinge moet leer, soos gevorderde tegnologie. Maar begin saai!

Jou huis sal elke dag vol energie wees. Nie omdat jy iets ontvang het nie, maar omdat jy gegee het.

Moet nooit die krag van saai onderskat nie.

Identifiseer die seisoen waarin jy is en gee dit ’n fantastiese naam. Dit maak nie saak in watter seisoen jy is nie. As jy die regte naam vir daardie seisoen gee, verander alles as gevolg van dít wat jy emosioneel daaraan koppel.
– JANNIE PUTTER, Leierskaps- en persoonlike ontwikkeling

Vorige artikelLEAH: ‘Meet jy jouself aan ander se opinies?’
Volgende artikel[VIDEO] Hoe bemoedig ek ’n vriendin wat swaarkry?