Vorentoe

Die staproete lyk redelik onskuldig in die helder oggendson. Dis natuurlik totdat ons op 8km te staan kom voor die onverwagse ‘floating bridge’.

My man kruis eerste die rivier met versigtige treë. Die ‘floating bridge’ lyk nou meer soos die ‘sinking ship’ soos wat hy tot by sy heupe wegsink in die groenerige water. Die res van ons bedink die wonderwerk van Petrus wat op die water geloop het en wonder of hy ook ‘n ‘floating bridge’ moes trotseer.

Die res van ons se strategie word nou aangepas om hierdie hindernis te oorkom. Ons draf so rats as moontlik oor die brug. Lyk my dit werk, net ons enkels is nat. Niemand het in die water beland nie. Maar, ons vermoed hierdie penarie gaan ons almal met ‘n paar blase op die tone laat.

Is dit nie soos die lewe is nie? Soms betrap hy jou met ‘n paar dinge waarop jy nie voorbereid is nie. Soms dink jy nie dat jy die hindernisse voor jou sal oorkom nie. Partykeer wil jy liewers piekniek hou langs die rivier totdat ‘n helikopter jou kan kom haal.

Hebreërs 12:1-2 eggo vanoggend in my kop: ‘Die lewe is soos ‘n wedloop. Op die pawiljoen het ons ‘n skare mense wat voor ons met geloof en vertroue in God geleef het. Hulle moedig ons aan om gelowig vol te hou met die wedloop. Laat ons dan ontslae raak van enigiets wat ons hinder om die wedloop van die lewe behoorlik te hardloop. Dit is veral die sonde wat ons gedurig wil pootjie. Laat ons soos die ander gelowiges hardloop met alles wat ons het. Laat ons maar net die wedloop hardloop deur op Jesus te konsentreer. Hy het vir ons gewys wat dit beteken om op God te vertrou en Hy sal ons tot aan die einde daarmee help, sodat ons geloof sal bly wat dit behoort te wees. Dink aan Sy voorbeeld…’

In hierdie wedloop kan jy slegs in een rigting beweeg en dis vorentoe. Die troos is dat jy egter nie alleen hierdie wedloop hoef te voltooi nie. Jy het maters wat saam jou in die water beland, vir jou lag en soms saam jou huil. Maar oor, sal ons oor!

Ons arriveer terug by die wegspringplek en strek ons uit op die groen grasperke. Die kaasbordjie en heerlike koel drinkgoed is lieflik. Ons klere is droog. Die ‘floating bridge’ is vergete. In hierdie week wil ek aanhou vorentoe beweeg.