[VIDEO] Beplan en spandeer jou ekstra geld sinvol

270

Ons almal droom van ekstra kontant, maar net soos jy moet beplan om tekorte te vermy, is dit belangrik om voor te berei hoe om addisionele fondse te bestee indien jy jou finansiële doelwitte bereik.

Ek het voorheen genoem dat ons finansiële legkaart uit vier elemente bestaan. Die eerste hiervan bestaan uit jou inkomste, uitgawes, surplus en bates. Kom ons kyk ’n bietjie na surplus.

Beplan wat om met jou ekstra verdienste te doen

Om vooraf te beplan wat jy met die geld wat jy gaan oor hê wil doen, help jou om dit op ’n deurdagte manier eerder as reaktief te bestee.

Die oorskot kan op twee maniere aangewend word: Naamlik addisionele spaar vir jou toekoms en beleggings en bates wat uiteindelik vir jou ’n inkomste gaan genereer.

As ons weer die idee van die pizza kan gebruik: As jy die pizza in tien stukke deel, is vyf van die stukke om jou behoeftes soos basiese versekering, behuising, kos en klere aan te spreek.

Dan het jy drie stukke oor om begeertes aan te spreek. En hier kan jy ’n bietjie spandabelrig raak.

Die twee belangrikste stukke wat oorbly, is jou surplus. Hierdie geld is nie om sommer net te spandeer nie. Om vir elke rand in jou begroting ’n doelwit te hê en te weet waarvoor dit bedoel is, maak jou lewe baie makliker.

Belê ekstra geld vir die maer jare

Wanneer jy besluit wat om met jou surplus te doen, is een van die eerste oorwegings om te verseker dat jy voorsiening maak vir jou oudag.

’n Ander belangrike element om te oorweeg as jy geld beskikbaar het, is om ’n noodfonds te hê. Dit is gewoonlik so drie tot ses maande se finansies wat jy opsysit om onverwagte uitgawes te kan delg.

Dalk verloor jy jou werk, of dalk kry jy nie ’n verhoging nie. In die lig van die huidige ekonomie is dit uiters belangrik om hiervoor voorsiening te maak.

Bereken die bedrag wat jy moet spaar op 10% van jou totale uitgawes. Met ander woorde, as jou totale uitgawes R20 000 ’n maand is, is dit R240 000 ’n jaar. Dit beteken jy moet R24 000 vir jou noodfonds eenkant hou.

Moenie jou bekommer oor wat die opbrengs op die geld is nie, sit dit net opsy.

Gebruik jou ’n meevaller om skuld af te betaal

Die tweede ding wat jy moet doen met die geld wat jy bespaar, is om soveel moontlik van jou kapitaal te investeer om jou skuld so gou moontlik af te betaal.

Skuld het ’n optimaliseringseffek. As jy dit vir jou laat werk, kan dit vir jou aansienlike voordele inhou. As die bank dit laat werk, is dit tot jou nadeel.

So byvoorbeeld beloop die rente op ’n huislening van een miljoen rand oor 20 jaar, teen 10,5%, 1,4 miljoen rand. Jy betaal meer aan rente as wat jou huis werd was.

’n Ander manier om jou kapitaal te laat groei, is spaar. Jy hoef nie groot te begin nie. Selfs R5 ’n dag kan met tyd groei tot ’n enorme bedrag. Maak net seker dat jy ’n opbrengs kry wat hoër is as die inflasiekoers, anders boer jy agteruit.

Onthou, dis vir jou toekoms. Moenie dié spaargeld nou gebruik nie!

– WOUTER SNYMAN, Persoonlike finansies en geldsake

Vorige artikel[VIDEO] Moenie jou aan ongevraagde opinies steur nie
Volgende artikelPetronelle Ebersöhn: “Om te koop het ’n verslawing geraak”