E-pos berading

E-pos berading

Hoe kan ons help?

Vroue wat Glo, in samewerking met Gerjo Ben van der Merwe van Kruispad bediening, bied jou die geleentheid om gebruik te maak van ons gratis e–pos berading. Wat jou vraag of probleem ook al is, jy hoef nie ’n dag langer alleen daarmee te worstel nie…

Vra Gerjo Ben

Jy mag anoniem bly en ons sal jou probleem met die nodige respek en vertroulikheid hanteer.

My man was onlangs siek. Die uitslag: Vigs. Ek is stomgeslaan, verneder, woedend. Ons belofte voor die kansel skree in my ore. Wat nou?

Jou trauma laat my dink aan wat iemand eendag gesê het: “As die Here jou op klipperige paaie stuur, voorsien Hy ook stewige stapskoene.” Hierdie is beslis nie ’n rustige wandelpaadjie nie.

Die feit dat jy aan jou huweliksbelofte dink, is die hoop waarna ek in jou hulproep soek. Beloftes word deesdae nie meer ernstig opgeneem nie. Tog bly dit ’n etiese beginsel wat die regte uitkoms kan verseker.

Trek jou beste stapskoene aan. Wees eerlik oor jou rou gevoelens en werk hulle een vir een deur.

As jou man berou toon, kies om hom te vergewe, al is dit moeilik. Die pad is klipperig, maar daar is hoop op ’n nuwe seisoen in julle verhouding.

My dogter het ’n oulike ou ontmoet, maar hy het haar vertel dat hy voorheen seksuele verhoudings gehad het. Hoe help ek haar om dit verwerk?

Dit is ongelukkig deesdae ’n baie algemene verskynsel dat mense voorhuwelikse seks het.

Om iemand af te skryf wat in die verlede seksuele verhoudings gehad het, is nie nodig nie.

Berou, vergifnis en die begeerte om as ’n nuwe mens te leef, kan waardevol vir enige verhouding wees.

Dis belangrik om nie ander aan hulle foute in die verlede te herinner nie. Bou eerder op as om af te breek.

As dit egter ’n patroon of gewoonte is wat steeds nie gebreek is nie, sien die gevaarligte raak. Sy moet baie mooi dink of sy met so iemand in ’n verhouding wil wees.

Ek is ná ’n lang huwelik geskei. Die oorsaak was ontrouheid en pornografie en hy was nie bereid om te verander nie. Maar nou voel ek skuldig.

Jy het ’n dapper pad gestap om so lank uit te hou en om weer en weer te probeer. Jou hemelse Vader ken jou seer en sal jou weer gesond maak. Stap die toekoms in vol vertroue dat jy nooit alleen sal wees nie.

Daar is soveel vergifnis – genoeg om jou én jou man te vergewe. Elke dag is ’n nuwe dag en ons kry elke keer weer ’n kans.

Dié seisoen van jou lewe is nou verby en ek wil jou aanmoedig om ’n nuwe seisoen te omarm. Sonder om toe te laat dat die handrem van skuldgevoelens opgetrek is.

Maak die handrem los, laat staan die skuldgevoelens en lewe die lewe voluit.

My pa is onlangs oorlede. As ek aan hom dink, wil ek in trane uitbars. My kinders voel ek moet met iemand gaan praat, maar sal dit help?

Ek het al ’n paar keer by ’n oop graf gestaan. My pa is oorlede toe ek 13 jaar oud was en my broer drie
maande daarna.
Dit was erg, maar veel erger was die dood van my vriendin op universiteit. Ons was op pad om verloof te
raak.
Ek het baie woede in my gehad, veral vir God. Ek moes in ’n stadium ’n besluit neem of ek voor ’n
vragmotor wat stene vervoer, gaan inry of nie.
Gelukkig het ek besef ek het hulp nodig en  n sielkundige gaan sien.
Vir my het dit baie gehelp. Ons het nie al die tools wat nodig is om alle trauma te verwerk nie.

Ek en my man sit oor alles vas en die kinders kry baie swaar. Hy weier om vir berading te gaan. Moet ons liewer skei?

Speel oop kaarte met jou man. Sê dat jy nie bereid is dat die kinders verder aan julle twee se rusies blootgestel word nie. Dit is beslis nie goed vir hulle om in ’n huis vol spanning te bly nie.

Hy het nou ’n keuse om in te stem tot berading. Anders moet hy aanvaar dat jy en die kinders vir ’n tyd miskien elders moet bly totdat hy van plan verander.

Dit is vir seker nie ’n maklike situasie nie. Maar ’n tweede huwelik neem dikwels selfs meer werk as ’n eerste huwelik om suksesvol te wees. Daarom moet julle regtig alles probeer voor jy die finale stap neem.

As ek op sosiale media al die slegte dinge sien wat gebeur, voel ek so bang vir die toekoms. Hoe kan ’n mens positief bly?

Dit wat in ons gedagtes en hart omgaan, bepaal in ’n groot mate ons optrede. As iets jou weer ontstel, vervang die negatiewe gedagte dadelik met iets positiefs.

Aan die begin is dit nie maklik nie, maar moenie moed opgee nie. Dit raak makliker hoe meer jy dit inoefen.

Moenie passief wees en net sit en tob nie. Erken dadelik wanneer jy in daardie rigting beweeg en doen dan iets wat gaan werk, soos om die tuin nat te lei of ’n tydskrif deur te blaai.

Wees voorbereid, jy weet die bekommernis gaan kom. Veg met mening terug. Jy is in beheer van jou gedagtes, so moenie toelaat dat wat om jou gebeur, jou lewe beheer nie.

Ek moet vir my kliënte ’n e–pos stuur omdat hulle nie hulle rekenings betaal het nie. Hoe doen ek dit? Dis aaklig om vir geld te vra.

Die kruks is, jy het ’n diens gelewer en die kliënt skuld jou. Punt. Almal moet weet dat as hulle die produk ontvang het, hulle moet betaal, anders kry hulle ’n oproep of ’n e-pos.

Baiekeer vergeet mense of dalk vat hulle wel ’n kans. Vra vir wysheid en herinner jou kliënte op ’n mooi manier aan hulle verpligting. Hulle sal gewoonlik wel betaal. Ongelukkig is daar sommige vir wie jy weer sal moet vra.

Hierdie is ’n slegte gedeelte van elke besigheid wat ongelukkig gedoen móét word.

oms is daar natuurlik mense vir wie jy in jou hart sal voel om dit gratis te doen. Doen dit dan met vreugde!

Dit voel asof my lewe net uitmekaar val. Ek voel so alleen en moeg, asof niks wat ek doen, saak maak nie. Help, asseblief!

Jy sal moet hulp kry, en so gou moontlik.

Ek stel voor dat jy na jou huisdokter toe gaan vir ’n deeglike ondersoek. Daar is mediese redes wat die oorsaak kan wees vir dit wat jy tans ervaar.

Indien dit nodig is, kan hy antidepressante aanbeveel sodat jy net weer vastrapplek kan kry om met ’n nuwe hoofstuk te begin.

As daar geen gesondheidsprobleme is nie, moedig ek jou aan om terapie te kry. ’n Predikant of pastoor is ’n goeie vertrekpunt as julle nie ’n mediese fonds het wat vir ’n sielkundige kan betaal nie.

Begin net iewers om ondersteuning te kry. Dis nie nodig om hierdie “stryd” op jou eie te probeer stry nie.