[VIDEO] As jy en hy oor geld vassit

260

Dit is so dat teenoorgesteldes mekaar aantrek. Nie net in terme van persoonlikheid en emosies nie, maar defi nitief ook hoe hulle geld hanteer. Finansiële kwessies kan ’n groot bron van frustrasie in die huwelik wees.

Verskille oor geld is een van die grootste redes vir egskeiding. Die probleem is nie noodwendig ’n gebrek aan geld nie, maar eerder die gebrek aan kommunikasie oor finansies en die feit dat ons mekaar misverstaan.

As julle verskil oor hoe om geld te hanteer

Kan jy en jou maat met mekaar oor geld gesels? As julle teenoorgesteldes is, beteken dit dat een persoon waarskynlik iemand is wat graag spaar en die ander iemand wat makliker geld uitgee.

Dit veroorsaak onmiddellik ’n konflik in terme van julle verhouding. Dalk is daar doelwitte wat julle vir julleself kan stel om seker te maak dat julle aan die behoefte om te spaar voldoen.

Maar terselfdertyd moet julle ook kan sê, as ons spandeer, hoe doen ons dit? Maak seker dat die begeertekolom altyd kleiner is as die behoefte- en beleggingskolomme.

Ons finansiële vernuf en hoe en waarop ons ons geld spandeer, het baie te doen met ons ouerhuis en opvoeding. Dan is daar ook die kwessie van dít waaraan jy waarde heg. Is dit veiligheid of eerder status?

Daardie twee sienings is nie altyd dieselfde nie.

Teenstrydigheid in julle mentaliteit

As status vir jou belangrik is, wil jy graag met die nuutste model kar ry. Jy wil seker maak dat jy met die bure kan kompeteer. Aan die ander kant wil jy dalk eerder ’n kar ry wat veilig is. Dit hoef nie ’n nuwe kar te wees nie.

Die volgende vraag is: Hoe voel jy oor jou finansies? Bekommer jy jou gedurig dat jy nie genoeg geld het nie? Ongeag van hoe jou begroting en finansies lyk, beteken dit nie noodwendig dat daar ʼn finansiële tekort is nie.

Daar is baie geld in die wêreld. Die moontlikheid is net dat jy dit nie het nie. Dit hang af wat jy sien, skaarste of oorvloed.

Dalk het jy ’n “arm brein”. Dis nie jou skuld nie. Almal van ons het tot ’n mate ’n arm brein. Dit is te wyte aan ons verlede of selfs ons huidige beskouing van geld.

Kom ooreen om julle uiteenlopendheid te akkommodeer

Het jy ’n visie vir jou geld en kan jy enige tekorte aanvul? Het jy ’n ryk brein? As jy vir jouself kan sê jy is reeds ’n miljoenêr omdat jy soveel het wat baie ander nie het nie – dinge wat geld nie kan koop nie – dan het jy ’n mentaliteit van oorvloed.

Dink aan jou kinders, jou eggenoot, jou gesondheid. Dalk jou besigheid en werk. Gesonde en gelukkige verhoudings. Dit is die ware rykdom. Ook as jy jou verhoudings, jou fisieke en geestelike lewe kan bestuur én ook jou finansies.

Die grootste uitdaging vir ons word dan: Kan ons ooreenstem? Daar sal soms verskille wees, maar dan moet julle daaroor kan kommunikeer. Aanvaar dat julle verskil, dat een persoon ’n spaarder en die ander ʼn spandeerder is. Kom ooreen om uit mekaar se gedrag te leer.

– WOUTER SNYMAN, Persoonlike finansies en geldsake

Vorige artikelSteek só letsels en velprobleme weg
Volgende artikelREANDI GREY: ‘Die kuns om net jouself te wees’