Vraag en antwoord met… Isak Burger

882

Mense vind selfs na baie jare nog aanklank by Isak se boodskappe, want dit gaan oor onderwerpe waaroor hulle elke dag wonder en mee worstel.

My pad is vroeg al gekies toe ek…

as jong seuntjie geroep is om in ’n bidtent te kniel en te bid. Vir ’n onskuldige kind was daar nog nie baie sondes om te bely nie, maar ek het my lewe vir die Here gegee. Dit was so ’n belangrike oomblik dat die herinnering vandag nog helder is.

Dit was by ’n tentdiens saam met my pa. Hy en my ma het elkeen op hulle eie manier die fondamente van my lewe gelê. Hulle het my baie hoë morele waardes geleer, en ook integriteit en werksetiek. Dit behoort so te wees in ’n normale gesin. Jou ouers het die grootste invloed op wie jy uiteindelik word.

Die oomblik wat my lewe het radikaal verander het…

was in my matriekjaar. Ons pastoor het ons besoek en ons het die aand saam gebid. Op my knieë het ek ’n ongelooflike ervaring van God se liefde en nabyheid gehad, en het die volgende oomblik in ’n vreemde taal gepraat. Meteens was ek vol van die Gees, met ’n nuwe passie om te leef en te getuig.

Sonder dat enigiemand vir my voorskrifte gegee het, het my musieksmaak verander en die behoefte aan die gewone klaspartytjies het verdwyn. Dit was werklik ’n nuwe rigting vir my. Dit het my laat besluit om teologie te gaan studeer in plaas van medies, al het dit my een van twee beurse gekos.

Dis belangrik om oor die dood te praat…

want niks in die lewe is sekerder nie. Veral as jy ouer word, besef jy dat elke mens ’n rakleeftyd het. Vir my is die idee van oudword ’n skrikwekkende gedagte. Ek ry nog elke dag motorfiets en is ses dae ’n week soggens in die gimnasium.

Om gesond te leef, reg te eet en te oefen gaan jou nie vir ewig laat leef nie. Ons is almal in die stroom van die lewe. Die maak nie saak hoe hard jy daarteen swem nie, êrens gaan die stroom jou in die see uitspoel. Die vraag is net: Wat dan? En ons almal moet daaraan dink.

Die meeste van my skryfwerk is gebore…

uit preke of ’n reeks preke wat in my gegroei en lyf gekry het en dan ’n boek geword het. ’n Opmerking van ’n ander predikant, dat die eerste vyf minute na jou dood die belangrikste oomblikke in jou lewe gaan wees, het my laat dink. Later het die Heilige Gees met my gepraat en insig gegee toe ons gemeente een aand deur die nag gebid het.

Dit het gegroei in ’n boodskap en ’n preek wat toe by baie kerke bekend geword het. Iemand het uiteindelik gesê dat ek dit op skrif moet stel. Dit was nadat sommige gemeentes die preek op ’n kasset opgeneem en gedupliseer het. Dan het hulle die kassette aan ander mense uitgedeel.

’n Geheim om moeilike onderwerpe aan te pak is…

om seker te wees dat dit is wat God se Woord sê, en om dit dan op ’n aanvaarbare manier te verpak. Die primêre gawe wat Hy vir my gegee het, is om Sy boodskap aan ander mense oor te dra. Ek is nie eintlik die ou wat mense sal vra om seremoniemeester te wees of wat die middelpunt van aandag in sosiale omstandighede sal wees nie. Maar om te preek is ’n inspirasie van God. As die Woord duidelik is, wil ’n mens nog steeds nie aanstoot gee nie, maar dan kan jy nie terugdeins om daaroor te praat nie, solank dit op ’n diskrete manier is.

My grootste ambisie was nog altyd net…

Christus en Sy verheerliking. Dit was nie eers om ’n hoë posisie in die kerk te bereik nie. Op hierdie stadium in my lewe is dit nog dieselfde. Na die aanvanklike impak van die boek het ek gebid en gesê dat as my lewe op daardie oomblik verby moet wees, dit nie tevergeefs was nie.

Dit het my laat besef hoe groot my afhanklikheid van God regtig is. Jesus se laaste woorde was dat Sy werk volbring was. Ek is nog nie op daardie punt nie, ek het trouens nog ’n paar dinge op die hart. Daar is nog meer saad om in die grond te sit, as die Here my die gesondheid en genade gun.

Die dood en die lewe hierna kan …

vir mense ’n tydige wekroep wees. Die Here gee vir ons kanse, en Hy praat ook op verskillende maniere met ons. Sommige mense by wie ’n terminale siekte gediagnoseer word, kry kans om hulle voor te berei, om hulle lewe reg te stel. Ander mense word tot stilstand geruk deur ’n ervaring soos ’n ongeluk of ’n geliefde se dood.

Maar daar is mense wat nooit daardie wekroep kry nie. Hulle gaan op een trant voort en dink dat daar nog baie jare oor is om te leef, en dan kom die dood heeltemal onverwags. Hierdie boek laat mense besef die lewe gaan nie vir altyd aanhou nie, en ons moet dink aan wat daarna gaan gebeur.

Die vraag wat die boodskap opsom…

is: Wat dan? Die dood is ’n werklikheid, en dit kom vir almal van ons, maar wat gebeur daarna? Mense sing ’n ander deuntjie as daardie skaduwee nader kom. Dan speel hulle nie meer toneel nie. Dit het ek in my eie bediening agtergekom, en uit wat mense my vertel het.

Of jy ’n Christen is of nie, binne die eerste vyf minute ná jou dood gaan jy weet of jou geloof die moeite werd was. Dit gaan vir baie mense minute van absolute ontnugtering wees en vir ander oomblikke van blydskap wanneer hulle kan sê: “Dit wat ek geglo en voor gelewe het, was die waarheid.”

Die dood en die lewe hierna

Wat gebeur as ‘n mens sterf? Isak Burger verskaf antwoorde op 59 vrae wat mense het oor kwessies soos naby-dood-ervarings, verassing, die vaevuur, die hemel en die hel.

Kliek op Voelgoedboeke.co.za om die pakket te bestel.