Volg jou hart – al sê wié wát!

0
974
volg_jou_hart.jpg

Suksesvolle mense lééf hulle passie, ongeag wat ander sê. Hulle luister na daardie innerlike stem wat hulle diepste drome verklap. Om jou instink te vertrou kán geluk bring, al moet jy soms die onbekende koers inslaan.

Die algemeenste ding waaroor mense teen die einde van hulle lewe spyt is, is dat hulle nie getrou was aan hulle diepste hartsbegeertes en passies nie, en altyd net gedoen het wat ander van hulle verwag het.

Jy is gewoonlik skrikkerig om besluite op grond van jou gut feeling te neem – daardie stemmetjie binne-in jou. Jy moet egter leer om die gevoel te vertrou, al moet jy ’n geloofsprong maak en ’n onbekende afdraaipad vat.

Ja, daar is risiko’s aan verbonde. Tog, hoe groter die risiko, hoe soeter die sukses! Knyp toe jou oë en kies ’n slag die minder bekende pad.

Volg jou hart, selfs al wil mense jou ontmoedig

Jy kan jou maar klaarmaak vir teenstand as jy die ander rigting wil inslaan. Hier is ’n paar irritasies wat jy te wagte kan wees:

• Daar sal altyd kraaie wees. Dis die mense wat ’n groot geraas maak en ander aan hulleself laat twyfel. Hulle sal gewoonlik dinge sê soos: “Ja, maar …” of: “Dit sal nooit werk nie.” Al wat jý kan doen, is om so iemand toe te laat om haar sê te sê, want sy sal in elk geval nie loop voor sy klaar gepraat het nie.

Perdebye wil graag ’n stekie inkry. Hoe meer aandag hulle kry, hoe meer sal hulle jou beledig. Hulle sal byvoorbeeld negatiewe kommentaar op Facebook plaas net om ’n reaksie uit te lok. Perdebye sal vir jou dinge sê soos: “Jy is nie ervare of slim of kreatief genoeg nie” of: “Wie dink jy is jy?”

• Dan is daar die bere, die persone in leierskapsposisies wat glo hulle kan niks verkeerds doen nie. Hulle sal nooit met jou saamstem nie. Hulle fokus eerder op wat verkeerd is in plaas van wat reg is. Bere gebruik hulle mag en gesag om jou op jou plek te hou. Jy sal gereeld iets hoor soos: “Die begroting maak nie voorsiening daarvoor nie” of: “Ons het dit al gedoen en dit het nie gewerk nie.”

• Die beste ding wat jy kan doen, is om soos ’n eend te wees: As dit begin reën, pla dit jou nie – die druppels rol mos net van jou af! Besluit altyd eers of die persoon regtig jou belange op die hart dra voor jy jou aan enige opmerkings steur.

[Pagebreak]

Begin beplan om nader aan jou droom te kom

Heel eerste sal jy moet erken dat jy nie meer tevrede is met hoe jou lewe nou is nie. Vertrou jou instink. Daar is ’n groot verskil tussen ’n gewone goor dag en wanneer jy regtig ongelukkig is met jou lewe.

Skryf ’n paar dinge neer wat jy sal wil verander en waarmee jy ontevrede is. Jy sal gou ’n patroon opmerk, soos dat jy dalk nog voel jy stagneer in jou werk. Verveling is dan eintlik jou probleem.

Probeer nou drie doelwitte neerskryf hoe jy jou lewe interessanter kan maak, byvoorbeeld: Begin met ’n nuwe stokperdjie. Dit moet egter iets wees waarin jý belangstel, nie iets wat iemand van jou verwag om te doen nie.

Lees elke dag hierdie doelwitte en sê ook vir jou familie en vriende daarvan. Hulle kan jou ondersteun en kort-kort vra hoe dit gaan.

Moet nooit voel dat jou doelwitte simpel is in vergelyking met iemand anders s’n nie. Dis soos aartappelslaai – eenvoudige kos en tog eet die meeste mense dit graag. Party dink wel dis darem ’n bietjie alledaags. Maar as dit jóú gelukkig maak, maak dit nie saak wat ander sê of dink nie. Baie min mense bereik regtig groot dinge; die meeste van ons is heeltemal tevrede met elke dag se porsie aartappelslaai.

Moet egter nie bang wees om ’n droom te laat vaar as jy agterkom dit sal regtig nie kan realiseer nie. Wees oopkop in plaas van om al jou tyd en energie aan iets te bestee wat jou nêrens gaan bring nie.

Vind só uit wat regtig jou passie is

Hoe goed ken jy jou hart? Ons kenner, Eugene Kemp, gee raad oor hoe om uit te vind waarvoor jy eintlik bestem is.

“Wat as dit al is wat ek in my lewe gaan bereik?” As jy hierdie vraag vra, het jy waarskynlik nog nie jou roeping ontdek nie. Jou lewe is miskien nou so ’n mallemeulerit dat jy nooit eers tyd het om weer jou hart te leer ken en van voor af vas te stel wat jou laat tick nie.

Jy móét egter tyd maak hiervoor. Dis eintlik baie maklik, jy moet net uitvind wat jou gelukkig maak. Probeer terugdink: Waarvan het jy as kind gehou? Waarmee kon jy jouself ure lank besig hou wat die tyd laat stilstaan het? Jy kan ook vra: Wat laat my sing? Wat laat my huil? Waaroor droom ek?

Die lewe is ’n ontdekkingsreis, een waarop jy jouself ook leer ken. Sien elke dag uit daarna om vas te stel wie jy is en waaroor jy geesdriftig kan raak. Moenie dat ander se verwagtings die wêreld beroof van die besondere rol wat jy veronderstel is om daarin te speel nie.

Komaan, die lewe is ingewikkeld genoeg. Maak los jou hare en vat die pad! Waag die kans en doen die ding wat jóú hart laat sing!