[VIDEO] Wat is jou rande rêrig werd? [Reeks 1 Nommer 9]

1254

Vir elkeen van ons hang die betekenis van geld af van die dinge wat ons daarmee assosieer en hoe ons dit in ons lewens aanwend.

Vir sommige mense beteken geld die salaris wat hulle verdien en dit wat hulle daarmee kan koop. Dit verteenwoordig kruideniersware of skoolfonds, die klere wat hulle aantrek, die kar waarmee gery word of die huis waarin hulle bly.

Hoeveel duisende rande is al deur jou hande?

Maar geld, en die konnotasie wat ons daaraan heg, is nie meer wat dit was nie. So, wat is dit dan? Eintlik maar net ’n stukkie papier, want die waarde wat ons daaraan koppel, bepaal eintlik die betekenis wat dit in ons lewe het.

Hoeveel inkomste het jy al verdien? Ons werk tog om ’n besoldiging te kry. Gedurende die ure wat ons by die werk spandeer, lewer ons waarde en dit is waarvoor ons betaal word.

As ek jou vra wat jou arbeid werd is, gaan jy dit dalk in ’n randwaarde omskakel. R50 000 per maand is R300 per uur. R25 000 per maand is R150 per uur. Werk beteken dus om tyd te bestee om ’n vergoeding te verdien deur ’n gedeelte van my werkvermoë weg te gee.

Wat doen jy met die geld wat jy verdien?

Waarop bestee ons dan dié swaarverdiende rykdom? Klere? Wat is fout daarmee vra jy? Kom ek verduidelik gou. As jy jou kasdeure oopmaak, is daar ’n klomp uitrustings wat jy oor die jare aangeskaf het.

Jy moes hard werk om die fondse bymekaar te maak om elke uitrusting te kan koop. Hoeveel daarvan dra jy nog? Navorsing wys dat meeste mense net omtrent 10% van die klere in hulle klerekas aantrek.

Die meeste van ons besit maklik 100 of 200 kledingstukke. Teen gemiddeld R500 per item beteken dit dat daar in die meeste van ons se kaste tussen R250 000 en R500 000 se klere hang waarvan ons 90% glad nie meer dra nie.

Jy het tyd en energie weggegee om hierdie goed te kan bekostig. Maar dié tyd en energie het jy elders weggevat. Is jy dalk besig om samesyn met jou onvervangbare geliefdes vir tydelike skatte in te boet? Kan jy dit bekostig?

Belê in verhoudings eerder as in besittings

As jy 50 is, het jy volgens statistieke nog so 30 jaar oor om te lewe – om en by 250 000 uur. Wat jy doen met die tyd wat jy tot jy beskikking het, is relevant tot die vraag rondom die waarde wat ons aan materiële welvaart heg.

As ek dink dis belangriker om in ’n mooi kar te ry, gaan ek alles gee om dit te kan bekostig, eerder as om aandag te gee aan my gesin en die mense wat vir my belangrik is. Moenie dat die waarde wat jy aan ’n stukkie papier heg, jou die waarde van die verganklike oomblikke en kosbare mense om jou laat miskyk nie.

Ons koopmentaliteit lei daartoe dat ons al ons tyd, energie en geld – drie skaars hulpbronne wat ons tot ons beskikking het – spandeer in stede daarvan om dit te investeer. Hoeveel ure het jy oor? Wat gaan jy daarmee doen om seker te maak dat jy die beste waarde daarmee kan ontsluit?

Wouter Snyman – Finansies, besigheid en entrepreneurskap