Volharding

0
23
Rubal_Khali-woestyn2.jpg

Alex Harris, Marco Broccardo en David Joyce, drie Suid-Afrikaanse avonturiers, is nou pas terug in Suid-Afrika. Hulle het in 40 dae die 1210 km gestap dwarsoor die Rub’al Khali-woestyn. Dit is die heel eerste keer dat mense dit reggekry het om sonder bystand deur hierdie woestyn te stap. Hulle het beurte gemaak om ‘n waentjie van 400 kg te trek waarop al hulle water en kos was. Ek neem aan dit het darem ligter geword hoe verder hulle gestap het. Hulle het self ook ligter geword. Elkeen het omtrent 10 kg gewig verloor.

Hulle sê hulle het nooit eens daaraan gedink om op te hou nie. Om hulle te motiveer om aan te hou, het hulle elke dag vir mekaar vertel wat hulle gaan eet en drink wanneer hulle die eindbestemming bereik. Met die einddoel voor oë, het hulle absoluut net volhard. Dit is wat Paulus ook in Filippense 3:14 sê, naamlik Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus. Paulus sien die eindbestemming, naamlik die ewige lewe in God se teenwoordigheid, en dit gee hom die moed om nie op te hou met die geestelike pad wat hy bewandel nie. Is dit ook jou eindbestemming, en motiveer dit jou?

Maar hierdie beginsel van volharding geld eintlik vir elke terrein van die lewe. As jy jou einddoel in die oog hou, kan jy jou drome verwesenlik. Iemand het eenkeer gesê: In die konfrontasie tussen die stroom en die rots is die stroom altyd die wenner; nie deur krag nie, maar deur volharding!