[VIDEO] Leer jou kind om geldslim te wees

64

As ouers is dit ons verantwoordelikheid om ons kinders toe te rus om suksesvol in die lewe te wees. Dit behels ook dat ons hulle die nodige vaardighede leer om hulle finansies suksesvol te bestuur.

Gegewe hoe belangrik dit vir elke mens is om geld te verstaan en te bestuur, is dit verbasend dat finansiële vaardighede nie op skool aangeleer word nie. Dit is daarom belangrik dat ons ons kinders van kleins af van geld leer en hulle opvoed om verantwoordelik daarmee te kan werk.

Die regte tyd om kinders finansiële vaardighede te leer

Die meeste van ons moes op die harde manier finansiële vaardighede leer. Vandag, in die 21ste eeu leer kinders steeds nie op skool geldbestuur nie. Baie min van hulle leer oor behoeftes en begeertes, belasting en belegging.

Begin van kleins af. Kinders leer vinnig, en selfs kleuters kan basiese begrippe soos betaal en spaar verstaan.

Een van die eerste konsepte wat hulle moet leer, is die verband tussen werk en inkomste. Deur jou kind vroeg al ’n sakgeldjie te betaal, leer hy hom dat as hy iets wil hê, hy weer daardie geld moet uitgee. Moenie net geld gee nie. Laat hy klein takies by die huis doen om dit te “verdien”.

Die belangrikheid van die take wat hulle moet doen, kan toeneem
namate hulle ouer word.

Leer hulle onderskei

Die meeste kinders se geld word spandeer op dinge wat hulle graag wil hê, maar nie noodwendig nodig het nie. Leer hulle die verskil tussen ʼn behoefte en ’n luukse.

In stede om in al sy behoeftes te voorsien, laat hom vir sy verblyf betaal. Al is dit R10 uit R100 sakgeld. Of trek ’n paar rand af vir dienste
soos kosmaak en wasgoed – “huisbelasting”.

Dit klink wreed, maar jongmense het geen begrip van hoe belasting werk nie. Iewers in die toekoms gaan hy belasting moet betaal.

My seun het onlangs vir my gesê sy foon kan opgegradeer word. Hy het ’n boodskap gekry dat hy gratis ’n nuwe foon kan kry.

Ek moes verduidelik dat die foon nie werklik gratis is nie en dat die totale maandelikse betaling, wat die foon se koste insluit, 30% meer is as indien jy die foon kontant sou koop.

Jou gesindheid oor geld speel ’n groot rol

’n Les wat hiermee saamgaan is dat jou foon nie noodwendig oud is en afgeskryf moet word net omdat daar ’n nuwer weergawe beskikbaar is nie. Jou voorbeeld en jou ingesteldheid oor geld is daarom baie belangrik.

Hoe hanteer jy jou finansies? Praat julle oor finansies in die huis? Dit is die volgende belangrike aspek.

Sonder om hulle te belas met jou uitdagings, is dit nodig om vir jou kinders te sê as daar nie geld vir sekere, miskien uitspattige, uitgawes is nie.

Ons wil graag ons kinders se lewens verryk, maar deur vir hulle alles te gee wat hulle begeer, vestig ons verkeerde gewoontes. Ons ontneem hulle van belangrike kundigheid om eendag hulle finansies suksesvol te bestuur.

Ons het ’n verantwoordelikheid om seker te maak dat ons kinders nie net werkgereed is nie, maar ook
weet hoe om daardie verdienste oordeelkundig te bestuur.

– WOUTER SNYMAN, Persoonlike finansies en geldsake

Vorige artikel[PODSENDING] Leef gebalanseerd vir ’n geseënde lewe
Volgende artikel‘Die dag toe ons emigreer het’