Voor die kansel … ’n tweede keer

0
7
tweede_huwelik.jpg

Om ’n tweede huwelik te laat werk is veel moeiliker as ’n eerste. 

Chanté Hinds, aktrise en voormalige televisie-aanbieder, woon deesdae saam met haar wolboer, Jan Möller, en hulle pienkvoet op ’n Karooplaas. Sy is dolgelukkig met haar nuwe omstandighede, en dit lyk asof haar legkaartstukke oplaas inmekaarpas ná sy die hartseer van soveel ander vroue ook moes deurmaak – die mislukking van ’n tweede huwelik.

Mense bespiegel dikwels hoekom dit moeiliker is om ’n tweede huwelik te laat werk. Jou kanse behoort te verbeter omdat jy ouer en wyser is en wéét hoekom dit die eerste keer misluk het. Volgens Jennifer Baker van die Forest Institute of Professional Psychology in Missouri, eindig die helfte van eerste huwelike in die skeihof, terwyl 67% van tweede en 74% van derde huwelike misluk. Volgens www.divorcemag.com duur vroue se eerste huwelike gemiddeld 7.9 en tweedes 6.8 jaar. In 2003 het Mandy Young in die tydskrif Living & Loving verklaar dat drie uit vyf eerste huwelike en 75 persent van tweede huwelike in Suid-Afrika misluk. (Babes in Arms, deur Karena du Plessis).

Pasop om te gou wéér te trou

Chanté meen dit is omdat ’n mens te gou in ’n verhouding tree. “Vir die meeste mense is die tweede huwelik bloot ’n vervanging van die eerste seer omdat jy nie genoeg tyd gehad het om deur die emosies en redes waarom jy geskei is, te kon werk nie.” Sy glo genoeg tyd moet verloop voor ’n volgende huwelik. “Ek het gou weer getrou omdat ek nie die verwerping van my vorige huwelik kon hanteer nie. Daar was nie genoeg tyd om te heel nie. Ek het gedink: As hý my nie wou hê nie, wie anders sou my wou hê? Vir wie kon ek weer iets beteken ná ’n tien jaar lange huwelik op die rotse geloop het?”

Maak jou los van jou eerste huwelik

Chanté meen ook dis verkeerd om jou eerste huwelik as verwysingsraamwerk te gebruik. “In ’n tweede huwelik verwys jy heeltyd na die vorige een, terwyl jy ’n wilsbesluit moet neem om jou af te sny van wat agter jou lê. Ek moes bid dat ek niks meer uit my eerste huwelik kan onthou nie, sodat alles vir my nuut en vars sou wees. Dit is heeltemal ’n nuwe ball game met ’n nuwe maat. Jy mag nooit dink dat dit dieselfde gaan wees nie.” ’n Mens sien die huwelik ongelukkig eers agterna in perspektief, meen sy. “’n Konfliksituasie raak gevestig. Jy neem aan dat dit waaroor jy in die verlede baklei het, nou ook die oorsaak van konflik gaan wees en val terug op jou ou patrone van konflik. Dan word vrees deel van die verhouding. Jy is bang jy herhaal foute uit die verlede, en doen en sê baie dinge uit vrees. As jy eers een keer deur ’n egskeiding is (enigiemand wat daardeur is, sal dit beaam) wil jy nooit weer daardeur gaan nie. Dan staan jy in ’n huwelik en jy vrees dat juis dit gaan gebeur. Dit word ’n bose kringloop, en perfekte liefde het geen vrees nie. Die geheim is om die nuwe persoon in totaliteit te aanvaar asof niks gebeur het nie.”

Trou vir die regte redes

“’n Tweede huwelik is beslis dicey, tensy jy genoeg tyd gehad het om daaroor te dink en te bid.” Chanté sê dat sy in vele ander vroue se lewens kan sien hoe hulle dieselfde fout gemaak het as sy. “’n Vrou se grootste begeerte is dat iemand haar aantreklik moet vind en adore. As sy dit nie kry nie, soek sy dit. Kyk na prinses Diana. Al het sy die wêreld aan haar voete gehad, het sy van die een persoon na die ander beweeg sodat iemand haar gees en siel kon raaksien en liefhê. ’n Vrou is in haar wese geskape om dit te doen.” Sy sê verder: “Dit is vir ’n vrou daarom baie moeiliker om weer vir die regte redes te trou. Ná die eerste keer hardloop ons emosies met ons weg en ons voel seergemaak en onaantreklik.” Sy glo nie mans het dieselfde dilemma nie. Sy weet sy kon niks doen om te verhoed dat haar tweede huwelik misluk nie, maar sy het nie ag geslaan op die gevaartekens nie en moes sterker standpunt ingeneem het oor wat sy geweet het goed was vir haar.

Behou realistiese verwagtinge

Wilmé Steenekamp, seksuoloog, meen mense het dikwels té hoë verwagtinge van ’n tweede huwelik. Hulle dink: ‘Hierdie keer het ek die perfekte man – ek sal nooit weer skei nie’ of ‘Gelukkig is sy nie soos my eks-vrou nie – dié keer sal dit werk’. Ongelukkig vergeet hulle dit is twee gewone mense met agtergronde oorlaai met ingewikkelde bagasie wat trou. “Dikwels is daar ’n soortgelyke dinamiek in ’n tweede huweliksverhouding as in die eerste. Ons het uit die eerste huwelik gegaan omdat ons nie reggekry het om hierdie dinamiese prosesse konstruktief te leer hanteer nie, nou betree ons ’n tweede huwelik. Ons dink die nuwe persoon is perfek, die beste ooit, maar omdat ons dalk nie genoeg geleer het in verband met die hantering van probleme of uitdagings in ons eerste verhouding nie, loop ons onsself weer vas teen dinamika-probleme.”

Sy sê daarmee nie dat ’n huweliksmaat nooit regtig ’n verkeerde maat kan wees of onaanvaarbare gedrag verduur moet word nie – in Chanté se geval byvoorbeeld was haar tweede huwelik vanuit die staanspoor gedoem. “Soms is die begrip vir die dinamika tussen twee mense nie genoeg om ’n verskil te maak nie en soms werk albei huweliksmaats nie saam aan die groeiproses nie.”