Vroue praat oor… eetversteurings

1538

Eetversteurings is die grootste oorsaak van dood onder psigiese toestande. Dit is ’n stadige, uitmergelende siekte wat ook uit ooreet, obsessiewe gesond-eet, ekstreme oefening en bulimie bestaan.

Ons het die bloed van die mure afgewas

Willa van der Merwe

Mense oordeel maklik, maar agter daardie ekstra kilogramme is daar gewoonlik ’n storie. Hier is myne…

My ouers is geskei toe ek nog baie klein was. Ongelukkig was drank ’n probleem. Verbaal, fisiek, emosioneel is my ma deur my stiefpa aangerand. ’n Paar keer moes ons haar bloed van die mure afwas.

Toe begin die vattery. Dit het eers begin as hy my by die skool kom haal. Met sy hand op my been sal hy dit bietjie-bietjie opskuif tot by my panty. Dit het aanvanklik gehelp om my been weg te skuif, maar later het dit het net meer en meer gebeur.

Dis waar die etery begin het. Ek wou nie mooi wees nie, wou nie dat hy aan my raak nie, en al oplossing was om myself vet te eet.

Die dag toe my ma uitvind, het hy mal geword. Hy het haar met die telefoon teen die kop gestamp toe sy haar ouers wou bel. Met my hondjie in my rugsak het ek na my ouma-hulle geloop. Vir die res van my hoërskooljare het ek by hulle gebly. My skoolwerk het verbeter, maar kos was steeds my vertroosting. Twee jaar later is hulle uiteindelik geskei. My ma het by haar eie woonstelletjie ingetrek.

“Vandag maak ek jou vrek. As ek jou nie kry nie, sal niemand nie,” het my stiefpa haar ’n week voor my eindeksamen by die werk gaan dreig. Niemand het hulle eintlik daaraan gesteur nie, want hy het baie gedreig, maar daar het nooit iets van gekom nie.

Maar daardie dag was anders. Voor die Spur het hy haar drie keer geskiet. Sy het by die dood omgedraai, maar die Here het haar nog ses jaar vir my gespaar. Hy is op borgtog van R2 000 vrygelaat, maar die lêers het weggeraak…

Vandag is ek gelukkig getroud met twee pragtige dogtertjies. Ek is nog steeds oorgewig, maar het besluit om met iemand te gaan praat en by ’n gim aangesluit. Dit was die beste ding ooit, want hierdie ekstra kilogramme is nie wat my my maak nie. Ek hoef nie meer lelik of vet te wees nie. Niemand kan my seermaak nie.

Ek was te swak om skool toe te gaan

Leila Spangenberg

Dit het geleidelik gebeur. Myns insiens was ek die lelike, vet eendjie in ons vriendekring, en ek wou gewig verloor om soos my vriendinne te lyk.

Dit was egter nie net ’n swak selfbeeld wat uiteindelik tot my anoreksie gelei het nie. Daardie graadagtjaar was baie stresvol. My pa, wat spierdistrofie het, is ook met velkanker gediagnoseer en sy gesondheid het baie verswak. Die enigste beheer wat ek oor die wêreld om my gehad het, was die besluit oor wat en hoeveel ek sou eet.

Eers was dit net alle junk food en koolhidrate. Geleidelik het ek minder begin eet tot ’n halwe appel soms genoeg was vir ’n hele dag.

My ma het agtergekom daar is fout en my na professionele mense geneem, maar die dieetkundige se eetplan was vir my onaanvaarbaar. Saam het ons besluit om te fokus op dít wat ek wel bereid was om te eet. Met die veganistiese eetplan het ek ten minste opgehou om my kos weg te gooi, maar gewigstoename het baie stadig gebeur.

Later was skoolgaan uit omdat te veel kalorieë verbrand is. Die meeste van die tyd het ek net in ’n klein hopie op die bank gelê. Musiek, een van die groot liefdes in my lewe, was glad nie eers in my gedagtes nie.

Die keerpunt het gekom toe ek nie eers saam met my ma winkel toe kon gaan nie. Die wil om gesond te word was daar, maar fisiek het ek net 34 kg geweeg. Een voet was letterlik in die graf. Stadig maar seker het ons kos met ’n hoë energiewaarde by my bestaande dieet gevoeg. Dit het my gehelp om gewig op te tel. Toe al my liggaamsfunksies teruggekeer het na normaal, was ek sterk genoeg vir die gim. Nou is dit oefening wat my spiere bou.

Vandag, ’n jaar later, is daar steeds dae voor die spieël dat ek vir myself so vet soos ’n vark lyk. Gelukkig herken ek daardie stemmetjie van negatiwiteit. Daar is nie ’n manier dat daardie gedagtes ’n mikrofoon kry nie. ’n Mikrofoon is daar vir sing, wat ek deesdae weer doen.

Ek wou soms kos in haar mond afdruk

Leonie Spangenberg

“Dit is een ekstra ding in my lyf,” het sy histeries geword toe sy daardie dag jogurt saam met haar pilletjies moes eet om dit af te sluk.

Die vermoede dat iets fout is, was reeds lankal daar, maar dit was die oomblik wat ligte baie rooi begin flikker het. Die inligting oor anoreksie op die internet het my bang gemaak. Baie bang. My dogter wou nie glo dat sy dit het nie. Sy het dan nog steeds geëet en sy was nog nie ondergewig nie.

Die siekte het baie ver ontwikkel voordat sy besef het daar is ’n probleem. Dis asof sy haar net nie gesteur het aan die dokters en sielkundiges se waarskuwing dat sy miskien eendag nie kinders sal kan hê of doodgaan nie. Sy het voor my weggekwyn tot ek dit nie meer kon hanteer om haar te sien bad nie – ’n fyn, brose vel oor ’n geraamte gespan.

Die enigste uitweg was om saam met haar te veg en nie teen haar nie. Party van die diëte wat terapeute voorgeskryf het, het nie sin gemaak nie. Die doel van hierdie eetplanne is om die pasiënt vinnig gewig te laat aansit, maar deur sjokolade en tjips by die dieet in te sluit, was vir my verkeerd. Mense met eetversteurings het juis ’n vrees om gewig op te tel.

Ons het saam besluit op wat sy bereid was om te eet en het stelselmatig saam met die hulp van ’n dieetkundige nuwe gesonde kos by haar eetplan gevoeg. Dit was ’n baie lang proses, want sy moes van voor af leer eet. Al was haar kop “reg”, het sy steeds gewig verloor.

Daar is ’n ultimatum gestel: Of sy begin om meer te eet en gewig aan te sit of sy word in ’n rehabilitasiesentrum opgeneem. Ek het geweet dis nie die oplossing vir haar nie, want sy het geestelik al so ver gevorder. Dit was net ’n kwessie van meer eet.

Dit het baie geduld en tandekners gekos om te kom waar ons vandag is. Opgee en tou opgooi was net nooit ’n opsie nie… die dood ook nie.

Twee sentimeter het my oor die afgrond laat gaan

Ginnais Roelofsz

Tevergeefs probeer ek toe hou, maar twee hande is nie genoeg om orals by te kom nie. Die Japannese vrou se hande is ongenaakbaar koud soos sy elke stukkie van my lyf meet. Toe sy daardie dag weer ’n keer meet, het ek geweet iets is fout.

“You are going home on the next flight back to South Africa.”

En dit alles oor twee sentimeter. Twee sentimeter! In daardie selfde week het ek opgehou eet.

Vyftien jaar oud met ’n kontrak om oorsee modelwerk te doen. Enige tiener se droom, maar waar daar in Milaan vir my gesê is dat ek te “skinny” is, was twee sentimeter in Japan te groot. Die vlug Suid-Afrika toe was ’n verskriklike vernedering. Ek het soos die grootste mislukking gevoel.

Dis erg om hieroor te praat, want anoreksie is my “donker geheim” wat ek al vir jare wegsteek. Ironies genoeg is anoreksie daar oop en bloot vir almal om te sien. ’n Mens loop met baie wanpersepsies rond. As iemand uit simpatie na jou kyk, interpreteer jy dit as jaloesie. Soveel dinge, soveel mense, het ek in die proses om my geheim weg te steek, verloor.

Dit was soos ’n speletjie. ’n Papgedrukte graanvlokkie met ’n bietjie melk in ’n bakkie in die wasbak was ’n manier om my ouers te “uitoorlê” terwyl ek die enigste een was wat daaronder gely het.

Uiteindelik was dit hulle wat daarop aangedring het dat ek na ’n rehabilitasiesentrum toe gaan. Dankie tog daarvoor, want nie net het dit my verhouding met kos herstel nie, maar ek het soveel ander goed geleer soos om daardie haatspraak en afbrekende gedagtes stil te maak. Ook hoe om emosies soos verwerping te hanteer.

Vir ’n ruk lank is ek aangeraai om ’n bietjie op my eie te wees. ’n Hondjie en ’n tuin is onder andere deel van my helingsproses, want hulle is afhanklik van my. As my plante nie water kry nie, gaan hulle dood. As ek nie eet nie, eet Riley nie en dan gaan hy dood. Dit alles het my gehelp om kos nie as ’n vyand nie, maar as die bron van lewe te sien.

My vriendin se dood het my lewe gered

Cari Corbert-Owen

Hulle praat so sag. Suutjies staan ek nader om te hoor wat hulle sê: “Sy gaan eendag groot borste hê,” maak ek tussen die fluistering uit. Ek kyk af na my elfjarige lyf en vermoed dat groot borste nie ’n goeie ding is nie. Daardie oomblik was die eerste stap om my op hierdie pad van selfvernietiging te plaas. Oor my dooie liggaam sal ek ooit vet wees.

Woorde wat letterlik gevaarlik naby aan die waarheid gekom het…

Die tweede sneller wat my op die uiteindelike pad van anoreksie gesit het, was die onskuldige woorde van ’n kêrel: In ’n brief het hy my vertel hoe goed ’n bikini aan my lyk. Toe raak ek bekommerd oor hoe ek gaan lyk oor nege maande wanneer hy my weer sien.

Die eerste drie dae is erg, maar daarna kan nie eens ’n craving vir sjokolade jou laat afsien van jou plan nie. Dis ’n skelm siekte. Selfs aan ’n koshuistafel met ’n klomp meisies om my het ek die kos so goed weggesteek dat niemand dit agtergekom het nie.

My vriendin Janet, wat saam met my in die koshuis was, het gekompeteer oor wie die maerste was. Sy was egter baie langer. Op ’n dag het sy net verdwyn. Later sou ons hoor sy is dood.

In daardie stadium het ek 21 kg geweeg. My storie is anders as die deursnee-anoreksieleier s’n, want Janet se dood het my so geskok dat dit nie vir my moeilik was om weer te begin eet nie. Dit het my genees van anoreksie, maar nie van obsessiewe diëte oor die volgende twintig jaar nie.

Jare later, as ’n kliniese sielkundige, het dit maar net so gebeur dat ek in die behandeling van eetversteurings begin spesialiseer het. Om uiteindelik die skaal te kon weggooi het lank geneem. Geluk het van binne my gekom en was nie meer afhanklik van hoe ’n instrument my dikteer om te voel nie. En dit is so lekker om te eet wat jou lyf nodig het en nie die goed wat op ’n eetplan staan nie.

Raad vir lyers en die geliefdes van mense met ’n eetversteuring

Kyk uit vir subtiele tekens. Om ’n eetversteuring in stand te hou, moet die persoon baie geheimsinnig wees, maar daar is wel aanduidings as jy so iets vermoed. Die heel belangrikste is die reëls oor kos. Daar is ’n duidelike onderskeid oor wat goed en sleg is. In die geval van binge eating sal ’n hele pak koekies of beskuit deur die nag opgeëet word. Of iemand bring na etes baie tyd in die badkamer deur.

Sekere persoonlikheidstipes kan meer vatbaar wees vir eetversteurings. Mense verskil, maar dit gaan bitter min daaroor om die “perfekte lyf” te hê. ’n Swak selfbeeld, gekombineer met ’n alles-of-niks-benadering tot die lewe kan tot ’n ongesonde verhouding met kos lei. Om jouself kos te ontsê, verg ongelooflike wilskrag. Perfeksioniste kan moontlike kandidate wees om ’n eetversteuring te ontwikkel.

Die aanbreek van puberteit is ’n sensitiewe fase. Die meeste eetversteurings begin tydens puberteit, wanneer die liggaam veranderings na volwassenheid ondergaan en die emosionele druk van die lewe toeneem. As gevolg van wetlike regulasies waaraan rehabilitasiesentrums moet voldoen, was dit in die verlede moeilik om adolessente in klinieke op te neem. ’n Paar maande gelede het die Akeso-groep, wat ook Montrose Manor besit, ’n sentrum eksklusief vir adolessente begin, wat in ’n groot nood in Suid-Afrika voorsien.

Daar moet balans ten opsigte van kos en die lewe gevind word. Met terapie kan iemand met ’n eetversteuring die vaardighede aanleer om negatiewe selfspraak te stop. Daar word ook klem gelê op die feit dat hulle nou hulleself kan beskerm op ander maniere as om kos te gebruik.

Wat kos betref, probeer ons so min moontlik reëls daaroor maak omdat “beheer” so ’n groot deel van die siekte uitmaak. Dit is voldoende as ’n kliënt drie gebalanseerde maaltye en drie versnaperings per dag eet. Dit gaan daaroor om balans te vind.

Linda Swanepoel, arbeidsterapeut