[VIDEO] Moenie oudmodies oor jou geldsake dink nie

43

Die veranderde ekonomie het ’n groot impak op hoe ons lewe en hoe ons ons geld bestuur. Dit is daarom belangrik op die hoogte bly van al die veranderinge in die ekonomie waarin jy leef.

Ons gaan langer leef as ons oumas en oupas … tien teen een ook langer as ons ouers. Die geraamde gemiddelde lewensverwagting van Suid-Afrikaners rondom die 1900’s was min of meer 40 jaar. Vandag is dit baie nader aan 80, selfs 90.

Het jy genoeg geld om rustig oud te word?

Ons het die tradisionele denkwyse dat aftreeouderdom hier om en by 65 jaar is. As jy dus 90 jaar oud gaan word, het jy 25 jaar waarvoor jy finansieel voorsiening gaan moet maak!

Ons moet dit in ag neem. Gaan jou finansies dit maak?

Ons is tipies in daardie omgewing waar ons bekend staan as die toebroodjiegenerasie. Ons sien finansieel na ons ouers om, en ons sorg ook vir ons kinders.

Ons verdienvermoë – die manier hoe ons geld maak – verander. Die tradisionele agt-tot-vyf-werksdag is nie meer so relevant nie.

Die laaste jaar of twee het ons gesien hoe dit drasties verander. Baie mense werk nou 100% van die tyd van hulle huis af, en hoef nooit weer terug te gaan kantoor toe nie.

Pas aan by die ekonomie waarin jy leef

Loopbaankeuses verander soos ons elke dag nuwe dinge ontdek. Die tradisionele musiekonderwyser kan nou aanlyn kitaarklasse aanbied.

Die lekker hiervan is dat jy nie beperk is tot ’n lokaal of die studente wat na jou toe kom nie.

Jy is selfs nie beperk tot ’n land nie. Een of twee onderwysers kan letterlik duisende studente hê, waar dit tradisioneel nie moontlik sou wees nie. Jy sou dalk ’n klas kon aanbied vir 10, 15 of 20 kinders.

Ons moet besef ons is in ’n “aanvraag”-ekonomie – ons wil goed dadelik gedoen hê! Verby is die jare waar dit amper ’n uitstappie was om inkopies te gaan doen.

Deesdae ruk ons net ons slimfoon uit en doen inkopies binne minute, en 60 minute later word dit by die huis afgelewer.

Die nuwe ekonomie is hier om te bly

Ons is die “deel”-ekonomie. Dit is nie noodwendig so dat ons meer huise, karre of selfs vakansieplekke moet besit nie. Ons kan nou ’n Uber huur en nooit weer ’n kar nodig hê nie.

’n Mens kan amper nie dink ons het net tien jaar terug nie eens die bestaan daarvan geken nie!

Dieselfde geld Airbnb, waar jy letterlik jou huis kan verhuur aan iemand wat daar vakansie wil kom hou. En jy kan dieselfde doen … wêreldwyd.

Hierdie is uitdagend vir ons, want partykeer vat ons ’n tydjie om aan te pas. Het jy al aangepas? Is jy bewus daarvan dat ons nie noodwendig teruggaan na die ou bedeling nie, ons is nou in ’n nuwe ekonomie.

Die beste vir my en jou is om daarvan kennis te neem en te sê: “Hoe maak ek seker dat ek en my gesin op die bes moontlike manier in hierdie nuwe ekonomie inpas.”

– WOUTER SNYMAN, Persoonlike finansies en geldsake

Vorige artikel[VIDEO] Moenie hare in die hande sit nie
Volgende artikelWanneer jy … OP VERKEERDE DINGE FOKUS