Vra net en God sal supply!

Daar is so baie trane daar buite. In baie huise is daar groot moeilikheid.

Huwelike lê aan skerwe. Derde partye wat inklim en trap waar hulle wil. Kinders mors met hul ouers. Dwelms mors met lewens. Finansies wat in dik rooi minusgetalle lê. Die toekoms wat nie lekker is nie, want die hede lyk nie te goed nie. Siekte wat soos ’n donker wolk net vinnig kom inskuif. Angs wat jou oorrompel. Een of ander tyd staan ’n mens by so ’n kruispad in jou lewe. Wat dan? Waar sal ons hulp kry?

Hier is die antwoord! God sal supply! God sal gee. God is jou Vader. Hy wil nie hê daar moet gate in jou lewe wees nie. Hy wil nie hê jy moet ly en swaar kry nie. Hy wil nie hê dat jy keer op keer jou neus teen ’n toe deur stamp nie. Hy wil vir jou die deur wys wat kan oop. Hy wil self vir jou die deure oopstoot.

Jy moet net klop. Jy moet jou deeltjie gaan doen. Lig jou vinger en klop aan God se deur. Hy sal dit oopmaak.

Ek hoor baie mense sê: “Ek het my vinger al nerfaf geklop en die deur bly toe.” Wag op God. Sy timing is altyd reg. Gaan sit daar by God en weet Hy sal vir jou oopmaak! As jy vra, sal jy ontvang. As jy regtig soek, sal jy kry en as jy klop, sal die hemelse deur uiteindelik oopgemaak word. Want Jesus sê so.

Gaan nou uit en gaan leef die lewe met ’n verwagting dat die deur een of ander tyd oopgemaak sal word en dat God dan met die oplossing in sy hand gaan staan.