Volg die leidrade om Jesus te sien!

Die ding dat ons vlees is en Hy Gees is, ‘n PROBLEEM!
Ons lewe hier en nou in ‘n wêreld waar ons aan dinge kan vat en alles ons kan seermaak of bly maak!  Dis net so… dringend.

Nou hoor ons ons moet ‘n onsigbare Jesus “liefhê”… nie van hoe nie, met ons hele hart, hele siel en hele verstand.  Maar sy onsigbaarheid maak dat Hy eenvoudig net verder voel… dowwer. Hoe sê hulle altyd?  Out of sight out of mind.

Wel, ek dink nie mens kan iemand liefhê wat jy nie behoorlik kan ken nie.
So vra Hy die onmoontlike of het Hy dalk wel iets in plek gesit om Homself aan ‘n vlees wese soos ek sigbaar te maak?

Natuurlik het Hy!  Hy soek ‘n verhouding, so…

Die Bybel heel eerste natuurlik.  As jy iemand wil leer ken, moet jy Sy taal kan praat, en dit is in Sy Woord dat die Heilige Gees jou leer hoe Hy praat, dink, werk… alles baie duidelik uiteen gesit.  Dis soos Tombraider of die Indiana Jones flieks waar jy tussen die lyne die sleutels tot die skat moet vind.  Die skat is Sy hart, nie Sy reëls nie.

Gepraat van sleutels… Een so ‘n sleutel ontdek jy dan in Romeine 1:20. Waar Hy verduidelik hoe Hy Sy onsigbare dinge, Sy karakter en Sy Goddelikheid alles uitgebeeld het in dit wat Hy geskape het.  Hy het letterlik in elke stukkie natuur, in elke mens, in elke verhouding, in elke talent, iets omtrend Homself openbaar.  Alles vanaf Sy sin vir humor (bv. die koddige apies) tot hoe Hy dinge in die fynste besonderhede inmekaarpas (bye, ekosisteme, lewe).  Dis waar jy ontdek dat Hy fassinerend misterieus is (soos grond of water) en dat daar soveel meer aan Hom is as wat ons kan sien; of hoe Hy van aanraking hou (zebras) en hoe daar sulke vlietende oomblikke is wat Hy skep om Sy skoonheid te laat uitbars (soos ‘n sonsopkoms of ondergang, of as die eksotiese draakvrug net vir een aand in sy hele leeftyd oopgaan om bevrug te word)… maar dat mens dit alles kan mis!  Sy ouerhart geopenbaar in goeie ouers, of hoe intens Sy liefde is, soos wanneer jy jou eie baba in jou arms neem.  Alles die kleinste proeseltjies van wie en wat Hy is, en ‘n uitnodiging na soveel meer!

Dan ook Sy bonatuurlike dinge.  Goed wat nie so kan wees nie.  Kankers wat totaal genees, onverwagte voorsiening, onsigbare beskerming, ‘n onmoontlike gebed wat beantwoord word, ‘n skurk wat onverklaarbaar finaal verander en jy weet dat jy weet…

Hy leef, Hy gee om en Hy is ver verby wonderlik…
en Hy’s net te vinde vir die wat Hom soek.