[VIDEO] Bestuur jou geld beter met aanlyn hulpbronne

43

’n Mens moet gereeld dink oor hoe jy jou geld bestuur. Gaan jy net voort om dit soos in die verlede te doen? Óf beplan jy om dit beter te doen, met digitale doelwitte in gedagte.

Ons teken daagliks belangrike datums, soos verjaardae en geleenthede, in ons dagboeke aan. Deesdae is hierdie dagboeke sommer op jou slimfoon of rekenaar. Maak seker jy doen dieselfde met jou finansiële doelwitte.

Keer só dat jy in finansiële slaggate trap

Daar is belangrike datums soos wanneer ’n lening betaal word. En dan ook kleiner goedjies soos lisensiehernuwing.

Maak seker dat jy jou finansiële lewe aanpas by jou dag-tot-dag bestuur. Dit is die maklikste manier om belangrike datums te onthou en seker te maak jy trap nie in ʼn finansiële slaggat nie.

Ons almal is bekend met slimfoontoepassings. Daar is deesdae baie oulike toepassings wat jou met ’n begroting kan help. Dit is so eenvoudig verstaanbaar dat jy letterlik kan sê wat jy verdien, wat jy uitgee, wat die surplus is, en hoe jy dit bestuur.

Die belangrikste is dat jy verstaan hoe jy jou finansies bestuur. Dat jy kan rekenskap gee van hoe jy dit in die verlede gedoen het. Én weet watter aanpassings om vir die toekoms te maak.

Gebruik aanlyn hulpbronne

Dit is baie belangrik dat ons die telkaart van ons finansies verstaan. Dit is nou daardie krediettelling, of soos die Engelse dit noem, jou credit score. Daar is maniere hoe jy elke maand ’n gratis verslag kan kry wat die stand van jou finansies weergee.

Dit wys of jy jou rekening betyds betaal, en of iets agterstallig is.

Dit herinner jou ook aan iets wat jy dalk al van vergeet het. Soos ’n ou Telkomrekening wat jy gedink het jy lankal gestop het, maar steeds voor verantwoordelik gehou word.

Jy kan jou gratis krediettelling by myfreecreditscore.co.za gaan aflaai.

Maak só seker jy bly op datum met presies wat jou finansiële telling is.

Hou tred met hoe jy jou finansies bestuur

Aanlyn bankdienste is hier om te bly. Ons werk op ons slimfone om aanlyn betalings te maak en ons ontvang geld aanlyn. Ons kan ook ons bankrekening aanlyn dophou, soveel so dat dit jou kan beskerm. Dit kan egter ook tot jou nadeel wees as jy dit nie mooi verstaan en gebruik nie.

Jou finansies is dalk die moeilikste ding om te bestuur, omdat ons nie altyd die inligting byderhand het nie. Gebruik daarom een van die maklikste liasseerstelsel, e-posse, om seker te maak jy hou tred met hoe jy jou finansies bestuur.

Laat al jou rekeninge na een e-posadres toe gaan. Só mis jy nooit weer ’n rekening nie. Mense wat hulle finansies beter bestuur, het toegang tot inligting.

En sosiale media … Hoe beskerm jy jouself wanneer dit by jou Facebook-profiel kom? En het iemand toegang tot jou wagwoorde as daar dalk iets met jou gebeur? Moenie van jou sosiale bates vergeet nie.

– WOUTER SNYMAN, Persoonlike finansies en geldsake

Vorige artikelGrimeerkunsies vir ’n vars, natuurlike voorkoms
Volgende artikelBestuur jou geld beter met aanlyn hulpbronne