Voetspore in my hart…

Voetspore in my hart

Die groot seun met die kleintjie aan die hand, vang my oog. Hulle hardloop op die sypaadjie. Vleg deur die verkeer. Duidelik laat vir skool.

Naby die laerskool los hy sy boetie se hand en kyk hoe die klein seuntjie by die skool inhardloop. Ek sien hoe die groot seun spoed optel na die hoërskool verder af in die straat. Die skool het lankal begin.

Dis ‘n prentjie wat vassteek op my pad werk toe. Onbekende kinders wat om een of ander rede laat was. Ek wonder vir ‘n oomblik wat die rede was. Dalk ‘n siek mamma by die huis? Moeilike omstandighede? Dalk net ‘n gewone oggend waar almal verslaap het. Wie sal weet? Die mooi bly in ‘n groot seun wat ‘n klein boetie se hand styf vashou en hom veilig besorg. Onwetend dat hy iemand se hart raak. 

By die verkeerslig later die middag sien ek een van die bekende smouse. Dis ‘n koue dag en sy hande is leeg. Ek ken hom al. Hy stap verby my kar en vra of ek nie dalk iets te ete het nie. Die lig word groen en ek vra vinnig: “ Appel of piesang?” Hy aarsel ‘n oomlik voordat hy dankbaar die appel kies. In my truspieëltjie sien ek hoe hy honger die appel verslind. My hart word week. In my eie huis is die appel die ongewildste vrug. Bly dit lank in die yskas. In die mandjie op die tafel is daar gewoonlik ‘n  verskeidenheid vrugte waaruit hulle kan kies. Piesangs, lemoene, naartjies. Daar is ook brood, grondboontjiebotter en stroop as jy honger raak. Dan eers ‘n appel.

Jou blydskap dalk my irritasie.

Soms fokus ons so baie op wat ons nie het nie, waarmee ons sukkel en wat nie reg is nie dat ons die vreugde langs die pad mis. Dalk kyk ons te ver op en mis die trappies rondom ons. Ons kan elke dag werk toe jaag en terug sonder dat iets verander, of ons kan die reis deel maak van ons dag. Op ‘n manier is ons lewens aanmekaar gevleg. Kan ons sin gee aan ander se lewe. Kan ander weer ons uitkyk verander.

In 1 Johannes lees ek dat die Lig na die aarde gekom het. Die duisternis kon dit nie uitdoof nie. Daardie lig het in ons kom bly. Dit voel ver verwyder van ‘n seuntjie wat laat is en ‘n man wat honger genoeg is vir ‘n appel. Tog sien ek iets in die eenvoud van God wat in die wêreld werk. Wat maak dat daar ‘n ouboet is wat kleinboet se hand kan vashou. Wat my laat sien dat dit ‘n voorreg is as jy ‘ n keuse het watter vrug jy wil eet.

Soms skyn die lig daar waar jy dit die minste verwag.

Mag ons mooi kyk waar ons loop. Mag ons sag trap en waak oor ons eie voetspore.

Die seun het dalk ‘n slegte spoor by sy juffrou gelos maar saam met sy boetie het hulle mooi spore in my hart getrap.