Vorm ’n goeie digitale voetspoor

652
Rianette Leibowitz

Jou kind se digitale voetspoor kan gesien word deur almal wat jou naam op Google gaan soek. Elke kliek, like en foto kan jou toekoms beïnvloed.

As jy die internet gebruik, maak dit jou ’n digitale burger. Jy gebruik die digitale wêreld om informasie te versprei en deel te wees van alles wat rondom jou gebeur.

Die meeste van die goed wat ons doen, soos internetbankdienste, gebeur deesdae op die internet met die hulp van apps.

Dit lei ons na ’n digitale dilemma, want daar is nie regtig reëls op die internet nie.

Dink ’n bietjie daaroor: wat in jou huis geld en dit wat in iemand anders se huis geld, gebeur alles op dieselfde tyd op die internet.

Hoe lyk ’n digitale voetspoor en hoe vorm dit?

Jou digitale voetspoor vorm elke keer wanneer jy op iets kliek, dit like, stuur of aanstuur. Elke keer wat jou vinger die knoppie druk, is jy besig om nog ’n spoor in die kuberwêreld te laat.

Vir jong mense is dit van kritieke belang, want dit kan hulle toekoms beïnvloed. As ons na die groter prentjie kyk, kan universiteite gaan navorsing doen deur jou kind se naam op Google te soek en te kyk na die profiel wat opkom.

Ook indiensnemingsmaatskappye en werkgewers wil weet wat jy op die internet aangevang het. En natuurlik ook die mense met wie jy nuwe verhoudings aangaan.

Jou kind se profiel op sosiale netwerke soos Instagram en Facebook sal in die Google-soektog wys. Al dié foto’s wat hulle nóú neem, kan hulle dalk later in ’n verkeerde lig plaas of ’n groot prentjie skep wat nie akkuraat is nie.

Maak seker jy weet wat jou beeld is

Dit is belangrik dat jy jou eie naam moet gaan Google, want soms het jy dieselfde naam as ’n krimineel of miskien iemand wat baie beroemd is. Dalk is jy deel van ’n storie wat negatiewe publisiteit gekry het en kom dit moontlik eerste op in die Google-soektog.

Daar is maniere waarop jy die data kan manipuleer. Moet jou nie daaroor bekommer as jou digitale voetspoor nie so positief lyk soos wat jy dit wil hê nie, daar is wel maniere om na die algoritmes wat agter die skerms besig is, te gaan kyk.

Maak hulle bewus van hulle aanlyn aktiwiteite

Natuurlik is jou verhouding met jou kinders die belangrikste sodat hulle kan weet jy dra hulle belange op die hart. Dan is dit belangrik dat hulle moet weet dat alles wat hulle nou doen, moontlik hulle toekoms kan beïnvloed.

Alles wat ons met ons vingerpunt doen, kan moontlik in die hof beland. So ons moet baie goed dink voor ons net kliek, post en share. Dit kan ons digitale voetspore beïnvloed, soos naamskending en persoonlike inligting wat sonder toestemming gedeel word, selfs al is dit net ’n storie wat in die verkeerde lig geplaas is.

Natuurlik moet ons ook bewus wees van die paparazzi wat rondom ons beweeg. Ons is die paparazzi, ons neem foto’s en video’s van ander en hulle doen dieselfde van ons, so, laat ons maar mooi dink voordat ons optree, ’n post skep of ’n oomblik net afneem.

Miskien kan julle huisreëls gebruik word as riglyn vir elkeen om ’n mooi digitale voetspoor te skep.

RIANETTE LEIBOWITZ, SaveTNet Cyber Safety

Kliek hier vir meer digitale ouerskap met Rianette Leibowitz.