VRAAG EN ANTWOORD… Lizanne du Plessis

572

LIZANNE is ’n arbeidsterapeut, skrywer en Finesse se ouerskapkenner, asook vrou en ma. Sy het geleer dat al wat kinders nodig het, ’n sterk band met hulle ouers is.

VAN MY HERINNERINGE AS KIND IS…

tydens my grootwordjare in Johannesburg as die oudste van vier kinders. Al het ons soms gestry, was ons huis vol liefde. Van kleins af sou ek, met ’n stuk bordkryt in die hand, my jonger broers laat stilsit om iets vir hulle te leer.

Dit het my gelei om uiteindelik ’n beroep te kies waarin ek ander mense kan help om hulle volle potensiaal te verwesenlik. Ek het arbeidsterapie gestudeer, en daar vir Marius, my ridder op ’n wit perd, ontmoet. Ons het nou al baie sakke sout saam opgeëet. Hy reis baie vir sy werk, wat beteken ons moes dikwels trek.

DIE BELANGRIKSTE PAD WAT EK STAP, IS…

Ouerskap. Dit is wonderlik, en ek wou buitendien nog altyd ’n ma wees, maar dit is ook ’n baie groot uitdaging. Dit laat my steier, en laat my dikwels oorweldig, uitgeput en buite beheer voel.

Na jare se infertiliteitsbehandeling het ek swanger geraak. Ons het vandag twee pragtige dogters. Een van hulle het ons laat skrik toe sy vroeg gebore is. Die ander een is oorsee gebore na ’n moeilike swangerskap. Vir eers het ons hier wortelgeskiet om ons tieners groot te maak. Ons kan die meeste oggende wakker word met die son wat skyn en nie in koue, grys weer nie.

WAT MY DIE MEESTE VAN MAWEES VERBAAS HET…

is dat dit dikwels voorgehou word as iets van nature gebeur. Dat jou moedersinstink as’t ware saam met jou baba gebore word. Dat ons met ’n towerslag sal weet hoe om kinders groot te maak. Ons kan wel waarlik lief wees vir ons kinders, maar daar kan nog steeds tye wees dat jy net nie weet wat om te doen nie.

Ek het gou-gou besef dat ek, met my A-tipe persoonlikheid, sou moes aanpas by die eise van moederskap. Jy kan nie deurentyd alles vasvat nie. Dit was belangrik om te leer dat dit in die haak is as dinge handuit ruk en dat volmaaktheid ’n gevaarlike mite is.

ALLES IS NIE VOLMAAK NIE, MAAR DIT BETEKEN NIE…

ek laat dinge aan die genade oor nie. Daar is ’n paar goed in ons huis waaroor ons doelgerig is. Ons het begrip vir mekaar se unieke persoonlikhede en probeer mekaar verstaan. Foute gebeur, maar ons staan op daarna, leer daaruit en gaan aan.

’n Gesindheid van dankbaarheid is belangrik. Ons soek maniere om dankie te sê vir wat ons het en uit te reik na ander wat nie soveel het nie. Ons probeer ook elke dag lag. Soms beteken dit dat Marius flou grappies maak sodat ons tieners hulle oë kan rol of hardop kan lag. Kry ons dit elke dag reg? Dalk nie, maar dis ook oukei.

AS MENSE HULLE KINDERS PROBEER VERSTAAN, VERGEET HULLE…

dat kinders uniek is. Ons as ouers is verskillend en so ook die omgewing waarin ons ons kinders grootmaak. Daar is nie net een ouerskapstyl wat werk nie. Dit help nie om perfek te probeer wees of jouself met ander mense te vergelyk nie.

Daar is wel een ding wat jou kind gelukkig, gehoorsaam, verantwoordelik en sielsgesond kan maak. Dit is ’n sterk verhouding met jou waarin hy veilig en geliefd voel. Jou daaglikse interaksies kan sy brein so verander dat jy hom kan beskerm teen depressie, angs en ander slegte geestestoestande. Jy hoef jou nie oor enigiets anders te bekommer as jy ’n sterk band met jou kind het nie.

EEN DING WAARVOOR EK VIR KINDERS HOOP, IS…

dat hulle meer sal kan speel en hulle minder oor prestasies hoef te bekommer. Hulle dae word deur roosters beheer. Dit kan dalk ’n uitdaging wees om tyd te maak vir hulle om te speel, maar klein veranderings maak al klaar ’n groot verskil.

Dit verg nie baie om vrye tyd in hulle daaglikse programme in te werk nie. Of om plekke te vind, veral buite in die natuur, waar hulle veilig kan voel nie. Dan moet die grootmense natuurlik terugstaan en leer om nie in te meng of beheer oor te neem nie.

DAG-TOT-DAG-OOMBLIKKE MET JOU KIND…

is spesiaal veral omdat my agtergrond as arbeidsterapeut en my passie vir mamma-wees gewys het dat tyd saam met ons kinders van die uiterste belang vir hulle ontwikkeling is.

Aan die begin wou ek soveel moontlik “gehaltetyd” saam met my kinders deurbring. Dit was so erg dat my eie stokperdjies en belangstellings, selfs my vriende, daaronder gely het. Dit was nie realisties nie, en het myself en almal rondom my mal gemaak.

Toe begin ek anders daaroor dink. Daar is mos tye wat ons in elk geval by ons kinders is, ons moet dit net beter gebruik. Om my is daar duisende ander ma’s wat ook te veel hooi op hulle vurk het om dan nog te moet wonder of hulle genoeg doen vir hulle kinders.

SPEEL IS UITERS BELANGRIK VIR KINDERS, WANT…

as hulle speel en lag, word goedvoelhormone vrygestel, wat stres verlaag en groei bevorder. Dit maak nie saak of dit buite in die sand speel, kamma-kamma speel of bordspeletjies is nie. Dit leer hulle vaardighede soos probleemoplossing, selfbeheer, kreatiwiteit en sosiale omgang.

Dit kos nie geld nie en is veilig en eenvoudig. ’n Mens moet net op die uitkyk wees vir sulke geleenthede, soos in die oggende voor skool of wanneer julle saam in die kar ry.

So–o–o oulik en slim

Lizanne du Plessis, ouerskappakket(Gids, video’s, speletjies en oudio’s) R209 R299
[Finesse-vriendinne R179]
Ook beskikbaar as ’n e-pakket R144 R209

voelgoedboeke.co.za | bestel@voelgoedboeke.co.za