Vordering vs Resultate

Die voormalige Sprinbok senter Brendan Venter het verlede Vrydag op die webwerf Stuff.co.nz sy mening gelug oor die huidige stand van Springbok rugby.

Daarin het hy onder meer gesê dat die feit dat die Springbokke tans op hulle gesamentlike 7de laagste plek op die wêreld rugby ranglys is, nie vir hom ‘n bron van kommer is nie. Hy is nie besorgd oor ranglyste en resultate nie want hy meet ‘n individu en ‘n span aan vordering en prestasie. Vir hom is die geheim om die proses te volg en prestasiegedrewe te wees.

Volgens Brendan gaan die Suid-Afrikaanse Rugbyraad ‘n groot fout maak indien hulle die huidige afrigter (Rassie Eersamus) se sukses bloot gaan oordeel aan die aantal kere wat die Springbokke wedstryde gewen het, want die Springbokke is nog nie goed genoeg om feitlik al hulle wedstryde te wen nie en daar moet derhalwe geduld aan die dag gelê word.

In ons lewenswedloop voel ons ook soms ook nie elke dag na ‘n wenner nie, of dat ander mense altyd beter is in die hantering van hulle emosie, geldsake, beroep, verhoudings, huwelik, talente, ensomeer. Ons meet dan ons prestasie aan die oënskynlike prestasie van ander en voel dan dat ons tekortskiet.

Die skrywer van die boek Hebreërs was dalk ook ‘n vurige sport ondersteuner.  Hy skryf in Hebreërs 12:1 “…en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus,..” .

Salomo het iets daarvan geweet toe hy in sy wysheid gesê het dat die wedloop nie vir die vinnigste persoon is nie, die geveg ook nie vir die sterkste nie, maar dat tyd en geleentheid daar is vir almal (Prediker 9:11).

Ons moet besef dat die lewe ‘n marathon is, nie ‘n 100m naelloop nie. Tydens ‘n marathon is daar op- en afdraendes, krampe in die spiere, sielkundige faktore wat jou probeer onderkry, ander deelnemers wat lyk of hulle goed op dreef is voordat hulle ‘n ent vorentoe kop onderste bo staan en wil handdoek ingooi, toeskouers wat aanmoedig en dan, natuurlik – die wenstreep. Die wenstreep is die mikpunt. Alles wat jy tydens die marathon ervaar het, is vergete die oomblik as jy die wenstreep oorsteek. Daar is blydskap.

My seun het my verlede geleer dat wanneer jy lang afstande hardloop, is die geheim om nie te stop en doodstil te gaan staan wanneer jy uiters moeg raak nie. Sodra jy voel jy kan nie meer nie, draf net baie stadiger. Indien jy gaan stilstaan, verloor jy momentum. Dit is dan moeiliker om weer aan die gang te kom aangesien jou spiere besig is om koud te raak.

Volgens Hebreërs 12:1 is die eerste aspek van ons wedloop dié van volharding. Nie met die gedagte om elke dag as ‘n volslae wenner van alles wat ek aanpak uit die stryd te tree nie, maar met die gedagte dat ek vordering maak, hoe gering ookal. Dat ek nie stil gaan staan het nie, maar selfs die tye wat dit voel dat ek wou handdoek ingooi, ‘n diep asemteug gegee het en met hernude ywer vorentoe beweeg het.

Die tweede aspek van Hebreërs 12:1 is dat Jesus ons eindstreep is. Nie of ek vandag ‘n bevordering by die werk gekry het, gesiene figuur in die gemeenskap is, die mooiste kar in die dorp ry of die beste atleet is nie. Daar is dus ‘n groter doel vir my wedloop as bloot die deelname.

Op hoërskool was daar net twee seuns in my ouerdomsgroep wat tydens die jaarlikse atletiek die 1200m gehardloop het want niemad kon by hulle kers vashou nie. In my Matriekjaar het ek en twee skoolvriende toe besluit om vir die pret die 1200m aan te durf. Ons was hoegenaamd nie langafstand atlete nie. Almal op die paviljoen het dit geweet en hulle het ons drie tydens die hele wedloop aangemoedig.  Ons kon hulle dus nie teleurstel en sommer na twee rondtes handdoek ingooi nie. Ons moes eenvoudig klaarmaak (al was dit bykans ‘n rondte na die wenner).

In die hemel is daar ‘n hele skare engele wat toekyk hoe jy jou wedloop hardloop en jou elke tree daarvan aanmoedig. Hulle wil sien dat jy by die wenstreep uitkom.

Hardloop met volharding met die wete dat jy elke tree vordering maak. By die wenstreep sal jy jou prys kry.