Volwassenheid

“Toe ek ‘n kind was, het ek gepraat soos ‘n kind, geredeneer soos ‘n kind. Maar noudat ek ‘n man (vrou – ‘n volwassene) is, is ek klaar met die dinge van ‘n kind.”
1 Korintiёrs 13:11

Volwassenheid is nie iets wat noodwendig met ouderdom kom nie.

Inteendeel. Dit is veel dieper as ouderdom.

Dit is die manier wat jy na dinge kyk en hoe jy dit verstaan.

Die manier hoe jy ander mense in ag neem, eer en respekteer.

Dit is hoe jy kommunikeer.  Die manier waarop jý reageer.

Dit is om  waardes te waardeer en te koester.

Dis in die manier waarop jy jouself, ander en God verteenwoordig.

In alles, met alles, deur alles 24/7/365.

Dit is om jouself soos ‘n volwassene te gedra.

Ja, almal word oud, maar nie almal groei tot volwassenheid nie.

Meet jouself gerus aan hierdie 10 voorbeelde van volwassenheid:

  1. Volwassenheid is nie hoe hoog jy spring tydens lofprysing nie. Dis veel eerder hoe reguit jy stap in gehoorsaamheid aan God en Sy woord.
  2. Volwassenheid is wanneer jy besef jy gaan bitter teleurgesteld wees indien jy dink almal het dieselfde hart as jy.
  3. Volwassenheid is wanneer jy die “klein dingetjies” verstaan, eerder as om “groot dinge” te praat.
  4. Volwassenheid is wanneer jy besef elke aksie hoef nie ‘n reaksie te hê nie. Jy kan nie ander mense blameer vir joú optrede nie. Jy en jy alleen is en bly verantwoordelik vir hoe jý optree, ongeag wat of hoe jý voel.
  5. Volwassenheid is wanneer jy uiteindelik besef dat jou geluk nie van ander mense en dinge afhang nie, maar slegs van jouself, vanuit jou verhouding met God, Jesus en Heilige Gees.
  6. Volwassenheid is wanneer jy ophou om verskonings te maak, te soek en eerder self veranderinge maak.
  7. Volwassenheid is wanneer jy wegstap van nonsens: Ja, mense en dinge sonder waardes, moraliteit en selfwaarde, met geen respek vir God en Sy woord nie.
  8. Volwassenheid is wanneer jy meer “God bewus” as “ek bewus” is.
  9. Volwassenheid bring groter dapperheid om getrou te wees, ongeag wat díe wat dit nie verstaan nie mag dink of sê.
  10. Volwassenheid begin waar drama eindig. Skinder is vervelig, doelloos en tydmors. Skielik maak “small talk” jou nie meer opgewonde nie!

Laaste maar nie die minste nie: Vra jouself af hoeveel nader jou karakter kom aan die karakter van Hom in wie se beeld jy geskape is? Antwoord Hom.

PS: Vergenoegdheid is ‘n gesindheid, eie aan iemand wat volwassenheid bereik het. ‘n Gesindheid wat sê: “Ek is, en sal tevrede wees, met dit wat ek het, dit wat God aan my geskenk het.” Lees gerus: “ Die godsdiens is ‘n groot wins as iemand tevrede is met wat hy het, want ons het niks in hierdie wêreld ingebring nie; ons kan ook niks daaruit wegneem nie. . . “ 1 Timoteus 6:6-12.

Vorige artikelOm ons kinders vir die lewe voor te berei
Volgende artikelGeld kan jou huwelik laat bloei
Blogger - Tania Delport
Tania Delport is terselfdertyd onkonvensioneel, passievol, vreesloos, kreatief, teen die grond neergegooi maar nie vernietig nie, vol blydskap en humor, Woord deurdrenk en geesvervuld, ‘n onvergeetlike persoonlikheid. Tania Delport se skryftalent is ‘n passie en natuurlike gawe van God maar ook stil-stil geïnspireer deur die welbekende skrywer Hennie Aucamp wat 20 Maart 2014 oorlede is. Sy het in die Stormberg hoogland in die Oos-Kaap grootgeword op die buurplaas vanwaar hy grootgeword het. Haar oom aan haar pa se kant was getroud met die suster van Hennie Aucamp, dus was hy deel van haar familie binnekring. Tania Delport is in haar finale seisoen van liefde en lewe. Haar prioriteit is haar man Pieter. Sy is toegewyd en gaan haar gawes met veral vroue deel. Tania Delport se G-I-L in die nag het L-I-G in die dag geword want God is Liefde. Haar lewe het vlerke gekry. Dis tyd vir joune! Besoek gerus haar web tuiste https://eet8eet.co.za