VRAAG EN ANTWOORD… Lynette Beer

LYNETTE BEER, motiveringspreker en skrywer, glo sy kan vandag na jare van armoede baie praktiese ervarings deel wat saam met boekkennis, mense help.

NA JARE IN DIE KORPORATIEWE WÊRELD…

is ek gelei om my roeping vandag verder te vervul. Destyds, as een van vier direkteure van ’n internasionale groep maatskappye, het ek ’n toekenning gekry vir die beste besigheidskonsep.
Personeelontwikkeling was my prioriteit in dié besigheid, maar dit is steeds vandag ’n groot passie.

Die besigheidswêreld het my die nodige vaardighede en kennis gegee vir die volgende lewensstap. Kort voor hierdie oorgangstydperk is beide my ouers, my naaste familie, oorlede.

Die maatskappy Seeds of Inspiration is na my uittrede begin. Hierdie saadjies van inspirasie word nie alleen in die besigheidswêreld gesaai nie, maar ook in die lewe van duisende individue.

DIE BEGEERTE OM ANDER TE INSPIREER…

was van kleins af reeds ’n behoefte. In die laerskool het ek een middag in my ouma se huis ’n boek van Kahlil Gibran met die titel Die Profeet ontdek. Hierdie boek het my soeke na kennis geprikkel en my oortuig dat ek ander wil help. Die begeerte was dat mense moet weet dat hulle nie die produk van hulle verlede hoef te wees nie.

Tog was dit vir my ’n stryd, met arm grootwordjare in Despatch. Deur harde werk het nuwe drome wakker geword toe ek nasionale kleure in beide atletiek en netbal op skool verwerf het.

My ouers was groot steunpilare in elke sukses. Hulle was ontsettend hardwerkende mense, wat vir my ’n enorme aanmoediging van jongs af was.

[BLOGS] Kliek hier om ook Lynette se weeklikse blogs te lees.

MY PASSIE IS GEBORE DEUR…

’n geskiedenisonderwyser, meneer Deon Goosen, wat elke Vrydag moeite gedoen het om ons belangrike lewenslesse te leer. Ons het weekliks na sy klas uitgesien! Dit was ontsettend stimulerend en het ’n groot impak op my lewe gemaak. Daardie lewensreëls het ’n leefwyse begin word en dit het bygedra tot my sukses vandag.

Die besluit is toe reeds geneem, om ook ander se lewens te wil beïnvloed met die hoop dat dit mense kan rigting gee tot ’n lewe van sukses en ’n gees van uitnemendheid.

Om teologie en sielkunde in Pretoria te studeer, was deel van God se plan om my ’n leier en voorloper in persoonlike ontwikkeling te maak.

AS SPREKER IS DIE WERK VERVULLEND…

as dit wat ek deel, daartoe bydra dat verhoudings herstel en drome geleef word. Dit maak my hart dankbaar om te sien die saad val op goeie grond.

Daaglikse take behels ’n verskeidenheid van aanbiedinge en werkswinkels oor verskillende temas en by verskeie instansies. My hart is oop vir alle mense wat wil groei, sodat hulle hulle volle potensiaal kan bereik.

Die praatjies raak elke mens. Dit is dinge waarmee almal in ’n stadium gesukkel het of steeds mee sukkel. My hartsboodskap sal ook jou geloof en verhouding met die Here kan versterk. Soos mense die praktiese wenke wat gedeel word, toepas, sal dit hulle lewe en omstandighede radikaal positief beïnvloed.

ARMOEDE HET ’N GROOT INVLOED OP MY GEHAD, OMDAT…

die wete dat indien ek tuis sou bly, daar geen moontlikheid sou wees om my volle potensiaal uit te leef nie. Daar was nie geld vir studie nie. My ambisie was te groot om nie te strewe na beter nie.
Saam met ’n Christelike jeugaksiegroep het ek deur die land gereis en evangelisasiewerk gedoen, waarna die studies gevolg het. Daar moes gewerk word om my eie studies te betaal. Take is in die nag gedoen. Etenstye sou ek by mense gaan kuier om sodoende ten minste een ete ’n dag te kry.

Die deurdruktye maak my dankbaar, want die boekkennis saam met die meul van die lewe het my bemagtig sodat ek ander hoop kan gee.

MY DROOM IS OM VIR SO LANK MOONTLIK…

aan te hou om elke dag ’n verskil in mense se lewens te maak en hulle hoop te gee. Dit klink dalk baie eenvoudig, maar dit is vir my ongelooflik bevredigend om te sien hoe die inhoud ’n verskil in die lewe van mense maak.

Die positiewe terugvoer ná sessies is uiters vervullend, veral wanneer mense sê: “Nou verstaan ek…” of “Ai, ek wens ek het dit geweet toe ek jonger was”.

Ek is vas oortuig daarvan dat sukses bepaal word aan die hand van die getal individue wat jy bemagtig om ook self te kan opstaan en voluit te lewe. Sukses is om gehoorsaam te wees aan jou lewensroeping.

DEUR JOUSELF AANHOUDEND TE ONTWIKKEL…

belê jy in jouself, en neem jy beheer oor die uitkomste van toekomstige situasies. Jy raak hierdeur doelbewus verantwoordelik vir die wyse waarop jy jou lewe aanpak.

Ons moet bewus wees van dit wat ons wil bereik. Kyk na jou waardes en geloofsoortuigings, en maak seker dit stem ooreen met jou drome.

Ons wil elkeen lewenslange geluk ervaar. Dit is hoekom dit nodig is om te weet wie jy is, sodat jy kan weet hoe om jou hartsbegeertes te vervul. My nuwe rubriek Skool van die Lewe neem jou op ’n ontdekkingsreis om jou doelwitte en drome te bereik. Dié reis laat jou hart hoop skep, namate jy meer oor jouself leer.

AS JY MEER DOELGERIG WIL LEEF…

en motivering nodig het, sal die stappe van Skool van die Lewe jou kan help.

Ons elkeen besit die mag om ons volle potensiaal te bereik. Maak daarom vrede met die werklikheid van jou lewe en bevry jouself van valse idees oor jouself.

Daar bestaan nuwe moontlikhede vir elke situasie wat onmoontlik mag lyk. Die tyd is ryp om tot aksie oor te gaan, sodat ’n nuwe realiteit geskep kan word.

Tog benodig ons almal ’n bietjie ekstra hulp, veral wanneer dit kom by verhoudings, finansies en werk. Deur die stappe van Skool van die lewe in jou persoonlike lewe toe te pas, is dit bereikbaar.

[KYK OOK] #3MinuteSelfhelp-REEKS met Lynette Beer