VROUE PRAAT OOR… Die lewe van ’n huishulp

1288

Elkeen van ons kan ’n storie vertel van ’n huishulp wat ’n invloed op ons gehad het. Dalk was dit Emily wat sulke lekker frikkadelle kon maak as jy by jou ouma gaan kuier het, of Lucy wat saam met jou gehuil het toe die lewe sy rugkant vir jou gewys het.

Elkeen van ons kan ’n storie vertel van ’n huishulp wat ’n invloed op ons gehad het. Dalk was dit Emily wat sulke lekker frikkadelle kon maak as jy by jou ouma gaan kuier het, of Lucy wat saam met jou gehuil het toe die lewe sy rugkant vir jou gewys het.

Baie volwassenes onthou getroue nannies wat daar was om die trane af te vee terwyl Ma gewerk het. “My ander ma” en “my gebedsvriendin” is algemene beskrywings. Maar hoe goed ken jy jou huiswerker? Ons het by Victoria Ramosie, Annah Monyane, Anna Moeletsi en Esther Mqalanga gaan aanklop om hulle kant van die storie te hoor.

Bring jy genoeg tyd saam met jou eie familie deur?

VICTORIA Al kan ek nie elke naweek huis toe gaan nie, sien ek hulle baie. Met die Paasnaweek het ek Lesotho toe gegaan om by my boetie te gaan kuier. My mamma en pappa leef nie meer nie, maar my boeties en my sussie is darem nog hier. Hulle gee vir my verlof in Desember, dan gaan ek na my eie huis toe. Die gesin by wie ek werk, koop altyd vir my ’n buskaartjie om huis toe te kan gaan daar anderkant Bloemfontein by Reddersburg. Dit is vir my so lekker as almal daar saamkuier, van my kinders en kleinkinders tot by my oumas.

ANNAH Ek is baie gelukkig om by my kinders in Sebokeng te kan bly. Ons is almal elke aand saam by die huis en spandeer dan lekker genoeg tyd saam. Op die oomblik werk ek twee dae ’n week by Tilla en dis baie lekker. Sy gee my baie lekker kos en as daar iets is wat ek wil hê, kan ek maar net vra. Dis baie snaaks – ek lag so – want sy het haar kind geleer om elke oggend self sy bed op te maak voor hy skool toe gaan. Ek mag dit nie doen nie. As hy vergeet, moet dit net so gelos word.

ANNA Ek is ook baie gelukkig om saam met my gesin in Sebokeng te kan bly. Ek werk deur die dag en sien hulle dan elke aand. My ma lewe ook en ons kuier ook baie saam. Dit is nog net my jongste wat in die huis is, die ander kinders is nou al groot. Maar hy is nou in graad 12 en is my babatjie. Dis lekker om elke aand by my mense te kan wees.

ESTHER Ja, ek bly by die huis waar ek my gesin elke dag sien. Dis baie lekker. Daar is vyf kinders by die huis. Een seuntjie en vier dogtertjies. Dis vir my baie goed om so ’n groot gesin te hê. Maar sjoe, hulle kan baklei! En dit was baie erg, want in 2013 het my huis afgebrand toe ek by die werk was. Me Ronel en haar familie het my baie, baie gehelp, soos my eie familie. Dis hoekom dit my so bly maak om daar te werk. Hulle is vir my my pa en my broer, my oom en antie. Hulle maak my hart baie bly.

Kan jy vir almal sorg met die geld wat jy kry?

ANNAH Nee, ek kan nie. Ons kry nie genoeg geld in ’n maand nie, want my man is werkloos. Gelukkig ek het baie werk by verskillende mense deur die week. Maar dis ekstra moeilik, want my een seun is nou ’n eerstejaar by Vaal Tech en die kleintjie moet nog crèche toe gaan. Vervoer is ook baie duur, maar wat kan ’n mens doen? Jy weet, gelukkig is ek ’n vrou en sal ’n plan maak. Dit is goed, want dit is hoe die lewe is. Ons moet kan planne maak.

VICTORIA Geld is altyd ’n probleem. Niemand het meer geld nie, maar ek het darem nog ’n werk. As ons net by die huis gesit het, was daar niks geld nie. Maar niemand kan seker ooit genoeg geld kry nie, want alles is baie duur. Vir ons is dit moeilik, want ons kry pay en dan 15 dae later is alles op en moet jy weer leen. So, ons bly in die skuld. Ek sê dankie, Here, want ek kry salary as die maand klaar is. Dis beter as niks nie en dis altyd beter as jy kan werk. Ek like hierdie werk van my.

ANNA Die geld wat hulle my betaal, hou nie die hele maand nie. Maar ek kan nie huil of kla nie, want hulle help my as ek nie het nie. Hulle help my baie mooi en sal vir my groceries en goed vir die kinders koop. Dis baie jare wat ek vir die gesin werk en hulle het my gehelp om my kinders groot te maak en baie goed vir my kinders gekoop. Alles wat hulle nodig gehad het. Gelukkig is my kinders nou groot, ek het nog net die een seuntjie by die huis. Ek werk vir goeie mense, hulle betaal en help my mooi.

ESTHER Die geld is nooit genoeg nie. Ons het nie geld nie, maar sodra ek salary kry, vat ek 10% en gee dit vir die kerk. Daardie geld is God se geld. Dis my motto. Daarna sit ek die geld wat oor is, op die tafel neer en roep my kinders. Dan sit ons saam en sit die geld opsy vir alles wat betaal moet word. Dan weet hulle waar die geld heen gaan en verstaan hulle as ek sê daar is nie geld nie. Hulle moet geleer word sodat hulle moet weet waar elke sent heen gaan.

Wie kyk na jou kinders as jy by die werk is?

ESTHER Ek gaan in die oggende al sesuur werk toe; daarom moet die kinders vieruur wakker gemaak word sodat hulle skoon en netjies aangetrek kan wees. Dan moet hulle tot seweuur wag voordat hulle skool toe gaan. In die middae gaan hulle na ’n ander ouma toe wat na hulle en ’n paar ander kinders kyk. Ek is so vieruur by die huis en dan kyk ek of hulle huiswerk gedoen is. Hulle leer dan tot agtuur en dan weet hulle hulle moet gaan slaap. Ek self gaan slaap eers twaalfuur, want ek moet eers bid voordat ek gaan slaap.

ANNAH Ek kry gewoonlik so teen kwart oor ses in die oggend ’n taxi werk toe, want my werk begin halfsewe. My man is op die oomblik werkloos, maar hy help my baie met ons jongste kind en sorg dat die kleintjie betyds by die crèche kom. Ek is gewoonlik so halfeen in die middag by die huis en dan word my eie huis skoongemaak en word die kleintjie weer gaan haal. Ons ander kinders is al groot. Die een op Vaal Tech kyk na homself en die ander een werk as verpleegster in Boksburg.

VICTORIA Toe my kinders klein was, het my ma nog gelewe. Sy het hulle grootgemaak toe ek in 1983 begin werk het. Nadat my man my gelos het, het ek gelukkig werk gekry. Toe was daar nie ’n ander keuse as om die kinders by haar in die Vrystaat te los nie. Dit het my so bly gemaak dat sy my kon help. Sy het my kinders grootgemaak en ek het die mense by wie ek werk, se kinders grootgemaak. Maar hulle is nou al almal uit die huis uit. My jongste seun, Thabo, is getroud en het ’n dogtertjie, Tumi. Hulle bly in die Noord-Kaap.

ANNA My man het nog altyd gesukkel om ’n werk te hou, so, ek het baie gesukkel toe my kinders klein was. Dit was vir my baie moeilik om my kinders groot te maak. Gelukkig het die Lotterings, by wie ek werk gekry het, my baie gehelp met my kinders. Hulle het mooi vir ons gesorg. My kinders is nou groot en het almal geleer. Maar toe hulle klein was, was dit vir my baie swaar.

Voel die mense by wie jy werk vir jou soos familie?

ANNA Ja, hulle voel asof hulle my regte familie is. Ek werk al meer as twintig jaar vir hulle en is veral lief vir die drie kinders, want hulle is deur my grootgemaak. Dis altyd ook baie lekker om met Eugene en Louise te gesels.

VICTORIA Die mense by wie ek werk, voel soos my eie familie, want ek werk al 25 jaar by hulle. Hulle kinders is deur my grootgemaak en die grootmense voel soos my ma en pa. Ek is baie lief vir hulle almal en hulle is lief vir my familie ook.

ANNAH Tilla voel vir my soos familie al werk ek nou maar eers amper vier jaar daar. Sy het twee seuntjies en hulle voel soos my eie kinders. Gelukkig is hulle ook nie stout nie, maar laat my altyd lag. Ons lag heeltyd saam en dit maak dit lekker om daar te werk.

ESTHER Daardie mense is my vriende en my familie. Hulle kyk baie mooi na my, selfs as ek siek is. Veral Ouma was goed vir my, sy was soos my ma. Ons het altyd eers Bybel gelees en gebid voordat ek begin werk het. Ek bid nog steeds elke dag vir die hele familie.

Hoe goed ken jou werkgewers jou? Gesels julle baie?

ANNA Ons gesels baie, sommer oor enigiets. As iets per ongeluk breek of verkeerd loop, dan sê ek hulle dadelik en dan kan ons dit regmaak. Al die jare kan ek ook met al my probleme na Margaret toe gaan, dan sit ons by die tafel en praat. Sy het my al baie gehelp as my ma siek is of ek of een van die kinders. Sy sal my sommer dokter toe ook vat. Ek gesels net so lekker met die kinders ook, maar hulle is ook nou al groot. Hulle is soos my eie familie.

VICTORIA Sy is nie net my werkgewer nie, sy is my maatjie. Ons gesels elke dag terwyl sy klere ontwerp en maak en dan deel sy sommer vir my ook lappe uit. Ek en die kinders kuier net so lekker, want ek is hulle tweede mamma. Hulle kom baiekeer na my toe met hulle probleme. My gunsteling is Nadia, sy ken my die beste en weet wanneer voel ek nie lekker nie. Hulle praat mooi met my en ek met hulle. My ma het my geleer ’n mens sê nie goed wat ander mense se harte seermaak nie.

ANNAH Ons kan lekker gesels so tussen die werkery deur. Die oudste seun studeer in die regte en ek sê vir hom hy praat te veel, dan sê hy vir my: “Ouma, dis die law, ek moet baie praat.” Sy boetie is nog op skool en ek moet hom altyd help om sy goed te kry, soos sy skoene. Dan sê sy ma hy is lui, want hy kan nie self sien waar hy dit gesit het nie. As die kinders by die huis is, dan vra hulle altyd ek moet vir hulle krummelpap maak op ’n Vrydagmiddag. Dan kuier ons baie lekker.

ESTHER Ons kan vreeslik baie gesels by die huis. Party dae word dit al laat en dan sê Ntate: “Kyk die tyd. Jy gaan jou bus mis, maak klaar.” Nou se dae is hulle net twee by die huis, want die kinders is al getroud en my ouma Lina is oorlede. Wanneer dit nie goed met my gaan nie, of iets my hartseer maak, dan sê ek dit vir hulle en dan gesels hulle met my tot ek beter voel. My hart word seer as een van hulle siek is. Dis nou net ons drie oor en ons staan saam.

Wat maak jou kwaad van die tye waarin ons leef?

ESTHER Ek weet nie meer of ek in Suid-Afrika of in ’n ander land wil bly nie. Jy sien mos die petrolprys is hoog en al die dinge is deurmekaar. Dis moeilik. Dit maak my bang om aan ons kinders se toekoms te dink. Ons gaan nie kos kry nie, want die mense daar bo voel niks vir ons nie. Hulle kyk net agter hulleself en nie na die mense nie. ’n Mens kan ook nie meer rustig slaap nie. Ek is bang. Ons hoor elke dag van nog mense wat doodgemaak is. Niks is meer reg in die land nie.

ANNAH Ek is bekommerd oor die kinders. Hulle gaan skool toe en leer, maar hulle kry nie werk as hulle klaar geleer het nie. Daar is net so ’n bietjie kontrakwerk en as die kontrak klaar is, dan is hulle weer sonder werk. Ons weet nie wat ons kan doen nie. Die president doen niks, hy kyk net na sy eie familie. Daar is niks goeds in die land nie. Dit is baie sleg.

VICTORIA Ons kinders leer so hard met die kleingeld wat ons het, maar ons president doen niks nie. Hy vat die geld vir homself. Hy bly in mooi huise in Nkandla, maar die mense is honger. Ons land is terrible. Dit is nie mooi nie. Ons kinders het groot sertifikate, waarvoor ons baie betaal het, maar hulle kry nie werk nie. As jy nie werk nie, kan jy nie eet nie. Die kinders is honger. Die misdaad sal minder wees as almal se mae vol is. Ek weet nie of dit sal beter wees as ons ’n ander president kry nie, want almal daar bo eet die geld.

ANNA Dinge het baie verander vandat ek begin werk het. Daardie jare was daar altyd werk en kos. Nou is daar nie werk nie. Al die kinders het toe skool gegaan, nou kry jy swart kinders oral langs die pad. Die ander ding is, ons kry genoeg geld, maar ons kan niks maak met die geld nie. Hierdie demokrasie maak my kwaad, selfs al het ek help baklei daarvoor. Ons het baklei vir ’n lekker lewe, maar dis nie lekker lewe nie. Die tyd wat hulle apartheid noem, was ’n lekker lewe. Daai tyd het ons alles gehad by my ma se huis. My pa het gewerk, my ma het gewerk. Ons het altyd gewerk, maar nou, al is jou kind geleerd, kry sy nie werk nie.

Hoe gaan ons deur hierdie moeilike tye kom?

ESTHER Ons kan niks maak nie, maar ons kan bid. Ons gaan net bid. Die Here moet ons help. Ons bid elke dag die Here moet help dat al die moeilikheid gou sal verbygaan. Ek glo al die slegte tye gaan ook verby. Ons gaan weer ’n nuwe Suid-Afrika kry, ons moet net aanhou baklei op ons knieë, dan gaan ons wen.

ANNAH Wat kan ons anders doen as om te bid? Ons moet net elke dag bid en die Here moet hoor. Dis baie hard, maar ek dink alles sal weer eendag regkom. Miskien as van die mense daar bo ’n bietjie in die spieël kyk, sal hulle besef wat hulle doen en dan sal dit beter gaan.

VICTORIA Ons land is baie, baie moeilik. Die mense baklei en hulle brand alles af. ’n Mens wonder soms hoe moet jy aangaan. Tog, ons dink regtig die Here sal vir ons ’n antwoord gee, want ons het nie meer antwoorde nie. Ons moet Hom net vra dat Hy sal help dat ons land weer regkom. Regtig, kom ons bid almal dat dit weer sal regkom. Dit sal as ons bly glo in die Here. Dis die Here van gister en nou en ons moet onthou, Hy is nog die Here vir ons.

Wat sal jy wil verander aan jou werksomstandighede?

ESTHER Ek werk elke dag en daar is niks wat hoef te verander nie. My mense weet as ek die dag moeg is, dan vat ek dit rustiger en maak klere. Dis lekker om met die naaimasjien te werk. Hulle weet ook ek gee nie om om in die kombuis uit te help as die kombuiswerker nie opgedaag het nie. Ek sal enigiets vir hulle doen, want hulle is my familie.

ANNAH Ek doen alles in die huis. Baiekeer as die vensters gewas moet word, sal ek self kies om spesiaal op ’n Saterdag daarvoor in te gaan. Ek doen ook die wasgoed en strykwerk. Niks moet verander nie.

VICTORIA By my werk werk ek soos ek wil. As ek te moeg is om iets te doen, verstaan my mense dit. Die werk is baie lekker en daar is nie probleme nie. Dis asof dit my eie huis is. Ek weet wat ek wanneer moet doen en ken my werk. Niemand vertel my wat ek moet doen nie en niemand vra hoekom ek iets nie gedoen het nie. Hulle ken my. Hulle weet as iets nie vandag gedoen is nie, dit môre gedoen sal word. Alles hoef nie op een slag gedoen te word nie. As ek Maandag wasgoed was, dan stryk ek Dinsdag. Niks hoef te verander nie.

ANNA Ek werk baie lekker, maar om die vensters en mure te was is nie so lekker nie. Gelukkig hoef dit nie elke week gewas te word nie. Dis baie harde werk en ek is nie meer so jonk nie. Dit sou beter gewees het as iemand anders my daarmee kon help.