VRAAG EN ANTWOORD… Karien Basson

777

Karien Basson, Vroue wat glo se redakteur, wil ander versterk deur altyd opreg te wees in hulle menswees, al verstaan hulle nie die kronkelpaaie van die lewe nie.

MY LEWE IS BETEKENISVOL DEURDAT EK…

’n intieme verhouding met God het. Hoe ek Hom sien en ervaar in my daaglikse lewe, van stiltetyd om vyfuur met Steven Furtick tot vanaand om tienuur in my bed met Sy Woord en met betrekking tot my normale daaglikse dinge.

Ook in verhoudings met familie, vriende en kollegas en mense wat ek ontmoet, by wie ek iets kan leer en saam met my kan vat. Daar is betekenis in die onpretensieuse dinge, die opregtheid van liefde en omgee, die saamhuil en saambid as dinge moeilik gaan. Die lag oor ’n derde glas wyn of ’n vierde koppie koffie as die trane weg is.

Die “small thoughtful things” wat gedoen of gesê word, die onbeplande oomblikke, die verrassings, die beplanning van drome wat verwesenlik moet word en die sien hoe dit waar word.

DAAR WAS NIE EEN KEERPUNT NIE, MAAR…

’n hele paar ontmoetings met God. Dit was in al die moeilikste tye van die lewe dat ek God keer op keer op ’n ander manier leer ken het. God is net te groot en onbeskryflik, soos ’n diamant met baie fasette.

So het ek elke keer God se karaktereienskappe leer ken as ’n Pa en Vriend. Ook as ’n Voorsiener, ’n Geneesheer en die Een wat ongekende vrede en rus gee midde-in ’n lewenstorm.

Ek het besef dat dit belangrik is om verantwoordelikheid te aanvaar vir ’n mens se dade en keuses. Om die moontlike self te doen en die onmoontlike aan God oor te laat. Dis wanneer jy uit Sy kruik begin gooi dat jou lewe ’n bietjie anders lyk.

ANDER MENSE INSPIREER MY…

as hulle buitengewone dinge aanpak: die Comrades-atleet wat 11 uur 59 minute hardloop; die ma wat nooit geld op haarself spandeer nie, maar sorg dat haar kind die nodigste het; die pa wat drie werke sal doen om sy kind se sportkampgeld te betaal.

Mense wat nie altyd dinge oordink nie, maar uit liefde en omgee reageer. Onpretensieuse mense wat gemaklik is met wie hulle is, al maak dit nie sin nie. Mense wat God in hulle lewe eer deur dit wat hulle doen.

Mense wat ongewilde besluite neem omdat dit moontlik die regte ding is. Mense wat nie op sosiale media boer nie. Mense wat vertrou. Almal het ’n rol.

DAAR IS ’N PAAR LESSE WAT MY ALTYD BYBLY…

soos: Jy is nie altyd reg nie. Jy hoef nie altyd alles te verstaan om vrede te hê nie. Jy moet verantwoordelikheid aanvaar vir jou besluite. God bly ’n goeie God te midde van ons omstandighede.

Om liefde en respek te bewys is altyd jou keuse. Vergifnis kom nie vanself nie, ’n mens moet dit kies.

Ons almal wil graag God se grootheid bewys wanneer ons op die bergtoppe dans en die deurbrake ervaar, maar selfs Jesus het Sy letsels gebruik om Sy oorwinning oor die seer te bewys.

Ons almal het daardie hoofstuk waaroor ons nie graag praat nie, maar tog is dit daardie spesifieke hoofstuk met die grootste letsels wat God se goedheid die meeste wys.

MY HARTSBEGEERTE IS VERVUL…

toe ek genader is om destyds by vrouebediening betrokke te raak. Elke vrou wil die hoofrol in haar lewe vertolk en by iets groots en opwindends betrokke wees.

God ken vroueharte. Daarom beloof Hy dat wanneer ons iets aanpak deur Hom en Hom eerste plaas in ons lewe, Hy uitkoms vir ons sal gee.

Met een versie maak Hy vroueharte rustig: En julle sal My soek en vind, as julle na My vra met julle hele hart. En Ek sal My deur julle laat vind, is die woord van die Here (Jeremia 29:13-14). Wat ’n wonderlike belofte!

En nou, op 39, soek ek God met my hele hart in elke situasie van die lewe, en soos Hy belowe het, sien ek nou hoe vrouwees soos asemhaal word!

VROUE IS GOED GENOEG WANNEER HULLE…

besef hulle is goed genoeg vir hulle eie storie. Wanneer hulle hulle waarde besef en wanneer hulle sonder oordeel ongekende, onselfsugtige liefde, geduld en empatie teenoor mekaar bewys, al weet hulle nie hoe dit voel om in ’n ander vrou se skoene te staan nie.

En wanneer ons nie sosiale media nodig het om te wys hoe cool ons is nie.

VROUE IS WAARDEVOL, OMDAT…

ons die hart en emosies van God dra. ’n Vrou se enigste wapens is lof, danksegging en gebed. Dit is die outoriteit van ’n vrou met haar hart gevestig in God se waarheid wat die reuse in haar lewe teenstaan.

Vir elke vrou wat in die skadu van ’n ander persoon moes staan of al onregverdige behandeling ondervind het, wil ek sê: Weet dat die Hemelse Vader na jou kyk en vir jou sê in Sy oë is jy beeldskoon en Hy juig oor jou!

Luister na Sefanja 3:17: Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou.

Dit is tyd dat jy jouself sien soos God jou sien.

MY HOOP IS DAT ELKE VROU SAL WEET…

jou karakter maak vir God saak en om God se wil te doen, is nie altyd maklik nie. Dis ook Maria se lewe wat my twee lesse leer.

Die engel begroet haar met die woorde: “Moenie vrees nie, Maria, want jy het genade by God gevind” (Lukas 1:30). Miskien was sy die een wat vir ’n baie lang tyd in haar lewe ’n hunkering na guns en genade gehad het.

Miskien was haar hart al lankal rustig oor die begeerte dat sy die maagd sou wees wat die Seun van God sou baar, soos die profete gesê het.

Ek kan nie vir seker sê nie, maar wat ek sien, is iemand wat gereed is. Gereed om die wil van God te vervul. ’n Vrou wat geroep is, ’n vrou wat gekies is vir ’n groter doel, al maak dit vir niemand sin nie.

[divider style=”9″]

VROUE WAT GLO

Finesse se Vroue wat Glo-bediening bereik vroue in die middel van ’n besige dag met geloofstories, Bybelantwoorde en aanlyn geestelike selfhelpvideo’s. ’n Vroue wat Gloretreat gee die nodige toerusting om vroue se geloof te verdiep.

Kerk, die Bybel en gebed is voor die hand liggend vir geloof. Maar as jy verder geestelik wil groei, bied Vroue wat Glo jou alles wat jy nodig het.

“Ons is ’n betroubare vriendin wat die uitdagings waarmee jy te doen het, verstaan. Ons sal langs jou stap en jou moed inpraat op jou reis,” sê Karien Basson, redakteur van Vroue wat Glo.

“Ons wil graag almal aan Jesus se hart verbind. Dit maak nie saak wat jou omstandighede is of waar jy vandaan kom nie, jy maak saak vir Hom.”

Op soek na ’n Christelike blog wat vroue help om in hulle geloof te groei? Jy is by die regte plek! Of jy deur teks, video of oudio die Woord wil leer ken, Vroue wat Glo is daar vir jou. Kry antwoorde op jou vrae oor God. Verstaan die Bybel beter. Kry raad oor geestelike kwessies waarmee jy worstel.

Elke mens se geestelike lewe is ’n voortdurende storie van geloof. As jy ander se geloofstories lees, sien jy jou eie reis op ’n nuwe manier. Vertel jou storie deur ’n stempos (voice note) te stuur en luister elke Vrydag na jou en ander se geloofstories.

Jy kry ook elke maand ’n e-pos propvol praktiese wenke oor hoe om die ongelooflike vrou te wees wat God bedoel het jy moet wees. Word deel van ons e-posgemeenskap en kry ’n gratis e-boek Nóú is die tyd deur vroue soos Liesel Krause-Wiid, Lynette Beer en Wanda Bam.

Teken in:

WILLA KRAUSE (Vol 4 Uit 3)