Vrees, waar’s jou angel?

Middernagtelike oproepe.
Jou kind se stem van ‘n vreemde nommer af.
Jou ouers se foon wat lui en lui en lui en niemand antwoord nie.

Vrees.

Maar van gister af draai hierdie frase van ‘n liedjie oor-en-oor in my kop: My fear doesn’t stand a chance when I stand in Your love.

Toe dit vanoggend 6h steeds my kenwysie is, dink ek ewe: Dit móét iets vir iemand beteken – ek móét dit deel. En ek doen toe ook so. Min het ek geweet die troos was eintlik vir óns bedoel.

So baiekeer kom betrap die vyand ons onverwags – dalk op die mees weerlooste oomblik in jou lewe, dalk op die deurmekaarste, dalk die stresvolste. Dit is nie maar net toevallig nie. Dit is ‘n fyn uitgewerkte plan om jou van balans af te gooi.

Hy probeer dit al sedert die vroegste tye.

In 2 Kronieke 13 lees ons dat daar ‘n veldslag oppad was tussen Israel in die noorde en Juda in die suide. Die Here God het belowe dat daar altyd iemand uit Dawid se nageslag sou heers in Juda, en in hierdie tydvak was dit dan Abia.

In daardie tyd was dit ‘n gegewe dat voor die eerste bloed spat, daar eers ‘n hele toespraak gelewer word oor presies hoe hard die ander kant sou val. En Abia is ook nie op sy mond geval nie:

“ ‘Julle leër is wel baie groot, maar julle gode is daardie goue kalwerbeelde wat Jerobeam
vir julle gemaak het. Daarby het julle die priesters van die Here en die Leviete weggejaag.
Julle stel sommer julle eie priesters aan, net soos die vreemde nasies in ander lande.
Enigiemand wat daar by julle opdaag met ’n jong bul en sewe ramme kan, as hy wil,
’n priester word vir daardie sogenaamde gode van julle.
By ons is dit heeltemal anders: die Here is ons God en ons bly steeds gehoorsaam aan Hom. Ons priesters kom almal uit die nageslag van Aäron en die Leviete doen diens by die tempel. Hulle offer elke oggend en elke aand diere en geurige wierook vir die Here; hulle sit gereeld offerbrood op die tafel wat daarvoor skoongemaak is en hulle steek elke aand die lampe van die goue kandelaar op.
Ons doen presies wat die Here ons God vir ons sê, maar julle het Hom verlaat.’ “
2 Kronieke 13:8 Die Boodskap

Maar Jerobeam, Abia se aardsvyand, het hom nie veel gesteur aan al hierdie woorde nie. Terwyl dit alles aan die gang was, het hy ‘n hele leër gestuur om ágter die soldate van Juda te gaan stelling inneem en hulle onverhoeds te betrap.

Kan jy jou voorstel hoe verras en beangs die soldate moes wees toe hulle omkyk en hier waar daar nou net nog niks was nie, is daar skielik soldate met wapens en oorlogskrete en moord in die oog.

Vir ‘n oomblik – te verstane – sou hulle seker gevries het.
Gevrees het.

Maar dan lees ons:

“Toe Juda agterkom dat hulle van voor en van agter aangeval word, het hulle tot die Here om hulp geroep. Die priesters het hulle trompette geblaas en die manne van Juda het ’n oorlogskreet aangehef. God het Jerobeam en die hele leër van Israel ’n neerlaag teen Abia en Juda laat ly.
Die leër van Israel het voor Juda uit gevlug en God het hulle in die mag van Juda oorgegee…
…Juda het Israel verslaan omdat hulle op die Here die God van hulle voorouers vertrou het.”
2 Kronieke 13:15 NLV

Hulle vries. Hulle vrees. Maar dan werp hulle hulself voor die Here se genade en Hý gee vir hulle die oorwinning.

En as bevestiging gee die Here self hierdie week se temalied in my hart:

“When darkness tries to roll over my bones
When sorrow comes to steal the joy I own
When brokenness and pain is all I know
Oh, I won’t be shaken, no, I won’t be shaken

My fear doesn’t stand a chance
When I stand in Your love
My fear doesn’t stand a chance
When I stand in Your love
My fear doesn’t stand a chance
When I stand in Your love!”

Jou temalied vir die week: Stand in your love

Vorige artikelEk vat die pad
Volgende artikelHoe om… Wat ons nie verstaan nie?
Blogger - Maxie Heppell
Vir baie lank het my lewe nie regtig rigting gehad nie. 'n Gekompliseerde kindertyd, verkeerde keuses en dan die ongelukkige gevolge daarvan, het my gevange gehou. Tot daardie dag dat die Here Sy kind uit die modder opgetel en haar voete stewig op Vaste Rots laat land het. Psalm 40 bly tot vandag toe 'n groot favourite! Dit het my baie jare geneem om uit te kom by dit wat Hy nog altyd vir my lewe bedoel het. Maar nou is ek hier. En ek glo in God Drie-Enig, in die maagdelike geboorte, in Jesus aan 'n kruis, maar meer nog - aan die opgestane Jesus in my eie lewe. Ek glo dat Hy ons weer gaan kom haal en dat ek tot dan die Heilige Gees het wat my lei en my denke help vernuwe. In 2009 behaal ek my B.Th graad in teologie en sedertdien preek ek, praat ek en deel ek oral waar ek genooi word. Ek en my eerste liefde en ons langhaar-vierbeen meisiekinders bly tans op Jeffreysbaai in die Oos-Kaap en ons getuig gereeld: Die Here is nie net goed vir ons nie, Hy bederf vir ons!