Vredevegter

Onse hoekwinkeltjie het ‘n klein poskantoor-toonbank daarbinne. Maar die vroutjie wat dit beman is seker maar onderbetaal en oorwerk, want die frons betrek permanent die bo-kant van haar gesig en tyd vir vriendelike praatjies is daar nie. Aanvanklik het dit my ontstel, tot ek besluit het: Vir jou gaan ek nog laat glimlag! En so by my kool: Gister het dit so amper gebeur!

Dalk het julle hierdie week die video van die klein Chinese seuntjie op Facebook gesien wat sy huilerige meisie-maatjie se trane met sy hempie afvee. En as sy nog nie beter voel nie, sit hy die grootste, blinkste glimlag op sy eie gesiggie… asof hy haar in dit wil toevou. Dierbaar!

Dis seker hoekom hierdie woorde toe ‘n snaar in my kom raak het:

“See how God’s work, beginning with a single individual, propagates itself
by its effects on the mind,
spreading… first among those nearest to him;
then through them to those remote,
among the rich and the poor,
the living and the dying,
and on through the ages with ever-increasing power and influence.”

So ‘n jaar of wat voor ons troue het ek en ‘n klompie vriende Stranddienswerk gedoen by Uilenkraalsmond naby Hermanus. Vroeg in die oggende sou ons ‘n tou neem en op-en-af deur die karavaanpark loop om die kleinste kindertjies te kry om aan die tou vas te hou en so saam met ons tot by die dag se poppekasvertoning te stap. So maak ons dit vir hulle lekker om vroeg op te staan, en maak ons seker hulle kom by hulle eindbestemming uit.

In my reis deur die Bybel trek ek nou na net so bietjie minder as 2 jaar, by die Psalms. En as ek lied op lied van die skaapwagter van Bethlehem lees, wat val en opstaan en vra vir krag en bevryding en dan die Here prys terwyl hy nog ly, dan kyk ek terug en sien miljuisende mense agter my waar ons vashou aan dieselfde goue draad.

Een mens.
Wat diegene naaste aan hom raak.
Dan ander.
Dan soveel deur die eeue heen.
God se werk.
In een mens.

Een ding wat ek van die Here vra elke dag, vroegoggend, is dat die mense vandag tog asseblief die Here in my moet kan sien. Dat ek tog nie die allerbelangrikste sal wees vandag nie.

Hulle vra hoe ‘n vrou sal weet sy word oud? As sy haar trui aantrek en haar ma se handjies kom by die moue uit.
Ongelukkig val daarmee saam dalk ook ánder, mínder mooie gewoontetjies en maniertjies saam met die tyd soos ou, reeds-gebruikte tissues oral om haar rond.

Dit pla my nou al ‘n ruk en hierdie week draai die aan-knoppie in my kop – want ek het gevra daarvoor, glo ek – en my gebedstaal verander so effens: “Here, laat my mán asseblief vandag vir U in my sien.”

“The Lord will give strength unto his people;
the Lord will bless his people with peace.”
Psalm 29:11 King James Version

Die Here gee ons nie altyd krag om die dag om te veg nie.

Vir jou, mens,
binne jou sirkel van mense,
gee Hy soms die krag om
vrede
te bring.

Jou temalied vir die week: Footsteps

Vorige artikelKan nutriënt-tekorte my vet maak?
Volgende artikelWanneer Jerigo se mure nie val nie
Blogger - Maxie Heppell
Vir baie lank het my lewe nie regtig rigting gehad nie. 'n Gekompliseerde kindertyd, verkeerde keuses en dan die ongelukkige gevolge daarvan, het my gevange gehou. Tot daardie dag dat die Here Sy kind uit die modder opgetel en haar voete stewig op Vaste Rots laat land het. Psalm 40 bly tot vandag toe 'n groot favourite! Dit het my baie jare geneem om uit te kom by dit wat Hy nog altyd vir my lewe bedoel het. Maar nou is ek hier. En ek glo in God Drie-Enig, in die maagdelike geboorte, in Jesus aan 'n kruis, maar meer nog - aan die opgestane Jesus in my eie lewe. Ek glo dat Hy ons weer gaan kom haal en dat ek tot dan die Heilige Gees het wat my lei en my denke help vernuwe. In 2009 behaal ek my B.Th graad in teologie en sedertdien preek ek, praat ek en deel ek oral waar ek genooi word. Ek en my eerste liefde en ons langhaar-vierbeen meisiekinders bly tans op Jeffreysbaai in die Oos-Kaap en ons getuig gereeld: Die Here is nie net goed vir ons nie, Hy bederf vir ons!